Afrikaans 90: Afrikaans is jou ID

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Ria Olivier (Afrikaanse Taalraad)

Hoekom Afrikaans? In my grootwordjare sou hierdie vraag bepaald vreemd aangedoen het. Afrikaans was immers dié taal, die enigste een, wat in ons mond, hart, verstand, ja, in ons hele menswees gelééf het. Afrikaans was ’n natuurlike gegewe, ’n noodwendigheid in die Bolandse dorp Worcester waar ek as kind van Afrikaanse ouers opgegroei het.

Later toe ons self kinders moes grootmaak, het ons die keuse gemaak vir Afrikaans én Engels, in hierdie volgorde. ’n Keuse wat dit vir hulle maklik gemaak het om ook in ’n Engelse en ’n Duitse leeromgewing te floreer. Vir baie ouers in ons straat – dit was in die tagtigerjare – was daar net een taal vir hul kinders: Engels. ’n Teken dat die hoekom Afrikaans-vraag reeds onder sommige Afrikaanssprekendes begin kop uitsteek het.

Na 1994 sou die persepsie van Engels as “taal van bemagtiging” sterk veld wen onder veral arm bruin Afrikaanse gemeenskappe wat uit die armoedespiraal waarin hulle vasgevang was, wou ontsnap. Hulle het naamlik vooruitgang en die goeie en opwindende dinge in die lewe met Engels begin assosieer, sodanig dat dit algaande ’n waarheidsetiket begin kry het. Die regering se ongrondwetlike de facto-uitrangering van die ander landstale behalwe Engels, ook en veral op hoëronderwysvlak, het uiteraard veel hiertoe bygedra.

Navorsing het onteenseglik bewys dat oorskakeling na Engels as voertaal, veral wanneer die kinders nie stewig geanker is in die moedertaal nie, geen waarborg bied vir akademiese sukses nie. Vir baie kinders is dit, jammerlik, soos om met ’n stomp voorwerp (’n tweede of selfs derde taal) in ’n digte woud hulle weg te probeer oopkap, net om te vind dat hulle uiteindelik in die ruigtes van laaggeskooldheid en onderontwikkeling vasval.

Ek het dit goed gedink om ’n jonger persoon se mening te vra oor hoekom Afrikaans en stel dus graag my oudste seun aan die woord:

Vir my is die vraag nie “Hoekom Afrikaans?” nie, maar eerder “Hoekom nié Afrikaans nie?”.

Dit gaan in die eerste plek vir my oor jou identiteit wat outentiek is. Ek is wie ek is, en my mense is wie hulle is, sonder apologie. Ek het nie ’n ander tweede taal nodig om my menswaardigheid te bekragtig nie. Ek is ook nie bereid om my eie kultuur en geskiedenis prys te gee nie, want sou jy dit doen, het jy reeds jouself verloor.

Engels is wel nodig om in vandag se Suid-Afrika oor taalgrense heen te kan kommunikeer, maar dis verreweg nie die enigste taal in die werksplek nie. Dit mag die nie-amptelike hooftaal van die besigheidswêreld wees, maar in die werksplek praat mense ’n mengelmoes van tale. Veeltaligheid is die realiteit, die norm. Eentaligheid, daarenteen, is die uitsondering en eintlik verarmend.

Engels is nuttig om in hierdie globale wêreld te kan opereer, maar dieselfde geld al hoe meer vir Spaans, Sjinees, Frans, Duits en ’n reeks ander tale wat gepraat word in streke wat vandag sterk groei.

Ek is nie ’n kampvegter vir die behoud van Afrikaans deur jouself van die wêreld af te sluit nie. Ek glo veel eerder dat Afrikaanssprekendes moet uitreik na die wêreld buite dié van die Engelse en dat hulle hul horisonne moet verbreed deur óf ’n Afrikataal soos Xhosa of Zoeloe, óf ’n ander internasionale taal aan te leer.

Afrikaanssprekendes kan met selfvertroue hul plek enige plek in die wêreld volstaan, of dit nou hier in Suid-Afrika of elders is: in Perth of Londen of Shanghai. Suksesvolle Afrikaanse besigheidsleiers wys dat Afrikaanse mense kan floreer selfs in ’n Engelssprekende of internasionale werksplek. Dink maar aan Naspers se Koos Bekker wat ’n aandeel koop in die Sjinese internetreus Tencent, of Shoprite se Whitey Basson wat sy maatskappy regoor Afrika uitbrei, of Steinhoff se amper deur-die-bank Afrikaanse direkteure wat hul maatskappy in Europa en Australasië laat groei.

Bowenal glo ek dat ouers die belangrikste rol by die inskerp van waardes moet speel, en hulle kan dit kwalik doen as hulle nie behoorlik met hul kinders kan kommunikeer nie, of nog erger, as die kinders hul Afrikaanswees minag. Die oordrag van waardes alleen is veel meer werd as die alternatiewe keuse wat baie Afrikaanse ouers hul kinders bied: ’n gebrekkige Engels.

Ek merk op dat my drietalige kinders Engels beter praat as baie van hul maatjies wie se Afrikaanse ouers hulle uitsluitlik in Engels probeer grootmaak. Maar dan, ek het self ook Engels en Duits op eerstetaalvlak aangeleer en soms beter gevaar as van my vriende wat moedertaalsprekers was. Dis juis ons begeerte dat ons kinders twee tale op huistaalvlak moet kan neem en ’n addisionele taal moet kan aanleer. Ons skole maak, helaas, nie voorsiening vir hierdie opsie nie.

My seun se bydrae onderstreep vir my die waarde van veeltaligheid, maar ook dié van ’n verbondenheid aan die eerste taal. My wens is dat Afrikaanssprekende ouers sal besef die beste geskenk wat hulle vir hul kinders kan gee, is nie ’n gebrekkige Engels en ’n slimfoon nie, maar eerder ’n slim taalkeuse: Afrikaans én ander tale.

Dus, hoekom nie Afrikaans nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae