Afrikaanse jeugroman, digbundel word internasionaal vertaal

Die Afrikaanse boeke, Offers vir die vlieë en Alles het niet kom wôd, gaan binnekort met behulp van die PEN Afrikaans Vertaalfonds in Albanies en Frans vertaal word.

Lesers van Albanees kan daarna uitsien om Fanie Viljoen se distopiese oorlogsroman, Offers vir die vlieë, later vanjaar op die winkelrakke te sien. Die boek se Albanese vertaling word deur Ombra GVG, een van Albanië se voorste uitgewerye, uitgegee.

Offers vir die vlieë is in 2019 as die wenner in Lapa Uitgewers se jeugromankompetisie aangewys. Dit is ook met ʼn ATKV-kinderboektoekenning vir graad 8 tot 10 (2021) en die Scheepersprys vir jeuglektuur (2022) bekroon.

Die Engelse vertaling, Sacrifice to the Flies, wat in 2022 by Lapa Uitgewers verskyn het, het die roman vir Ombra GVG toeganklik gemaak. Die Albanese vertaling sal na verwagting in Oktober 2023 verskyn en die aangewese vertaler is Elisa Ivanaj. Ivanaj het al verskeie skrywers se werk vertaal, insluitend romans deur Ali Smith en Ann Pachett.

Alles het niet kom wôd, die tweede bundel uit Nathan Trantraal se pen, sal in Frans vertaal word deur Éditions LansKine, ʼn onafhanklike uitgewer wat in poësie spesialiseer.

Soos met Chokers en survivors, Trantraal se debuutbundel wat ook in Frans by LansKine verskyn het, en ook deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds is, sal die ervare literêre vertaler Pierre-Marie Finkelstein die vertaling behartig.

Finkelstein is die vertaler van werke deur onder andere Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Achmat Dangor en Karel Schoeman.

Louise Viljoen skryf in haar resensie van Alles het niet kom wôd dat die werk kleiner in omvang is as Trantraal se debuutbundel, maar dieselfde kragtige effek het: “Dit is die produk van ʼn digter volkome in beheer van sy vak. Veral is dit die werk van iemand wat met sy ingehoue, maar tog dringende stem die vermoë het om tot ʼn wye spektrum van lesers te spreek.”

Alles het niet kom wôd het in 2017 by Kwela Boeke, ʼn druknaam van NB Uitgewers, verskyn. Die Franse vertaling sal na verwagting in Oktober uitgereik word.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar. Navrae oor dié vertaalfonds kan ge-e-pos word na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.