ʼn Werknemer van die Sol Plaatjie-munisipaliteit in die Noord-Kaap wat van bedrog en korrupsie van miljoene rande aangekla word, is op borgtog vrygelaat.
Theodor Robert Williams (48), ʼn tegniese assistent in die boubeheer-afdeling, het Donderdag in die Kimberley-landdroshof verskyn en is borgtog van R2 500 toegestaan.
Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder vir die Valke, het gesê Williams is Woensdag deur die Valke in hegtenis geneem nadat minstens tien slagoffers die munisipaliteit genader het wat betaal het vir die optrek van bouplanne of die goedkeuring en hertekening van bestaande bouplanne.
Die bedrae is glo aan Williams oorbetaal, maar daar is geen dienste gelewer nie.
Verdere ondersoek het ook aangedui dat Williams voorheen drie jaar tronkstraf uitgedien het vir diefstal. Hy word ook daarvan aangekla dat hy nie dié inligting bekendgemaak het tydens sy onderhoud in 2008 nie.
Die waarde van die bedrog wat hy gepleeg het tesame met sy salaris tussen 2008 en 2017 beloop meer as R2,2 miljoen.
Die saak is tot 24 Februarie uitgestel.
HY MOET NET NIE MET N DOODSKIS GEVANG WORD NIE
Dis ALLES as gevolg van Korrupte amptenare wat hom ‘korrup’ aangestel het. Jammer, maar dis deesdae die stand!
Daars baie diefstal en korrupsie; party mense word net nie uitgevang nie!! maar slim vang eendag sy baas!!
Geen borg … le beslag op al sy goed