[Resensie] Je-Ani maak haar solo-buiging by Aardklop

Je-Ani Swiegelaar (Foto: Aardklop)

Sommige is oortuig dat jou noodlot reeds in die moederskoot bepaal is; dat jy maar bloot ʼn pad stap wat reeds vóór jou ontstaan gekarteer is. Ander is daarvan oortuig dat omstandighede bloot ʼn veranderlike is – jy hoef jouself dus nie oor te lewer aan ʼn temperamentele natuur of samelewing nie – en dat jy ʼn onherbergsame pad kan stap én die eindbestemming self kan kies.

Die feit bly staan: Duisende voor en ná jou het as gevolg van ʼn sameloop van omstandighede – êrens langs die pad – hulself ingeboet, en dit boonop ten koste van hulself.

Je-Ani Swiegelaar, wat haar solo- én Aardklopbuiging vandeesweek by dié Potchefstroomse Kunstefees maak, spreek juis hierdie kwessie aan in haar stuk, Sê my naam soos ʼn Starbuck’s knaap: Indien jy ʼn produk van omstandighede is, tot watter mate kan jy aan dié produk timmer om uiteindelik te wees wat jy sou wees indien jou omstandighede nié dieselfde was nie?

Swiegelaar is Annatjie de Vries, beter bekend as “Vleis” – of só verwys haar 12 boeties en sussies en die skoolkinders na haar. Haar ma is oorlede ná die 13e kind en haar pa is ʼn dronklap wat maar nog nooit al sy varkies op hok gehad het nie. Haar karakter moes reeds vanaf ʼn jong ouderdom help doeke ruil en die potte laat prut – daar was nooit ʼn geleentheid om net ʼn jong meisie te wees en ʼn rokkie aan te trek nie. Sy het “haarself verloor deur ma te speel” en om te sien na kinders wat byna soos haar eie geword het.

Die gevolg hiervan is ʼn onafgewerkte Vleis – sy kou oopmond en praat luidkeels en platvloers, sit wydsbeen en dra klere wat die mans in alle rigtings behalwe haar eie laat kyk. Maar soos baie ander – met verwysing na die werklikheid – bly haar karakter se ware stem, al is dié hees en byna-byna stil, aan die lewe en probeer sy haar konstant herinner aan wie sy werklik is of wie sy werklik sou wou wees. En dit is nié ʼn “kommin” Vleis nie, soos sy na haarself verwys.

Sê my naam soos ʼn Starbuck’s knaap speel op ʼn lughawe af ná ʼn draaipunt in haar lewe: Een aand, toe haar dronklap-pa net ʼn tree té ver oor die lyn gegee het, het sy besluit basta met alles. Sy het vir haar ʼn reistas gekoop, hom gepak en koers gekies Amsterdam toe. In dié land ontdek sy haarself – of só glo sy. Sy is meer “verfynd” as voorheen en ontmoet selfs ʼn man, een wat werk by Starbucks, wat haar wildste drome bewaarheid.

Weens ʼn sameloop van omstandighede moet sy egter terugkeer na Suid-Afrika, en dit is híér waar De Vries haarself eers werklik “vind”. Dit het niks te make gehad met hoe sy lyk of praat, of hoe sy aantrek of watter dinge uit haar mond kom nie, maar eerder ʼn goeie dosis van lot én selfaanvaarding.

Aanhangers van Swiegelaar, wat haar veral ken as Naomi van Binnelanders, sien dié aktrise soos nog nooit vantevore nie. Die aktrise het self ʼn paar jaar gelede ʼn gedaanteverwisseling ondergaan en ’n mens kan nie help om te wonder of daar tog net ʼn klein bietjie waarheid in die fiksieverhaal versteek is nie; selfs al is dit bloot die boodskap van selfaanvaarding.

Die verhoog is eenvoudig en Swiegelaar maak gebruik van ʼn multimediaskerm om verskillende tonele voor te stel – iets wat ook slim gebruik word om tydsverloop aan te dui en om die gehoor se aandag tydens ʼn spitsvondige pouse te behou. Die stuk bevat hope humor en ligte oomblikke – die gehoor het veral uitbundig gelag oor haar platvloerse sêgoed, plek-plek gekruide taal en “mannetjiesagtige maniertjies” om Vleis uit te beeld. Daar is egter ook teer oomblikke wat die teaterganger tot nadenke dwing, en selfs oomblikke waar sosiale kwessies, onder meer dié van ʼn mens se uiterlike voorkoms en alkoholisme, aangespreek word. Die talle ligte oomblikke ontneem nie die kernboodskap van die stuk nie, en dít is dat dit heeltemal in die haak is dat mense verskil en verskillende dinge nastreef, dat elkeen maar ʼn tweede kans verdien en die grootste: dat elke mens vir hom of haarself moet besluit wie of wat hulle wil wees.

Aan die einde van die dag is dit tog duidelik – niemand ken al die antwoorde van sommige van die lewe se grootste vrae, soos hoekom iemand is soos hy is of doen wat hy doen nie. Maar wat wél aan die mens bekend is, is dat alles aan die einde van die dag te make het met ʼn goeie dosis lot én die mens se wil.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Aardklop ondersteun die Teaterbystandsfonds – die kunste en vermaaklikheidsbedryf se enigste hulpfonds. As geregistreerde niewinsgewende-organisasie (wat 18 A Belastingaftrekkingsertifikate uitreik) is die TBF  totaal afhanklik van donasies om veral hulpbehoewende bejaarde kunstemense te onderhou. Jou donasie is die applous wat ʼn lewe kan red.