Hierdie mielie-en-kaaskoekies is ʼn lekker winterontbyt, veral as jy die kleingoed wil verras.
Lewer 25-30 koekies
Bestanddele:
- 420 g (1 blik) geroomde suikermielies
- 140 g (250 ml) bruismeel
- 5 ml bakpoeier
- 2 eiers
- 100 ml melk
- sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- 125 ml fyngerasperde Cheddarkaas
- 45 ml olyfolie om te braai
Metode:
- Plaas die suikermielies in ʼn groot glasbak en sif die droë bestanddele bo-oor.
- Roer die eiers en melk by en meng deeglik. Geur na smaak en roer die kaas by. Dit is ʼn redelik loperige beslag.
- Verhit ʼn braaipan oor matige hitte, voeg 10-15 ml van die olie by en laat dit warm word. Skep lepels vol beslag op die boom en braai tot borrels bo-op vorm. Draai om en braai tot goudbruin en gaar.
- Dreineer op kombuispapier en hou warm. Herhaal met die orige beslag en voeg nog olie by soos benodig. Moenie die koekies te groot maak of te veel olie gebruik nie.
- Sit voor as ʼn ete met ʼn slaai, as peuselhappie of bygereg saam met worsies, frikkadelle of hoender.
Variasies:
- Vervang die bruismeel met semelryke bruismeel en voeg ʼn bietjie ekstra melk by, indien nodig.
- Roer 100 ml fyngekapte ham, salami, gaar spek of gedreineerde tuna by die beslag.
- Jy kan ook 30 ml gekapte vars of 5 ml droë gemengde kruie of tiemie by die beslag roer.
Bron: Blikkies & pakkies
Uitgewer: Lapa