Nuuskommentaar: Saboteer jou eie saak

Oproerpolisie probeer betogers onlangs voor die hof in Parys weghou. Foto: Mariné Jacobs

Oproerpolisie probeer betogers onlangs voor die hof in Parys weghou. Foto: Mariné Jacobs

In ʼn brief in Volksblad spreek Jan de Klerk van Kroonstad, wat ook die borgaansoek van die “Parys vier” gaan bywoon het, die mening uit dat hy meen die “vloekende” betogers wat die vierkleur geswaai het en “Die Stem” swakkerig aangehef het, was nie boere of eens van Parys nie. Hy meen hulle is van elders aangery.

De Klerk het self niks teen die Vierkleur of “Die Stem” nie, maar hy het dit daarteen dat die mense deur hul optrede tot die vlak van die EFF- en ander betogers gedaal het, teenoor wie hy sy mond nog erger uitspoel.

Dit lyk of die Parys-gebeure, vreemd genoeg, kwalik buitelandse nuusdekking gekry het en ʼn mens wil amper sê, “dankie tog”, veral teen die agtergrond dat die feite oor wat tot die gebeure by die hof aanleiding gegee het, nog nie op die tafel is nie.

Nuusdekking het selfs binnelands gewissel. Sommige media het geskryf die swart betogers het “Kill the Boer” begin sing en die wit betogers het toe daarop gereageer. Ander het die volgorde andersom geplaas. De Klerk sê die swart betogers het eerste begin skoor soek.

In die eiendomswese word soms gesê iemand se huis is soveel werd as die swakste huis in die omgewing. Dis eintlik beter om te sê ʼn swak versorgde huis trek die eiendomswaarde van ander huise in sy omgewing af.

Ongelukkig geld min of meer dieselfde beginsel in die ideologiese wêreld. Internet-ghwarre kan byvoorbeeld ʼn saak met baie meriete, wat deur ordentlike mense en kundiges op die tafel geplaas word, onmeetlike skade berokken, selfs al steun hulle die saak eintlik. Dit gaan oor maniere en wyses van doen. Dikwels weet die ghwar duidelik nie eens mooi waaroor dit gaan nie.

Hiermee word nie net na “regses” verwys nie. By geleentheid het ʼn kommentaarskrywer op Maroela in kwalik verdoeselde haatspraak teenoor swart mense na Bybeltekste verwys om effektief te probeer wys dat swart mense eintlik nie mense is nie. Sy sluit dan af: “Hoekom kan almal nie maar saamstaan en vir die DA stem nie?”

Haar inskrywing moes as haatspraak verwyder word en daar is geen manier waarop die DA hom met haar skrywe sou versoen nie.

Tydens een van AfriForum se aksies om sake soos plaasmoorde onder Europeërs se aandag te bring, kry ʼn jongman wat by ʼn selfverdedigingsinstelling betrokke was, die geleentheid om sy saak in ʼn Europese TV-onderhoud te stel. Hy maak sulke wilde stellings dat AfriForum hom daarvan distansieer. Hy ontken onder meer die Joodse volksmoord – iets wat in baie Europese lande ʼn strafbare oortreding is. So word enorme skade aan die Afrikaner se beeld en sy saak aangerig.

Die jong man se ondersteuners reageer met woede op die kritiek, veral dié wat uit Suid-Afrika kom.

As die Afrikaner hom as entiteit wil laat geld wat volkeregtelik sy minderheidsregte wil uitoefen, moet hy noodwendig ʼn beeld van fatsoenlikheid handhaaf. Geen beskaafde land sal byvoorbeeld ʼn dronkie as diplomaat na, argumentsonthalwe, Denemarke stuur waar hy aangeklam vir ʼn paar ongelukke verantwoordelik is nie. En nog minder rug styf maak as die gasheerland vra dat hy herroep word of andersins van diplomatieke immuniteit gestroop word sodat hy vervolg kan word nie. Om rug styf te maak vererger net die verleentheid vir die land.

Suid-Afrika was egter al in soveel diplomatieke verleenthede dat die land se aansien aangetas is. Die Afrikaner wil nie saam verguis word nie.

Of ʼn mens dit nou wil weet of nie, elke Afrikaner is ʼn diplomaat vir die Afrikanersaak. Hy moet dus deurlopend opweeg of sy doen en late die saak skade gaan berokken of  ʼn aanwins gaan wees.

Oor sekere sake sal daar nooit eenstemmigheid wees nie. Om “Die Stem”, nou ʼn FAK-lied, te sing, gaan by sommige mense baie goed af. Vir ander en nie net die Seunse Weenkoor nie, is dit skadelik.

Waaroor daar wel min of meer eenstemmigheid is, is dat skolliegedrag, rassistiese opmerkings, haatspraak en sommer blote kômmingeit ʼn saak enorme skade kan berokken.

En dit kan die Afrikaner nie bekostig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Berhalet Beukes ·

Wat ‘n briljante artikel wat ‘n nuwe tendens kolskoot raakvat!

Berhalet Beukes ·

Ek het Herman Toerien vir sy skerpsinnige skryf vernuf geprys… Ironies dat jy een spesifieke woord uitkies om ‘n debat uit te probeer lok. Nie geïnteresseerd nie dankie. ;-)

Abrie ·

Ek stem heeltemal saam. Niemand gaan jou respekteer as jy die heeltyd mense vloek of sleg sê nie. Maak ook asb ook eers seker van jou feite voor jy iets kwyt raak. Google dit en heg die skakel aan sodat mense nie jou stelling as snert kan afmaak nie.

Rynhardt ·

Die moleste by hof in Parys was beplan.Wittes met vierkleurvlae het konfrontasie met swart polisielede gesoek en EFF het weer gevloek en moeilikheid met wittes gesoek.Ek glo vas daar was agente in albei groepe wat die vuur behoorlik gestook het! Agente word groot bedrae geld betaal om moeilikheid te stook om n bepaalde agenda te bevorder!

Abrie ·

Die is ‘n baie goeie voorbeeld van iemand wat seker weer net dele van die artikel gelees het en dan kommentaar lewer oor iets wat glad nie eers enige verwandskap met die artikel het nie.
Sy aanval was nie op blankes nie maar op mense wat hulle eie saak in die voet skiet deur snedige, haat of ander neerhalige opmerkings te maak. (Soos joune.) Hy het slegs die blankes as voorbeeld gebruik.
Hy was by die hof om sy steun vir die 4 te wys…. Waar was U?
Hier is die oorspronklike brief van Mnr de Klerk: http://www.netwerk24.com/Stemme/Briewe/vloekende-vierkleur-swaaiers-na-parys-ingevoer-20160114
Daar is ‘n ou Afrikaanse gesegde: As jy niks goed het op te sê nie bly eerder stil.

Jacques ·

Ek kan nie meer saamstem met die artikel nie. 100% in die kol.

Ek sê swak taalgebruik is n toonbeeld van n swak karakter.

Ongelukkig sal die brandewynbrigade ons Afrkaner se goeie naam weggooi.

Flippie ·

Is jy doodseker – het jy Afrikaners voor die hof sien brandewyn drink – was jy ooit daar?

Of is jy een van daardie heiliges wat net praat en niks doen nie.

En goeie taalgebruikers se karakter is onbesproke DIT IS ONSIN EN ONWAAR. Julle probeer nou mense te karikaturiseer en dit is diskriminerend.

Moet asb nie saadjies van selhaat hier kom strooi nie

Boerseun ·

Dankie Abrie, dis n mooi stukkie maar op n webwerf nie deel van die hoofstroom media so bewys dit die Afrikaner he eenigsins n goeie naam, ek dink nie so nie? Die wereld voel n veer en jy sal aanhou gebrandmerk word vir wat jou voorouers gedoen het( n moslem is n terroris en Afrikaaner n rasis ). Dat die store nie in wereld media tyd geniet nie se al klaar vir jou hulle voel n veer.

Maar julle mis die punt. Die ANC en EFF was daar, en natuurlik die DA montstuk netwerk 24, net oor dit amper verkiesing is.

ANC gebruik die witgevaar taktiek, en die DA die “ver regses”. Hens ook die ewe skielike dringinde ondersoek om rasime hok te slaan maar ,”kill the boer” word by n sekere partye se onlangse vieringe gesing. Jy kan maar gaan oplees wat voor voorige verkieseing gebeur het. Rynardt dink ek nie is te ver af met sy “agents” teorie nie.

Flippie ·

Ek wil net weet waar het ons beskaafde en redelikheid ons gebring? Hoe lyk dit met die skole, met die univesiteite, met regstellende aksie ens.?

Is dit wat jy propageer – “Tot die dood toe ordentlik”? Ordentlikheid tot nadeel van jouself is een ding, maar ordentlikheid tot nadeel van ander en jou nageslag is maar eintlik verraad.

Piet Retief was ordentlik – Andries Pretorius nie. Kies maar.

Wees dus ordentlik en opgevoed en redelike tot op ‘n punt waar die rede, opvoeding en ordentlikheid irrelevant en nutteloos raak.

My pa het gesê in enige konflik kom daar ‘n tyd wat jy jou arms moet lig om jou te verdedig en jou vuiste bal om jouself te laat geld.

Abrie ·

Ek hoor jou en verstaan jou frustrasie. Pretoruis was oordenlik en is daarvoor beloon:
“In January 1840, Pretorius with a commando of 400 burghers, helped Mpande in his revolt against his half-brother Dingane. Mpande and Pretorius defeated Dingane’s army at the Battle of Maqongqo, which forced Dingane and those loyal to him into exile, after which Dingane was soon murdered. Immediately thereafter, Pretorious announced that Boer territory in Natal had been greatly enlarged due to the terms agreed with Mpande for Boer assistance.” Hoe sou dit afgeloop het as hy Mpande ook aan geval het gesê het: “Alle swartes is dieselfde?”
https://en.wikipedia.org/wiki/Andries_Pretorius
Piet Retief het net te veel in ander mense geglo. Dit het sy dood veroorsaak. Maar hy het ‘n help gestref. Sonder sy dood sou die geskiedenis heel anders gewees het.
“Tot die dood toe oordentlik” is beter as om jou siel te verkoop vir grond. Maar ek sê nie ons moet terug staan nie dat hulle oor ons loop nie. Ek sê, as ons ‘n “battle” kies moet niemand vingers na ons kan wys en sê: “Nee wat!!!! Hulle is ‘n klomp rasistiese barbare. Ons wil nie ons hulp aan hulle saak verleen nie.” Hulle moet kan kyk en sien dan ons die klomp is wat onderdruk word en hulp nodig het. Ek is trots Afrikaans en sterf vie die land en my mense maar ek sal nie my beginsels opgee nie.

Chrisjan ·

Ons mag nie dit word waarteen ons veg nie, dan het ons verloor.

Sus ·

Ek stem saam met jou Flippie! Pasop maar net om nie ‘ordentlik’ en ‘on-ordentlik’ en ‘commin’ te verwar nie.

Danie Kok ·

Ek het ‘n selfoon video gesien van die gebeure wat duidelike wangedrag van die EFF en die ANC ondersteuners bevat, terwyl die boere kalm en rustig was. Die dame wat die video geneem het, het die boere juis geprys oor hul goeie gedrag. Is Jan de Klerk se weergawe bo verdenking? Ek ruik ‘n rot, een wat weereens Afrikaners wil beklad vanuit Afrikanergeledere. Ek het dit ook teen ‘n gevloekery en ongedissiplineerde gedrag maar ek skaar my eerder nogtans by my eie mense, vratte en al. Dieselfde “Afrikaners” wat hul eie mense hoon en slegmaak, rep geen woord van afkeur oor die barbaarse gedrag van die EFF en die ANC nie. Ons volk moet begin ruggraat kry…

Avril-Pta Noord ·

Danie ek stem 100% met jou saam, daar is te veel ruggraatlose blankes onder ons. Soos jy terreg se daar het GEEN kommetaar van hulle kat jeens die EFF of ANC se optrede nie, maar al wat blanke wat kommentaar lewer, word sleg gese. Ek skaar my liewer by daardie paar blankes wat die stem, al was die sonder noot, as saam met van die persone wat net kritteseer.

nic ·

Danie, ek was daar. Ek sou nooit die manne met die vierkleur kritiseer nie omdat ek aan dieselfde kant van die doringdraad as hulle gestaan het. Ek was egter eintlik diep in my hart bietjie jammer dat daar hoegenaamd vlae of embleme aan die boere en Boere se kant was. Ek het gevoel ons het ons werklike morele hoégrond oor die plaasaanval effens prys gegee deur ook goedkoop politiek te pleeg soos wat die ANC en EFF, aan die anderkant van die doringdraad gedoen het. Ek het ook gevoel ons het daarmee tot op hulle vlak gedaal. Ek is ñ groot voorstander van Die Stem, maar weereens was daai platvorm in my opinie nie die regte geleentheid nie omdat die media ons gelykstel met die EFF, hulle sing ‘Kill the Boer…’ en ons sing Die Stem. Ek is dood ernstig as ek sé dat ek dink ons kon by hierdie geleentheid baie meer politieke punte verwerf het, en meer aandag getrek het op ons saak as ons doodstil gestaan het sonder vlae. Maar dis my opinie- nogtans is ek bowenal baie dankbaar vir elkeen wat opgedaag het.

Johanw ·

Stem saam. Skaar my baie eerder by my eie mense al is sommige effens grof. Ons gaan nerens kom met mooi woordjies nie. Rug styf maak en konfronteer. Of ons gaan bly verguis word, selfs deur ons eie mense.

Bruno Stef ·

Al wat ek wil se IVM die hele aangeleentheid is dat die voorsanger van die STEM lelik vals is en nie n noot kan hou nie.As julle dan die STEM wil sing kry iemand met n goeie stem soos bv Steve Hoffmeyr om voor te sing en tree gedissiplineerd op.

Helen ·

Nope!

Steve vra te veel…. Ons moet ons eie ding doen hukom altyd iemand betaal om iets te doen?

Reinhardt ·

Beste stuk wat jy in n lang tyd geskryf het Herman!
Toe ek die ander dag die vraag op sosiale media stel oor hoe sou Boere reageer as die Parys-moord nie wit op swart was nie, maar swart op swart. Toe word daar vir my gesê dit maak nie saak nie want dit is nie my mense nie. Dit is die probleem met ons land. Moord is moord, maak nie saak teen wie nie.

Boerseun ·

Stem Flippie – Wat het die wangdraai die Boer in die sak gebring. Plaas moorde, ontneming van taalregte, verloor van skole, universiteite instellings, geskiedenis om maar n paar te noem.

Eintlik al g@tvol geluister hoe jammer en ordentlik ek moet wees.

Reinhardt ·

Ons het nie nodig om jammer te se nie. Nie meer nie, ek dink nie so nie.
Wat ons wel kan doen is om te lei deur n goeie voorbeeld te stel.
Die ander kulture moet na Afrikaners kan kyk en sê: Jis, ek wil meer soos hulle wees.”
Slegs op hierdie manier gaan ons ontslae raak van die verlede. Ons mag dalk selfs ander kulture oorreed om Afrikaans as eerstetaal aan te neem.

Boerseun ·

Reinhardt – Dit is n mooi droom. Om westerse beginsels te kan volg moet jy daarin glo, sterke om ander Afrika volke te laat voel hulle wil “meer soos ons wess”.

Jou idees is gestaaf dat ons in SA in n ethopia almal gaan kan saam bly en almal mekaar se kultuur anvaar. Ma hy, ons het darm n goeise verhouding met one tuin jong en huishulp, en betaal hulle meer as die minimum lone ne.

Pieter ·

Die geskiedenis het al telkens gewys dat dit gewoonlik die agitators is wat eerste die aftog blaas daar waar die tekkie die teer slaan. Daar waar die eerste skote klap, die eerste kind sy lewe verloor, die eerste pensioen verdamp, die eerste strandhuis afbrand, die eerste DSTV afskakel… Julle moet pasop. Julle het nog baie méér om te verloor as wat julle dink. Hierdie is komplekse probleme wat oorwoë en wyse oplossings benodig. Indien julle só veglustig wil voortgaan, doen dit dan met die belofte dat jy persoonlik verantwoordelikheid sal neem vir die gevolg van jou veglustigheid. Die gevolg soos van toepassing op elke ander Afrikaner en die groter Suid Afrika. Wanneer ek jou persoonlik aanspreeklik kan hou vir my huis wat brand, my werk wat nie meer bestaan nie, my mediese fonds en bank wat die pad gevat het, my kind se universiteit wat nie meer bestaan nie…Dan sal ek jou ernstig opneem. Intussen dink ek maar net dat die veglustiges is ‘n bol wind. Daar is baie meer opregte, volhoubare en beskaafde maniere om die dinge te hanteer.

François ·

Moenie daal na daardie vlak wat jy ook aangesien sal word as ‘n barbaar, ‘n skollie & bloot net met kómmingeit ‘geseënd’ is nie. Herman Toerien het dit in sy artikel mooi gestel.

Dit wil egter vir my voorkom of die klomp ‘Vierkleur’ swaaiende, ‘Die Stem’ singende, vloekende ‘betogers’ wel ‘n kwessie van ‘Rent a Crowd’ was. Ek glo nie die opgevoede, opregte boere in Parys-distrik sal hulle aan so-iets skuldig maak nie. Hulle besit te veel integriteit wat nie betwyfel moet word nie.

Nog ‘n kwessie wat my pla is die ding van almal wat afgaan oor die ‘moord’ op die twee aanvallers. Hulle het dan volgens alle berigte & aanduidings nog geleef, want die ambulans is deur die polisie ontbied om hulle af te voer hospitaal toe. Moet die ergste aanklag dan nie manslag wees nie? En wie moet aangekla word van die so wat 20-40 wat op die alarm gereageer het & wat op die toneel was? Watter bewyse & getuienis teen wie?

En los die saak vir Landdros Pillay. Sy het baie goeie getuigskrifte vir Parys. Sy weet wat sy doen. Sy het dan klaar haar geduld met die SAP in die saak vir borgaansoek Dinsdag verloor.

Loeis ·

As van die betogers nie werklik simpatiseerders met die boere is nie, wie is hulle dan? Dis uiters kommerwekkend, om die minste te se.

Jan Kroonstad ·

Ek lag lekker.
Ek was daar en was midde in die eerste onderonsie en het dit ook op video.
Die vlagswaaiers het almal dieselfde vlagstokke gehad en die vlae is op dieselfde manier vasgemaak. Hoe toevallig! Ek val geen van my eie mense aan nie, maar moet asseblief nie dom wees nie. Doen iets prakties vir jou mense, ondersteun Solidariteit, of Orania, maar moet nie mense aanry om jou vuilwerk te doen nie!
Andries Pretorius draai in sy graf om as hy sou hoor wat se taal die mense gebruik en die tekens wat hulle wys. Hy was n gelowige mens nie n lieplapper nie!
Groetnis

Pieter ·

Herman Toerien is doodreg. Ek het al die kommentaar hierbo gelees en is weereens verstom hoe min insig sommige mense het. Ek reken dat daar nog altyd mense was met min insig. Ongelukkig is dit deesdae baie maklik om jou gebrek aan insig op kommentaarblaaie en sosiale media platvorms ten toon te stel.

pietie ·

jan,,,,,,, dink mooi,,,,, gun elkeen van ons sy manier van doen, almal was nie so bevoorreg soos jy met goeie opvoeding nie, daai ouens volgens jou wat hul wangedra het, soek na ‘n leier en sal na jou luister as jy daar leiding geneem het, ek waarborg jou, as jy so mooi met hulle daar en dan gaan praat het soos jy nou hier bo geskryf het, sou meeste luister, en ons wat daar agter gestaan het sou jou ondersteun het, en nou nou sou jy sien daar bedaar die dinge, sien eerder die positiewe raak in daai ouens, want dis die tiepe ou, wat jou vrou sal gaan help as sy beroof en aangerand word voor kroonstad spar. boerseun jou pa is reg soms moet mens na lang besin….. jou vuiste bal, dis in ons gene, as jul carte blanche so hele paar maande terug gekyk het, daar is bewys dat deur dna kan hul vasstel is jy ‘n warrior of nie, en daar is ouens wat net eenvoudig ‘n warrior is hy kort net ‘n leier. EN JA,, ORDENTLIKHEID, SKAAM KRY, TERUG STAAN, WAAR HET DIT ONS GEBRING, NOU WORRY HULLE OOR WAT DIE BUITELAND SIEN EN DINK……….

pietie ·

jammer boerseun, dis flippie se pa wat vir hom gese het soms moet jy jou arms lig en jou vuiste bal. ek het dit darem reggestel. voorspoed.

nic ·

Herman, puik! Ek het egter een vraag. Hoe kan ons Afrikaners ons ‘…beeld van fatsoenlikheid…’ verbeter. Wie kan dit afdwing of reguleer. Seker nog moeiliker, wie besluit oor waar lé die ideale vlak van fatsoenlikheid? Nietemin dink ek elke Afrikaner organisasie en spesifiek hul leiers behoort jou artikel te lees en daaroor te besin. Ons almal weet mos ons volk gaan voorentoe in groot getalle saamstaan, en dan sal ñ effense beter vlak van ‘fatsoenlikheid’ nogal wenslik wees.

Liesl ·

Stem 100% saam met Chrisjan. Ons mag nooit soos hulle word nie.

Dirk T ·

Daardie vlag swaaiende, singende manne word nou gekritiseer? In ‘n land waar jou identiteit, jou godsdiens, jou vermoë om brood op die tafel te sit stelselmatig en openlik van jou weggeneem word. Openlike rassisme en diskriminasie. Daaglikse moorde is die orde van die dag.
Indien daar enige insig was sou daar besef wees dat daardie Stem wat gesing word, daardie vierkleur wat geswaai word daardie manne terugneem na ‘n tydperk waar hulle patrioties was, ‘n eie identiteit gehad het, harde eerlike werk gedoen het, nie magteloos toegekyk het terwyl jou taal en jou godsdiens weggeneem word nie, of in vrees lewe oor geliefdes wat vermoor word nie.

Pieter ·

Ek dink dis duidelik uit die kommentaar dat die reg op protes of die reg om vryheid van uitdrukking of van spraak nie die issue is nie. Die punt wat die skrywer maak is dat, gegewe hy erken dat die Afrikaner sekere probleme wil aanspreek en gehoor wil word, hulle dit dikwels op die verkeerde MANIER doen. ‘n Manier wat meer gereeld méér skade aan hul saak doen as wat dit mag help om dit op te los. Ek dink die kommentaar is akkuraat.

Sakkie du Plooy ·

Ek het geen probleem met die Vierkleur nie. Dis deel van ons geskiedenis. Maar ons is nou verby die Vierkleur en ons pragtige Oranje-Blanje-Blou vlag en het by 2016 gekom. En Die Stem is pragtig, ‘n Afrikaner volkslied en ons moet dit dikwels sing, veral die laaste strofe. Maar ek het ook die gevoel gekry die Vierkleur (almal dieselfde model?) en Die Stem het niks bygedra tot die saak van Afrikaners wat hulleself en hulle makker verdedig het deur aanranders te vang in ‘n welbeplande operasie. Die Stem en die Vierkleur het die Netwerk24’s onder ons en ander wat Afrikaners (en dikwels alle Blankes) verafsku iets gegee om teen ons aan te tyg. En die harde rassistiese moordkrete van EFF en ANC ondersteuners is op slinkse wyse daarteenoor gestel en daarom as aanvaarbaar voorgehou. Wat dit NIE is nie! Ons sal moet leer om slimmer op te tree in massasituasies. Ons sal MOET ordentlik optree want dit is ‘n kenmerk van Afrikaners met Christelik Westerse waardes. Dit beteken NIE ons is slaprug nie! Ons voorouers het getrek na vryheid en geveg vir vryheid, letterlik geveg teen Britse Imperialiste. Ons mag nie stilsit nie. Maar as ons saamstaan en betoog moet ons onberispelik wees. Ek reken dit sou ordentlik gewees het as minstens 50 Afrikanerbetogers op Parys plakkate gedra het wat op geen onduidelike manier vir almal laat weet het ons gaan ons nie deur plaasaanvalle en moorde laat intimideer nie. En ons het niemand se grond gesteel nie. Elke boer het met sweet die plaas opgebou waar hy en sy mense woon. Ons sal moet begin deelneem aan massa optogte, dis die taal wat die ANC verstaan. Maar dan met wysheid sonder om ons en ons mense verder te benadeel in ‘n baie onvriendelike omgewing.

Johannes Meintjes ·

Die goeie nuus is besmoontlik dat al meer landsburgers hulself wil uitdruk en wil laat geld na jare se breinspoeling en onderdrukking deur die kerk en die staat. Tans word die tendens skynbaar deur manipuleerders agter die skerms uitgebuit. Die slegte nuus is dat intelligente denke en deurdagte uitsprake nog ‘n baie ver pad van “ewolusionere” ontwikkeling en sinvolle perspektief na vore het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.