Boek: Die laaste reis

Karel Schoeman

Die laaste reis is Karel Schoeman se “reisbriewe” ‒ mymeringe, gedagtes en herinneringe van sy laaste drie kort reise na Lesotho saam met Jemina Meko en Mamohau Lekula wat hom die afgelope nege jaar versorg het. Dit behels drie kort verslae oor sy besoeke in die maand voor sy dood en is in die vorm van e-posse aan ʼn paar “persoonlike korrespondente” gestuur. Vanselfsprekend staan die tema van afskeid sentraal in die briewe.

Uit die boek:

Ek teken hierdie dinge op uit pligsgevoel, as‘t ware onder dwang; want dit is nie meer vir my vanselfsprekend om te skryf nie, nie meer ʼn vreugde nie, laat staan nog ʼn bevryding, en die woorde kom ook nie meer vanself nie. Maar dit moet nogtans opgeteken word, hierdie laaste besoek, om my vroeëre verslae aan te vul en af te sluit.

Op sommige van die foto’s wat Mamohau in Lesotho so geesdriftig met haar selfoon geneem het, verskyn daar iemand wat ek in ʼn berig aan ‘n korrespondent beskryf het as ʼn afgetakelde ou man met wasige blik en verwarde wit hare. Byna het ek op die treetjies van die hotel in Mohaleshoek gekantel en geval.

Dit was die laaste reis.

Oor die outeur

Karel Schoeman was een van Suid-Afrika se produktiefste en vernaamste skrywers en het talle romans, novelles, dramatekste en historiese werke geskryf. Sy werk is talle male bekroon, o.a. met die Hertzogprys, die Recht Malan-prys en die N.P. van Wyk Louw-toekenning van die FAK. Hy is op 1 Mei 2017 oorlede.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R200,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Saartjie ·

En so vir die laaste keer die voorreg om ‘n nuwe Karel Schoeman oop te slaan en die wêreld deur sy oë te beskou. Ek sien met gemengde gevoelens na hierdie voorreg uit …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.