Boek: Die Slaghuis

Cas Wepener

Is ’n dorpie in die Oos-Kaap ver genoeg om weg te kruip vir die gevolge van Apartheidsvergrype? Marietta, ’n sterk, karnivoriese vrou, en haar oudbrigadier-man verruil in 1997 die groen en pers weelde van Pretoria vir ’n vaal dorpswerf waar ’n handjievol skaap wei.

In 2017 voer die slagter se dogter vir haar vet seuntjie viennas terwyl haar pa in die agterplaas in ’n wendyhuis woon – opgevreet deur gangreen en die geweld van sy verlede.

Maar is dié twee vroue die slagoffers van die mans se wandade of die medeskrywers daarvan? Is almal se hande besoedel met bloed? En het waarheid en versoening enige betekenis?

Vleis word in hierdie boeiende roman geslag, voorberei en verorber. Die senings wat agterbly in tande wil maar nie wyk nie.

“Dit is ’n verhaal met meanders en stroomversnellings, met breedvloeiende diepte en met ’n ritme waarvan ’n mens gaandeweg bewus word.” Johan Myburg

Oor die outeur

Cas Wepener (1972) is die skrywer van Die reis gaan inwaarts wat handel oor die dood in die kreatiewe werk van Karel Schoeman. Sy bundel kortverhale Dubbelfoto het in 2013 by Protea Boekhuis verskyn en sy debuutroman Syferfontein in 2016. Sy roman Johanna verskyn in 2017 by Protea Boekhuis. Dubbelfoto is vir die UJ-debuutprys vir skeppende skryfwerk benoem en Syferfontein vir die UJ prys vir skeppende skryfwerk. Hy het Johanna as deel van sy MA in Kreatiewe Skryfkuns by die Universiteit van Pretoria voltooi. Die Slaghuis is sy derde roman.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R200-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.