Bevorder Afrikaans met jou sêgoed

Foto: Facebook/ATKV

Foto: Facebook/ATKV

Is jy Afrikaans se eie Willem Wikkelspies? Wil jy ʼn bydrae tot Afrikaans lewer wat vasgelê kan word in woordeboeke vir toekomstige geslagte? Hierdie kompetisie gee jou die kans om jou taalvernuf te wys. Boonop kan jou slim en kreatiewe nuutskepping jou ook groot pryse in die sak bring!

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se VarsGeBek is ʼn splinternuwe kompetisie wat Afrikaanssprekendes die geleentheid bied om nuutskeppings, vars uitdrukkings of nuwe idiome in te stuur en groot pryse los te slaan.

Deelnemers kan in twee kategorieë inskryf. In die Sêgoed-kategorie kan enige taalskepping wat nuut, vars of onbekend is, ingeskryf word. ʼn Wenner word maandeliks gekies en aan die einde van die jaar word Varsgebek se algehele wenner aangekondig wat ʼn gewigtige prys sal wen.

Die ander kategorie is Kykgoed, vir grafiese voorstellings van bestaande of nuwe woorde en idiome. Die inskrywings kan bestaan uit prentjies, foto’s, grafiese ontwerp, illustrasies, video’s of animasievideo’s, solank dit ʼn eg Afrikaanse woord of uitdrukking uitbeeld. Enigiemand kan deelneem, maar graad 11- of 12-leerders wat wen kan ʼn studiebeurs van R150 000 in hierdie kategorie wen. Skole en leerders word dus veral aangemoedig om hiervoor in te skryf.

Die universiteitsbeurs, geborg deur die Atterbury Trust, is verlede jaar losgeslaan deur Lené van Heerden, ʼn graad 12-leerling van die Hoërskool Swellendam.

Vanjaar bied die kompetisie ook die geleentheid aan deelnemers om nuwe, moderne idiome in te skryf. Professor Gerhard van Huyssteen, uitvoerende direkteur van VivA, meen hierdie kompetisie kan help verseker dat Afrikaans by sy veranderende demografie aanpas. Soos verlede jaar, kan deelnemers ook bestaande idiome ‘afstof’ en nuut maak. “Mens kan nie net die oue verruil vir die nuwe nie. Afrikaans het pragtige taalskatte,” het van Huyssteen gesê.

Die paneel beoordelaars kommunikeer virtueel met mekaar en stem vir die wenners. Hul stemme word met ʼn algoritme getel om die wenners te bepaal. Die kompetisie duur van 1 Junie tot 30 November 2016, met maandelikse pryswenners in elk van die kategorieë.

Maroela Media het met Lenè van Heerden, die algehele wenner van verlede jaar se VarsGeBek-kompetisie, gesels om te hoor hoe die beurs haar gehelp het en wat haar planne vir die toekoms is.

Kliek hier vir meer inligting en inskrywings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.