Boek: ‘Ouma Mollie en die Mensvreter’ – Fanie Viljoen

Fanie Viljoen

Haar naam is Mollewania Mollewiekus Nagtegaal. Maar jy kan haar sommer net ouma Mollie noem – die grootste moeilikheidmaker op Seeperdjiebaai. Gelukkig hou Nina haar ouma (gewoonlik) uit die moeilikheid.

Vandag is egter nie een van daardie dae nie. Dit begin toe ouma Mollie soos ʼn verdrinkende meermin in die bad lê. Gou laai sy vir Nina en Blapsie, die basterbrak, in haar kar, Spokie. Hulle sit af see toe. Dis waar hulle in groter moeilikheid beland, want ouma Mollie wil mos leer branderplank ry. En sy wil die dolfyne voer. En… Nee, wag, jy moet maar self lees wat toe gebeur het.

Ai, as ouma Mollie net geluister het toe Simon Jantjies vir haar waarsku dat daar ʼn haai in die water is.

Oepsie! Die arme haai…

Oor die skrywer

Trefferboeke soos SlymKlouBetowerBravoLuluAksieheld Austin en die Nova-wetenskapfiksiereeks het van Fanie Viljoen ʼn huishoudelike naam gemaak. Viljoen het in Welkom grootgeword. Hy het op skool reeds in kuns belang gestel, en afgesien van sy bekroonde skryfwerk vir kinders en jongmense, is hy ook ʼn illustreerder en visuele kunstenaar. Van sy skilderye het ʼn tuiste in die VSA, Australië, Kanada en Brittanje gevind. Sy boeke Betower en Afkop was naaswenners in twee van Lapa Uitgewers se jeugromankompetisies, en hy het al ʼn rits ATKV-Woordveertjies verower. Viljoen woon in Bloemfontein en skryf heeltyds.

Prys: R160,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by 
Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.