Klik hier om ‘n resensie oor die boek te lees.
deur Joffel van der Westhuizen
Oom het ʼn leeftyd se wedervaringe langs die viswaters agter die blad en Seun volg met oorgawe in sy voetspore. Altans, hy probeer, maar beland keer op keer kortpad in die moeilikheid. Eintlik is Oom maar Seun en Seun word Oom. Die twee lewende karakters se doen en late hoort in ʼn boek – hierdie boek.
Dié verhale is so waar as wat padda manel dra. Dit wip op en af met die waarheid – net soos ʼn besige poliesman – maar bereik nooit die leegheid van ʼn blatante leuen nie. Alle stories is waarskynlik en sommiges is selfs waar, of as’t ware waar. Lesers met ʼn sin vir humor en met ʼn lus vir die buitelewe sal van meet af aan met die vertellings kan identifiseer en die genot van selflag ervaar.
Hengel loop soos ʼn goue draad deur die boek, maar dit is só omskrywend van ons lewens gestel dat nie-hengelaars dit eweveel sal geniet. En sommer iets te siene gaan kry van die grootste buitelug-aktiwiteite in ons land. As’t Ware is ʼn gesinsboek, leesbaar vir oud en jonk, in ʼn taal wat nie verleentheid skep nie.
Van die hoofstukke het in die hengeltydskrif, Stywe Lyne, verskyn en is op die radio uitgesaai. Die raakvat illustrasies is die handewerk van die bekende spotprentkunstenaar, Niël van Vuuren.
Die naaste wat As’t Ware se kluitjies en sous aan ʼn resep kom, is enetjie vir die lewe: Lag en Geniet.
Uitgewer: Kejafa Knowledge Works
Prys: R140-00*
*prys onderhewig aan verandering