Afrikaans 90: Bereik die hoogste sport in Afrikaans

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Chris du Plessis (Akademia)

As daar een vraag is wat ek dikwels vanaf leerlinge kry, dan is dit dié een: Maar waarom moet ek in Afrikaans skoolgaan, of selfs studeer? Die moderne besigheidswêreld is dan Engels?

Die tweede deel van die vraag is verseker waar, maar hou in gedagte dat dit nie onlangs gebeur het nie, maar dat dit reeds die afgelope 100 jaar, indien nie langer al nie, die geval was! Vanaf die tyd wat die Engelse groot dele van die wêreld danksy die magtige Britse vloot begin beheer het, was Engels die algemene handelstaal in die sogenaamde Westerse beskawings.

My teenvraag aan jou is dat as die wêreld dan reeds so lank in Engels handel dryf, dan moes jou argument mos ook net so wel van toepassing gewees het op jou pa, oupa of oupagrootjie se tyd, nie waar nie? As hierdie mense, wat in Afrikaans gestudeer het, soveel slegter daaraan toe is en was, as hul eweknieë wat in Engels gestudeer het, hoe verduidelik ons die bestaan en sukses van Afrikaanse miljoenêr- en biljoenêrsakelui soos wyle doktor Anton Rupert, Christo Wiese van Pepkor, Markus Jooste van Steinhoff, Michiel Laubscher van Capitec en Jannie Mouton van PSG, om maar enkeles te noem. Nie alleen het hierdie wêreldbekende sakemanne in Afrikaans skoolgegaan nie, maar hulle het almal in Afrikaans aan Afrikaanse universiteite gestudeer. Dink selfs aan hoeveel gewone Afrikaans-opgeleide dokters, ingenieurs, verpleegkundiges, onderwysers, kernfisici en ander professionele beroepsbekleërs deesdae wêreldwyd werk, en boonop gesog is, en dit alles in een of ander tweede taal! Het jy al ooit daaraan gedink dat die eerste hart deur ’n Afrikaanse seun van Beaufort-Wes, dokter Chris Barnard, oorgeplant is?

Waar lê die verskil dus, en wat is die groot faktor wat jy in ag moet neem voor jy die belangrike besluit neem oor die taal waarin jy jou skool- of universiteitsonderrig wil ontvang?

Een van die eerste verslae oor moedertaalonderrig as die mees effektiewe taal van onderrig, is reeds in 1953 deur die United Nations Educational, Scientific and Cultural Organisation (Unesco) gepubliseer. Sedertdien het studies deur vele navorsers hierdie navorsingsresultate verder bevestig. Daar word veral groot gewag gemaak van die feit dat kinders tot en met die ouderdom van twaalf jaar ’n groot agterstand in begripvorming opbou as hulle nie in hul moedertaal onderrig ontvang nie. Verder word die aanleer van akademiese taalvaardigheid (lees en skryf) in kinders se moedertaal ook as ononderhandelbaar vir hul optimale kognitiewe en sielkundige ontwikkeling beskou. Volgens navorsing wat oor ’n lang tydperk met duisende leerlinge in ’n steekproef gedoen is, leer leerlinge op hul beste in die taal wat hulle die beste ken, aangesien hulle slegs daarin hul denkvermoë en gevoelslewe tot die uiterste kan ontwikkel.

Ook beskryf doktor Michael le Cordeur van die Afrikaanse Taalraad die diversiteit van tale in Suid-Afrika en die nood vir opvoeding en opleiding in die taalsprekers se moedertale as juis iets wat internasionaal ook aan die orde van die dag is. In van die wêreld se grootste ekonomieë soos dié van Duitsland, Rusland, Frankryk, China en Japan word kinders van primêre, deur die sekondêre tot op tersiêre vlak in hul moedertale opgelei. Ook in hierdie geval hoef jy nie ’n kernfisikus te wees om te weet dat die presteerders uit hierdie nasies internasionaal nie ’n tree hoef terug te staan omdat hulle nie hul skool- of universiteitstudies in Engels voltooi het nie.

Dat dit wel belangrik, en vanselfsprekend ’n vereiste is om ’n tweede en selfs ’n derde taal aan te leer in die moderne Suid-Afrika, asook in die kleiner wordende globale wêreld oftewel die “global village”, stry niemand mee nie. Dieselfde navorsers het egter bevind dat die suksesvolle aanleer van ’n tweede taal swaar rus op die suksesvolle bemeestering van begripvorming in so ’n kind se moedertaal (soos in die geval van enige goeie navorsing, is daar wel uitsonderings wat geld – maar ons werk hier met die algemene gemiddeld).

Nou ja, bogenoemde is ’n mondvol, maar dit kan vir die doel van hierdie argument kortliks soos volg opgesom word:
• Navorsing het bewys dat taal ’n groot invloed het op intelligensievorming in ’n kind. Daar is verder bewys dat selfs waar intelligensievlakke dieselfde is, kinders wat in hul moedertaal onderrig word, as ’n reël beter presteer en begripvorming baasraak as hul eweknieë wat slegs in ’n tweede taal onderrig word.
• Dieselfde navorsing bewys ook dat ’n kind se sosiale aanpassing en ontwikkeling in sy of haar onmiddellike milieu baie meer gemaklik, spontaan en vinniger plaasvind as in die geval waar ’n kind aan ’n tweede taal alleenlik blootgestel word, veral waar slegs die moedertaal in die huis gepraat word (Verslag van die departement van onderwys in die Wes-Kaap, 2012).
• Dit bewys ook dat opleidingresultate en begripvorming, selfs by hoër vlakke van opleiding (op hoërskool- en universiteitsvlak) positief beïnvloed word deur die opleidingsmedium van moedertaalonderrig.

Met hierdie stuk maak ek nie die keuse om in ’n tweede taal onderrig te word af, of verkeerd vir jou nie – ek vra liewer die volgende vraag: doen jy dit om die tweede taal te leer praat, of probeer jy om jouself op die beste manier te kwalifiseer vir jou toekoms? As eersgenoemde jou doel is, mag jy dalk op ’n goedkoper manier en met minder gesukkel regkom deur vir jou ’n kort taalkursus by ’n goeie boekwinkel aan te skaf. As jy egter die hoogste sport wil bereik deur op die vinnigste manier begrip en insig te verkry in dít wat jy leer – nooi ek jou uit om mooi te gaan nadink oor hierdie artikel…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Sarie ·

Goeie artikel. Dis so jammer dat ons owerhede nie hierdie feite insien nie. Ek glo dat die swak prestasie van ‘n groot deel van ons leerlinge hier aan toegeskryf kan word. Het al self gewonder dat indien die Afrikatale ontwikkel het tot akademiese tale en nie net die Westerse tale oorgeneem het of dit die algemene ontwikkeling van Afrikalande nie ook sterk positief sou beinvloed het nie.

Sarie ·

Goeie artikel. Dis so jammer dat ons owerhede nie hierdie feite insien nie. Ek glo dat die swak prestasie van ‘n groot deel van ons leerlinge hier aan toegeskryf kan word. Het al self gewonder dat indien die Afrikatale ontwikkel het tot akademiese tale en nie net die Westerse tale oorgeneem het of dit die algemene ontwikkeling van Afrikalande nie ook sterk positief sou beinvloed het nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.