Jaco Jacobs
Glo my, as jy op die ingewing van die oomblik ’n skaap by ’n kerkbasaar steel, sal jou lewe nooit weer dieselfde wees nie…
Luan se vakansieplanne is in hulle peetjie.
In plaas daarvan dat hy by die huis gaan rondsit, PlayStation speel en saam met sy pelle kuier, moet hy Karoo toe gaan. Op ’n road trip. Saam met sy eksentrieke fotograaf-ouma wat ’n fotoboek oor windpompe wil publiseer.
Dit is sy straf omdat hy en sy vriende een aand iets aangevang het wat hulle in groot moeilikheid laat beland het.
Op pad deur die Karoo ontmoet hy vir Lana, wie se pa al die pad van Bloemfontein na Kaapstad met sy fiets ry om geld vir kankernavorsing in te samel. Lana wat nie vleis eet nie, mal is oor boeke en hom (sonder dat sy dit weet) oortuig om ’n skaap te steel.
Luan leer ken vir die eerste keer werklik sy ouma – die hardekwas-predikantsvrou wat al die jare ’n geheim saam met haar ronddra.
En die belangrikste van als: Hy leer homself ken.
Kort voor lank verander ’n vervelige rit deur die Karoo in ’n onvergeetlike reis …
Hierdie humoristiese, hartroerende tienerboek uit die pen van Jaco Jacobs sal jou anders laat kyk na die dinge wat die lewe die moeite werd maak.
Oor die outeur
Jaco Jacobs is op Carnarvon in die Karoo gebore. Sy eerste boek, Troetelgedrog, het in 2001 by LAPA verskyn, en sedertdien het meer as honderd boeke vir kleuters, kinders en tieners uit sy pen verskyn. Sy boeke is onder meer bekroon met die Alba Bouwerprys, die C.P. Hoogenhoutmedalje en 19 ATKV-Kinderboektoekennings. Talle van sy boeke word met groot sukses by skole voorgeskryf, en in 2014 is ’n rolprentweergawe van sy gewilde tienerboek Suurlemoen! landwyd vrygestel. Hy woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, sy dogtertjies, Mia en Emma, twee honde, Pippie en Binki, en ’n baie stoute kantoorkat genaamd Lego wat sy bes probeer om Jaco uit die werk te hou.
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R155,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke