Avbob gee poësie nóg ʼn hupstoot

Johann de Lange, hoofredakteur van Avbob se poësiekompetisie (Foto: Verskaf)

Avbob se digkunsprojek het die afgelope paar jaar duisende digters se poësiedrome ʼn enorme hupstoot gegee.

Tot op hede is 8 200 gedigte op dié instansie se poësiewebwerf gepubliseer en dit word gratis aan hul kliënte en gemeenskappe, maar ook vir digters reg oor Suid-Afrika, beskikbaar gestel.

“Die uitsonderlike groei in Avbob se poësiekompetisie, wat in 2017 tot stand gekom het, is ʼn onweerlegbare bewys dat digkuns in Suid-Afrika nie net oorleef nie, maar floreer”, het Johann de Lange, hoofredakteur van die kompetisie, gesê.

In die eerste jaar het sowat 6 000 digters vir die kompetisie geregistreer en net meer as 20 000 gedigte is ingeskryf. Dié kompetisie het in die tweede jaar gegroei tot bykans 29 000 gedigte wat deur 11 400 digters ingeskryf is.

“Sover toon die inskrywings vir vanjaar se kompetisie reeds ʼn verbetering op die vorige jaar se syfers en indien die huidige momentum volgehou word, is ʼn dubbelsyfergroei weer moontlik,” het De Lange gesê.

Avbob se poësiekompetisie is oop vir sprekers van al 11 amptelike tale in Suid-Afrika. Die wenner in elke taalgroep ontvang R10 000 kontant asook ʼn boekbewys ter waarde van R2 500. Daarbenewens ontvang die digters R300 kontant vir elke gedig wat op die webwerf gepubliseer word.

“Ons het uit die staanspoor besluit om digters behoorlik te vergoed indien hul gedigte vir publikasie op die webwerf aanvaar word,” het De Lange gesê.

“In baie gevalle word digters minimaal betaal om hul gedigte in tydskrifte of bloemlesings gedruk te kry,” het hy bygevoeg. “Juis daarom was ons vasberade om die vergoedingsaspek heel eerste en ten goede aan te spreek. Ons het ook aangedring op ʼn beduidende kontantprys vir die beste gedig in die verskillende tale.”

Inskrywings vir vanjaar se poësiekompetisie sluit op 30 November. Alle inskrywings kan aanlyn op Avbob se poësiewebwerf ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KrokodilBotha ·

Gits, lees ek te vinnig. Wou se , kommas en kappies en goed tik ek mos nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.