Boek: ‘Na die wette van Afskeid en Herfs’ – Daniel Hugo

Eddy van Vliets

Die Vlaamse digter Eddy van Vliet is een van die kragtigste stemme in die Nederlandse digkuns van ná die Tweede Wêreldoorlog.

Sy gedigte word gekenmerk deur universele temas soos die liefde en dood. Die digter bou met beeldende taalgebruik ʼn brose binneplaas in ʼn bedreigende wêreld, ʼn tydelike verblyf tot en met die onafwendbare verval. Sy bundels De binnenplaats (1987) en De toekomstige dief (1991) is hoogtepunte in sy oeuvre. Saam vorm hulle ʼn tweeluik van opbou en afbreek, van orde en chaos, van herinner en vergeet.

Na die wette van Afskeid en Herfs is ʼn keur uit Eddy van Vliet se digkuns. Dit is deur Daniel Hugo vertaal en het pas by Protea Boeke verskyn.

Yves T’Sjoen, hoofdosent in die Afdeling Nederlands van Gent-Universiteit se Vakgroep Letterkunde, skryf oor die bundel: “Van Vliet se gedigte is intens outobiografies, veral ten opsigte van die afwesige vader. Die digter is ʼn romantiese genealoog wat diep put uit ʼn veelbewoë lewe, maar hy bly weerbaar met ironie en selfrelativering.”

Oor die skrywer

Van Vliet (1942 – 2002) het 13 digbundels die lig laat sien. Sy werk is bekroon met die Reina Prinsen Geerligsprijs (1967), die Arkprijs van het Vrije Woord (1971), die Jan Campertprijs (1975) en die Staatsprijs voor Poëzie (1989).

Oor die vertaler

Hugo was ʼn spesialisomroeper by RSG en verantwoordelik vir die literêre program “Leeskring”. Hy is ʼn gerekende digter met 13 poësiebundels op sy kerfstok. As vertaler het hy reeds die werke van Tom Lanoye, Rutger Kopland, Herman de Coninck, Harry Mulisch, Herman van Veen en Cecily Mary Barker in Afrikaans vertaal.

Prys: R200,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boeke by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.