Afrikaans 90: Die sterk saak vir Afrikaans

Herman Giliomee

Herman Giliomee

Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Hermann Giliomee (historikus en skrywer)

Oor die afgelope tien jaar het ek soms ’n skolier of ’n student met ’n sug hoor vra: “Waarom tog Afrikaans? Hoekom slaan ons nie almal oor na Engels en kry klaar nie?” Vir hulle lyk die uitdaging om ’n goeie werk te vind enorm. Hulle is terdeë daarvan bewus dat vaardigheid in Engels ’n vereiste is in die sakewêreld en feitlik enige professie.

Afrikaans is vir hierdie jong mense ’n taal wat goed en gaaf is om in te sing, met jou maats te gesels en af en toe in te swets, maar hulle tob oor die groot vraag: Is om heeltemal vlot te word in Engels nie die hoogste prioriteit nie, veral vir mense wat binnekort die arbeidsmark moet betree?

Afrikaans as ontwikkelende taal
Dit is nie die eerste keer in die afgelope eeu dat Afrikaans hom in die posisie van ’n minderheidstaal bevind met min hefbome om die regering te dwing om aan die grondwetlike voorskrifte vir taalgebruik te voldoen nie.

In 1910 het die Unie van Suid-Afrika ’n grondwet gekry wat gelykheid tussen Engels en Hollands as amptelike tale neergelê het. In 1925 het Afrikaans ook ampstaal-status gekry. Ten spyte daarvan het Engels as publieke taal oorheers, nie net in die handelswêreld nie maar ook in die staatsdiens. Eers teen 1950 het die regering tweetaligheid, soos vereis in die Grondwet, begin afdwing.

Die Nasionale Party-regering wat in 1948 aan die mag gekom het, het baie gehelp om Afrikaans behoorlik te vestig, maar ’n deurslaggewende faktor was die groot geesdrif waarmee die Afrikaanse taalgemeenskap aan die opbou van Afrikaans gewerk het.

Susan Roets, ’n taalpraktisyn, verduidelik hierdie punt goed: “Die ampstaalstatus van Afrikaans het natuurlik ’n verskil gemaak en ook staatssteun, maar daar was nooit ruim fondse vir die implementering van tweetaligheid of vir vaktaalontwikkeling nie.”

Sy gaan voort: “Afrikaans het veral geblom omdat daar Afrikaners was wat met groot toewyding soms lewenslank (roemloos en teen die laagste besoldiging denkbaar) aan die skep en ontwikkeling van die Afrikaanse vaktaal gewerk het – aan universiteite en kolleges, tersiêre inrigtings, in die koerante en oor die radio, en as skrywers en digters – oral, omdat Afrikaans, wat vroeër net ’n kombuistaal was, hulle so verskriklik na aan die hart gelê het.”

Tot 1994 het Afrikaans sterk gestaan in die staatsdiens, die semi-staat sektor, skole en universiteite. Baie ondernemings het besef dat kliënte verkies om in hul moedertaal bedien te word. Daarna het Afrikaans groot terugslae ondervind, maar nie een van hulle is noodlottig nie.

Sommige mense argumenteer nou dat daar nie meer dieselfde saak is vir Afrikaans nie omdat dit nou net een van 11 tale is en omdat die staatsdiens grootliks verengels het. Hierdie siening hou egter nie rekening met al die ander takke van die openbare lewe waarin Afrikaans steeds ’n volwaardige plek inneem nie. Daar is steeds ’n baie sterk saak vir Afrikaans.

Afrikaans as vorm van onderrig
Wat bied Afrikaans vandag in ’n land waarin Afrikaanse mense nie die mag het nie?

Ten eerste bied moedertaalonderrig die beste vorm van onderrig van die skool tot op universiteit. Mense leer die beste as hulle kennis “verinheems”, dit wil sê dit verwerk en verstaan in hul eie taal.

Dit was lank reeds vir die meeste opvoedkundiges duidelik, maar onlangs het ’n buitelandse waarnemer dit weer onderstreep. Hy is Kole Omotoso, ’n Nigeriese geleerde, wat etlike jare aan Suid-Afrikaanse universiteite klas gegee het, en toe ’n boek, Season of migration to the south (Tafelberg, 1994), daaroor geskryf het.

Hy het geargumenteer dat Afrikaanse mense die enigste mense in Afrika is wat met Afrikaans ’n eie taal geskep het. Die skep van ’n eie Afrikataal het hulle in staat gestel om sowel Westerse kennis en hul eie ervaring van Afrika op die beste manier te verwerk. Omotoso stel die vraag: “Hoe dink die ander mense in Afrika kan hulle die Westerse kennis met hul Afrika-ervaring met mekaar versoen as hulle nie hierdie kennis ‘verinheems’ deur middel van hul eie Afrikataal nie?”

Daar is voldoende bewyse dat mense in hul eerste taal dinge beter leer en verstaan as in ’n tweede taal. Skoliere en studente moet begrippe baasraak en leer om daarin te dink en te redeneer. Die ervaring het bewys dat mense dit die beste in hul eerste taal doen.

Keer op keer het dosente in die Sosiale Wetenskappe, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en Natuurwetenskappe aan my gesê studente verstaan beter en leer beter as hulle probleme moet oplos wat aan hulle in hul moedertaal gestel word. Dit is selfs waar van Wiskunde.

Om ’n konkrete voorbeeld uit Regswetenskap te noem: Professor Max Loubser van die Regsfakulteit op Stellenbosch sê die volgende:

Regsonderrig, soos onderrig in enige ander vakrigting, is die doeltreffendste as dit aangebied word in die taal waarin die studente die vaardigste is. Selfs al sou studente wat regsopleiding in Afrikaans ontvang later meesal Engels gebruik, leer ervaring dat dit voordelig is as die regswetenskap aanvanklik bestudeer word in die taal waarin hulle hulle die maklikste uitdruk. Beoefening van die reg in ’n ander taal is daarna soveel makliker – en ’n twee- of veeltalige regsleerde is ’n meer afgeronde regsgeleerde (Kruispad: Die toekoms van Afrikaans as openbare taal, p. 93.)

My studies in die medium van Afrikaans het my as historikus gevorm. Op universiteit het die dosente klem daarop laat val dat die skriftelike werk van die voorgraadse opstelle tot by die doktorale verhandeling in vlot Afrikaans moes wees.

Toe ek vroeg in my dertigerjare in Engels begin skryf, kon ek reeds myself goed in korrekte en duidelike Afrikaans uitdruk. Dit was ’n stewige basis wat my in staat gestel het om gou die vermoë te ontwikkel om in Engels te formuleer en in die taal te begin publiseer.

Ek het gou agtergekom dat wanneer ek ’n probleem ondervind om my in Engels uit te druk dit nie te wyte was aan ’n gebrekkige Engelse woordeskat nie. Die probleem was gewoonlik dat ek nie duidelikheid (in Engels of Afrikaans) gehad het oor wat ek wou sê nie.

Die beste raad wat ek vir ’n student kan gee, is dit: Skryf in Afrikaans totdat jy dit bemeester het. Jy sal verbaas wees oor hoeveel ’n stewige Afrikaanse basis jou help om ook in Engels vlot te skryf.

Mense wat te vroeg van hul eerste taal na ’n tweede taal oorskakel, is geneig om “halftalig” te wees. Hulle is nie vaardig in Afrikaans of in Engels nie. Dit word gou duidelik in die lomp manier waarop hulle albei tale in skrif gebruik (of misbruik).

Afrikaans as mediataal
Die Afrikaanse koerante, tydskrifte, radio en televisie is anders as die Engelstalige media op ’n bepaalde en herkenbare gemeenskap toegespits. Die Afrikaanse media word baie goed bedryf. Afrikaans het ’n getroue lees- en luisterpubliek. Daar word byvoorbeeld vier keer meer romans in Afrikaans as in Engels gepubliseer.

Die meeste Afrikaanse mense is tweetalig, maar hulle verkies om in Afrikaans te lees. My boek, The last Afrikaner leaders, en sy vertaalde weergawe, Die laaste Afrikanerleiers, het oor die laaste 18 maande twee keer beter in Afrikaans as in Engels verkoop. Dit is uitgegee deur NB Uitgewers, wat onlangs die grootste uitgewersmaatskappy in die land geword het.

En dan is daar die verstommende verhaal van die opkoms van ’n massamark vir Afrikaanse musiek.

Afrikaans as gemeenskapstaal
Wat bied moedertaalonderrig verder? Bo en behalwe die voordeel wat moedertaalonderrig bied, gee dit aan mense ’n gevoel van ’n bepaalde gemeenskapsidentiteit. Gelukkig is apartheid nou vir goed verby. Groepe se identiteit word nie meer deur die staat afgedwing nie, maar mense kan kies met watter groep of kultuur hulle hulle wil vereenselwig. Toenemend ontwikkel daar ’n veelrassige Afrikaanse gemeenskap wat daarin slaag om die historiese kloof van apartheid te oorbrug.

Dit is ’n springlewendige Afrikaanse gemeenskap wat hom nie in ’n hokkie laat druk nie. Dit is ’n oop gemeenskap wat intens belangstel in boeke en die uitruil van menings. Daar is 18 Afrikaanse feeste en by baie van hulle neem boekbesprekings ’n belangrike plek in.

’n Engelse kollega aan die Universiteit van Kaapstad het onlangs gesê: “Die Afrikaanse mense is gelukkig: hulle vorm ’n gemeenskap. Ons Engelse mense het nie meer ’n gemeenskap nie.”

Vroeër was baie nasionaliste geneig om die eie groep te verheerlik en ander groepe af te kraak. Hulle het geglo dat die Afrikaner ’n Godgegewe identiteit het en moontlik selfs geroepe is. Soms het hulle ’n bepaalde Afrikaneridentiteit probeer definieer. Hierdie idees is vandag uit die oude doos.

Vandag gebruik amper niemand hierdie soort taal nie. Mens identifiseer met Afrikaans-wees of met Afrikaans uit vrye wil. Dit beteken glad nie dat jy dink die groep is die beste of die voortreflikste nie. Dit beteken net dat jy onder hierdie mense tuis voel en dat jy omgee vir Afrikaans en wil hê dat dit floreer.

’n Vereenselwiging met streeks- of taalgemeenskappe druis nie in teen nasionale eenheid nie. Sonder sterk gemeenskappe sal die staat alle verskille wat hom nie pas nie, probeer uitwis. In Suid-Afrika sou dit waarskynlik al die universiteite verplig het om Engels te word.

Ons leef in ’n land waar groepe en die vereenselwiging met ’n bepaalde groep altyd belangrik sal wees. Soos doktor Van Zyl Slabbert, een van die groot teenstanders van apartheid en leier van die amptelike opposisie tussen 1979 en 1986, dikwels gesê het: “Ek kan hard probeer ontken dat ek ’n Afrikaner is maar, ander mense sal omdraai en sê: ‘Jy is Afrikaans. Hoekom probeer jy dit ontken?’”

’n Groep se geskiedenis bevat altyd hoogtepunte en laagtepunte, dinge wat aantrek en dinge wat afstoot. Afrikaanse mense kan lustig redeneer oor wat goed is en verder uitgebou moet word en wat onwenslik is en bestry moet word. Daar is nie meer leiers wat voorsê nie.

Van die wêreld se grootste denkers het vanuit ’n gevoel van solidariteit met hul gemeenskap die rol van gemeenskapskritikus gespeel. Mens dink aan Albert Camus, die Frans-Algerynse Nobelpryswenner, George Orwell in Brittanje, Martin Buber in Israel en NP van Wyk Louw en Breyten Breytenbach in Afrikaans.

Soos NP van Wyk Louw in Afrikaans dit gestel het, ’n groep se voortbestaan is belangrik, maar dit hou nie daar op nie. Die groep moet in geregtigheid voortbestaan. Voortbestaan mag nie ten koste van ander mense en ander groepe se bestaan wees nie.

Oor die hele wêreld verlang mense na ’n besondere groepsidentiteit. Toe die Europese Gemeenskap (EG) tot stand gekom het, was baie kenners vas daarvan oortuig dat nasionale identiteite, soos byvoorbeeld ’n Franse identiteit of ’n Britse identiteit, gou sal vervaag. Hulle het gedog daar sou net ’n Europese identiteit oorbly. Die teenoorgestelde het gebeur. Daar het al meer verset ontstaan teen die EG se poging om een identiteit en een taal (Engels) te vestig.

Leszek Kolakowski (1927–2007), een van die grootste politieke denkers van die afgelope halfeeu, is deur die Kommunistiese regering in Pole gedwing om in ballingskap te gaan. Hy het dosent aan Oxford Universiteit geword.

Kolakowski het nie gedink Europa sal beter daaraan toe wees as mense van verskillende nasies almal Europeërs word met geen lojaliteit aan hul land of gemeenskap nie. Hy het beklemtoon dat diversiteit ’n goeie ding is solank mense nie gedwing word om apart te wees nie. Om die geskiedenis van jou groep te ken, is belangrik. Soos hy dit gestel het: “Mense bestudeer hul eie geskiedenis nie om te leer hoe hulle moet optree nie of hoe om suksesvol te wees nie, maar om uit te vind wie hulle is.”

In Suid-Afrika kan mens sowel Suid-Afrikaans as Afrikaans wees, getrou aan die land en al sy mense en ewe getrou aan jou taal en jou gemeenskap.

Hermann Giliomee

Meer oor die skrywer: Hermann Giliomee

Hermann Giliomee was 'n professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad. Hy skryf gereeld oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis en kontemporêre politiek. Hy woon tans in Stellenbosch.

Deel van: Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

CHRISTA ·

Afrikaans het dalk in1925 ampstaal-status gekry, maar Afrikaans het jarre te vore tot stand gekom (Genootskap van Regte Afikaners)!!!

Arno ·

Ek wens dat Prof. Gilliomee aan vanoggend se gesprek op RSG tussen Flip Buys en Max du Preez deelgeneem het.

Ek dink wat Max wou verwoord, maar nie mooi kon regkry nie, was hierdie: “…’n groep se voortbestaan is belangrik, maar dit hou nie daar op nie. Die groep moet in geregtigheid voortbestaan. Voortbestaan mag nie ten koste van ander mense en ander groepe se bestaan wees nie.”

En ek glo nie dat ons met Afrikaans en Afrikanerskap enigsins ander mense wil uitsluit nie. Ons weel Afrikaner en terselfdertyd Suid-Afrikansers wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.