Afrikaans 90: Vra my in my taal

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Hans du Plessis (ATKV-Skryfskool)

Vra my in my moedertaal, en ek sal vir jou die son gaan haal.

Adverteerders weet dit lankal; die SAUK begin dit op die duur manier verstaan; die ANC sal miskien, soos die Engelse van ouds, honderd jaar vat om iets daarvan te begryp. Ons wat Afrikaans is, so lyk dit vir my, sal dit nooit verstaan nie. Dalk wíl ons nie verstaan nie, want die voortbestaan van Afrikaans is glo nie so belangrik as die voortbestaan van die land nie.

Hierin lê die gronddwaling van die taaldebat: dit is nie Engels of Afrikaans nie; dit is nie óf Afrikaans óf ’n suksesvolle Suid-Afrika nie, want diversiteit veronderstel én suksesvolle moedertale én ’n suksesvolle veeltalige demokrasie.

Moedertale in Suider-Afrika sit stomgeslaan vasgevang in ’n fyn uitgewerkte taalstrategie. Ons het, byvoorbeeld, die deeglikheid van SWAPO en die ANC se taalbeplanning en -strategie totaal onderskat. Elf amptelike tale klink mooi en versoenend; só ooglopend logies dat dit die institusionele bevoorregting van Engels in misleidende geskenkpapier toegedraai het. Omdat ’n beleid van 11 nasionaal amptelike tale prakties onuitvoerbaar is, het Engels ná 1994 die een enigste de facto- amptelike taal geword. Die taalbeplanning was fyn, en ons het gesit en slaap; só vas dat toe ons wakkerskrik, sien ons dat daar van Afrikaans, om net een voorbeeld te noem, op televisie net 6% van bykans 50% oorgebly het.

Dink net hoe gaan ons juig as ons die dag weer 7% kry! Stel jou voor hoe opgewonde ons sal riel as ons net weer in ’n polisiestasie, of ’n hospitaal, of ’n lisensiekantoor toegelaat word om in Afrikaans te groet.

Dit is hoe taalbeplanning werk: oortuig die Afrikaanse taalgemeenskap daarvan dat die gebruik van Afrikaans ’n suksesvolle Suid-Afrika strem, dan glo ons dat Afrikaans as hoëfunksietaal die demokrasie bedreig. Die res is maklik: hierna sal krummels na pitkos proe. Dit klink vir my baie na politieke afpersing.

Jy, hoor ek jou mor, vergeet gerieflik dat Afrikaans ’n apartheidstaal is; ’n taal van die verdrukker; ’n taal van onbillike bevoorregting. Dan vra ek jou: Wat van Engels en Spaans en Mandaryns, of dink jy dié drie het wêreldtale geword op grond van hul rein menseregterekord?

Nou waaroor kerm oom dan? Hoekom Afrikaans? Een taal is tog makliker? Oom verlang net weer na die ou bedeling, want jy verstaan niks van veeltaligheid of transformasie nie. Die nuwe Suid-Afrika en sy suksesse het aan jou verbygegaan, my oom. Om in hierdie demokrasie te oorleef, moet ons dit in Engels doen. In Engels gaan werk; in Engels besigheid doen; in Engels die wêreld van ons voortreflike intellek oortuig. Daarom presteer ons liewer almal by verstek in Engels.

Hoekom dan nog moedertale?
Eintlik is die antwoord hierop só eenvoudig dat dit belaglik klink: ek ís die taal wat ek by my ma geleer het, en waarin ek grootgeword het. Dit is die taal waarin ek bid en waarin ek (by hoë uitsondering, natuurlik) vloek. Dit is nou maar eenmaal ék. Daarmee word die taal nie iets besonders nie, maar die ek word erken as denkende en kreatiewe individu, onmisbare deel van ’n wordende Suid-Afrikaanse geheel. Afrikaans as sodanig het net so min of so veel ’n bydrae tot ’n demokratiese Suid-Afrika te maak as Engels of Sepedi of isiZulu. Dit is nie die taal wat ’n bydrae maak nie. Dit is individue en groepe wat van Suid-Afrika ’n sukses maak. Ek wil in Afrikaans deel van die sukses wees, omdat ek (soos enige ander Suid-Afrikaner) deel is van die intellektuele en kreatiewe prikkel van ’n suksesvolle kollektiewe demokrasie.

Vir my as Afrikaanssprekende is my beste bydrae dié wat ek in Afrikaans uitdink en formuleer – tot voordeel van die hele Suid-Afrika. Eenvoudig omdat dít vir my die medium is waarin ek droom, dink en doen. Dit is makliker om my Afrikaanse bydrae te vertaal as om dit in enige ander taal uit te dink.

Die jonger geslag, meer nog as ons ouer geslag, word in Afrikaans opgelei van graad een tot anderkant ’n doktorsgraad. Goed opgelei omdat ons die basiese vaardighede in ons moedertaal aanleer. Om daardie aangeleerde vaardighede in enige ander taal te gebruik, is bloot ’n kwessie van byna meganiese, deesdae selfs elektroniese, vertaling.

Waar kom die internasionale sukses van die Ruperts of die Japie van Zyls of die Deon Meyers anders vandaan? Soos wat Camus of Tolstoy deur medium van Frans en Russies die internasionale verhoog betree het, kan jy dit deur Afrikaans doen. As jou denke internasionaal goed genoeg is, is jou moedertaal die eerste voertuig daarvan, en Suid-Afrika en al sy mense deel in jou sukses. Sou ons ’n volkslied gehad het as Enoch Sontonga Nkosi Sikelel’ iAfrika in Engels moes uitdink?

Hoekom Afrikaans?
Omdat ek as Afrikaanse moedertaalmens hierin my sinvolste bydrae tot ’n suksesvolle, meertalige demokrasie wil en kan lewer.

Vra my in Afrikaans, en ek sal vir jou die son gaan haal!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Hannes Deetlefs ·

Ek het in Switserland moes leer dat jy net suksesvol gaan wees as jy die persoon wat jy aanspreek in sy eie moedertaal aanspreek. En dit vereis harde werk: Die franssprekende Switser kan ook Duits (en Engels), maar, praat met hom suiwer Frans en “jy het hom”. By die Duits sprekende Switser is dit ietwat moeilker: Hy hou van hoog Duits so veel soos die ouens in Suid-Afrika van hoog Engels (“The Queen would say”) Maar, praat met hom in sy Duitse, Switsterse dialek, wel, hy straal. Ons het in Suid-Afrika destyds die groot fout gemaak om nie die tale van die Swartes te leer nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.