Boek: Resepte om baba mee te verwelkom

Marlene Schoeman

’n Nuwe baba in die familie is altyd ’n vreugdevolle gebeurtenis en iets wat gevier moet word. Feesvierings kan egter ’n duur spulletjie word, veral as dit by gebak kom. Boonop is koekbak en -versiering iets waarteen baie mense opsien.

In Bak dit self wys Marlene Schoeman dat die mooiste laagkoeke nie ’n so ʼn uitdaging hoef te wees nie. Sy verduidelik hoe om versiersel te kleur, ganache te maak, koeklae egalig deur te sny en verskeie lae op mekaar te stapel sonder dat dit omval. Kaalkoeke (naked cakes) en ombré-koeke (koeke in skakerings) word selfs vir die mees onervare bakster toeganklik gemaak.

Daar is resepte vir elke smaak, van gewone vanielje- en sjokoladekoek, die immergewilde rooifluweel- en wortelkoek, geurige lemoen- en pynappelkoek, tot smullekker klam Hummingbird-koek. Resepte vir verskeie versiersels en strope is ook ingesluit.

Met behulp van hierdie boek hoef jy jou nie weer te bekommer oor wat om vir watter geleentheid te bak nie, want daar is dees vir die aankondiging van die baba se geslag, ooievaarstees, verjaardae en morskoeke (smash cakes) vir die belangrike klein mensie. Kom, trek jou voorskoot aan en bak dit self.

Oor die skrywer

Marlene Schoeman woon sedert 2014 in Ladybrand, digby die Maluti-berge in die Vrystaat. Haar man, André, is haar grootste inspirasie en in haar mooi ateljee by hul huis kan sy haar kreatiwiteit en skeppingsvermoë na hartelus uitleef.

As sy nie skryf of skilder nie, bak sy vir talle klante, of maak uit plastiese versiersel die voorwerpe en karaktertjies wat haar vorige boeke so gewild gemaak het. Sy doen ook landwyd suikerkunsdemonstrasies en is Bakels se plastieseversiersel-ambassadeur.

Schoeman se passie vir haar kuns blyk duidelik uit alles wat sy aanpak. Sy glo dat net die beste goed genoeg is wanneer jy iets vir ander mense voorsit. Soos sy tereg sê: “Mense kan afskeep proe.”

Prys: R345,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.