ToekomsVenster: Ons gedugte God

(Foto: Eberhard Grossgasteiger/Unsplash)

Miga 1:3-4 – Die Here kom uit sy woonplek uit, Hy kom af, Hy kom oor die hoë plekke van die aarde. Berge smelt weg onder Hom, laagtes skeur oop. Soos was in vuur smelt, so smelt die berge, hulle loop teen die hellings af soos water.

Ons het by ʼn vorige geleentheid oor Miga en sy boodskap gesels. Nou ja, ek het Miga gelos maar, Miga wil my nie los nie. Derhalwe delf ons nog ander van die ander merkwaardige juwele in die profesie raak.

Die agtergrond, as jy dalk kan onthou, het te doen met die afvallige optrede van die verbondsvolk. Selfs die aankomende Assiriese bedreiging is nie genoeg motivering vir hulle om die Here op te soek nie. Samaria, die Noordryk, gaan eerder ʼn verdrag met die Arameërs aan terwyl Jerusalem, die Suidryk, met die einste Assiriese weermag saamspan teen sy bloedbroer.

Op alle terreine is daar verval, veral met betrekking tot die spirituele wat uitmekaar rafel. Afgodediens, prostitusie en profesie sonder integriteit en waarheid, is aan die orde van die dag, terselfdertyd word die armes uitgebuit en beroof. Die regspraak is onbetroubaar en bedrog en korrupsie vier hoogty in die handel.

Die Here verklaar ʼn dispuut. Sy volk word opgeroep om voor Hom te verskyn en rekenskap te gee van waarom hulle Hom vir afgodiese praktyke verruil het.

Die eerste verse van Miga beskrywe die verskyning van God. Die terme wat gebruik word is aangrypend. Terwyl ʼn mens dit lees hoor jy die woorde heilig, heilig, heilig in die agtergrond. Jy besef dat jy met die God van hemel en aarde te doen het. Hy is nie jou speelmaat nie.

Die ganse kreatiewe werklikheid kom in beweging as Hy verskyn. Grafies word vertel hoe die berge soos was smelt en die was soos water van die bergspitse afloop.

Dit herinner my aan ʼn ander baie aangrypende gedeelte in 2 Sam. 22. Die verskyning van God word ook daar beskryf. Daar daag Hy op om sy kind wat in die nouste verkeer en na Hom geroep het te beskerm. Die vyand moet padgee en besgee. Hy laat dit nie toe dat so met sy kinders gehandel word nie. In die gelese gedeelte in Miga is dit die kinders van die Here wat nou vyande geword het.

Vreeslik is dit om te val in die hande van ʼn lewende God. Mag ons ons respek en agting vir die God van die hemel nooit verloor nie.

Mag dit ons aanspoor om koersvas op Hom te vertrou. Na alles, Hy sorg vir ons.

Psalm 18:7-11 – In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep. Ek roep na Hom om hulp, en Hy luister na my. Die aarde het geskud en gebewe, die fondamente van die hemel het getril en geskud, want Hy was vertoorn. Rook het uit sy neus getrek, vuur uit sy mond het alles verteer, gloeiende kole uit sy binneste. Hy het die hemel afgebuig en afgekom, onder sy voete was duisternis. Hy het op ‘n gerub geklim en gevlieg; op die vleuels van die wind het Hy verskyn.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.