Boek: ‘Plaas se prys’ – Willemien du Preez

Willemien du Preez 

Die verteller en haar man, Liefie, besluit om digby aftrede hulle lewe in die stad agter te laat en ʼn plaas naby Greyton te koop. Hulle word verlei deur die blou berge en plattelandse idille. Wanneer hulle eers daar woon, word die egpaar egter ontnugter deur die werklikheid van die plaaslewe.

Daar is ʼn prys te betaal vir die mooi prentjies waarna gehunker word. Gif wat blom, plant, vrug en dier perfek vir die mark laat gedy sodat die landskap sag op die oog val, terwyl die versweë giwwe in die samelewing ook uitgespit word. Die alewige wind en vragmotors wat stof na die huis toe laat waai, teister hulle en stof word amper ʼn soort hoofkarakter in die verhaal. Liefie sukkel om die boerdery winsgewend te maak, terwyl die verteller tevergeefs met die bouers stoei om die plaashuis in haar droomhuis te omskep (en tevergeefs skoonmaak aan die stof!).

Volgens die uitgewer het Willemien du Preez, die skrywer van Plaas se prys, ʼn uitstekende waarnemingsvermoë. Haar beskrywing van die swaarkry en gesukkel op die plaas word met ʼn fyn sin vir humor verweef. Die leser word deel van die verteller, Liefie en hulle hond, Saar – asook hulle bure en die plaaswerkers – se leefwêrelde.

Oor die skrywer

Willemien is ʼn bekende Suid-Afrikaanse aktrise en, afgesien van haar verhoogrolle, sal lesers haar herken uit TV-programme en rolprente soos Dit wat stom is, Plek van die Vleisvreters, Bhai’s Cafe en Lipstiek Dipstiek.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R320,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.