Afslag op Afrikaanse boeke gebied om Taaldag te vier

boeke 2

Van die NB Uitgewers-boeke wat beskikbaar is (Argieffoto)

Afrikaanse Taaldag word op 14 Augustus gevier. Dit is ’n spesiale dag waar almal Afrikaans as taal kan uitleef en geniet deur dit met trots te praat, ’n Afrikaanse fliek te kyk, ou treffers te luister of selfs jou gunsteling‑ Afrikaanse boek te lees.

Ter viering van Afrikaanse Taaldag het die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n filiaal van die ATKV, die Koop-’n-Afrikaanse-boekdag‑projek van stapel gestuur om die publiek aan te moedig om ’n Afrikaanse boek te koop.

Luidens ’n verklaring wat deur die ATKV uitgereik is, is hierdie juis die ideale tyd om ’n boek te koop omdat talle boekwinkels op hierdie dag afslag op hulle boeke sal bied.

Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die VVA, sê in die verklaring dat hulle almal wat Afrikaans praat en ’n liefde vir die taal het, wil aanmoedig om op hierdie dag vir hulself ’n boek te koop. “Diegene wat dit enigsins kan bekostig, word ook gevra om ’n Afrikaanse boek te skenk aan iemand wat dit nie self kan bekostig nie,” sê sy.

Volgens Van der Merwe wil die VVA ook deur hierdie inisiatief die skrywers en die Afrikaanse boekbedryf ondersteun omdat skrywers en uitgewers slegs kan voortgaan om literêre werke te skep indien die publiek hulle ondersteun.

Met die Koop-’n-Afrikaanse-boekdag wil die VVA ook ouers daarvan bewus maak om hul kinders in ’n woordryke omgewing groot te maak en ’n liefde vir lees by hulle te kweek. “Vir dit om moontlik te wees, moet ouers self ook lees. Jy as ouer moet self ’n liefde vir boeke en lees hê om dit aan jou kind oor te dra,” meen Van der Merwe.

Wees op die uitkyk vir afslag op boeke by die volgende winkels:

  • CUM Boeke: Alle takke bied 15%-afslag
  • PNA: Strand Square, Somerset Mall, Somerset Square, Eikestad Mall, The Sanctuary, Whale Coast en Gordons Bay Mall bied 25%-afslag
  • Protea Potchefstroom bied 15%-afslag
  • Protea Hatfield bied 20%-afslag
  • Protea Stellenbosch bied 10%-afslag
  • Exclusive Books bied 20%-afslag op alle Afrikaanse boeke
  • Aneljo Boekwinkel: Mariental, Namibiё, bied 20%-afslag

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.