Boek-uittreksel: Bekroonde illustreerder gesels oor sy prente vir kinders

Chris Venter, die bekroonde kinderboek-illustreerder (Foto: Verskaf)

Wat verg dit om ʼn bekroonde kinderboek-illustreeder te word? Chris Venter reken dit vat oefening, navorsing en ʼn sak vol lewenslesse.

Venter, wat in Kaapstad woon en werk, het sy eerste ATKV Woordveertjie in 2011 vir sy illustrasies in Karla Krullebol gewen. Hy het ook Woordveertjies vir Waarvoor is seerowers bang, Nina en die wacky hare en Moenie die knoppie druk nie ontvang.

Hy het sedert 2009 meer as vyftig kinderboeke en verskeie opvoedkundige boeke geïllustreer. Sy jongste tekeninge verskyn in Hasie, hoekom is jou stert so kort? wat pas deur Tafelberg, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, uitgegee is.

Venter vertel meer van sy navorsingsproses en benadering tot illustrasies. Hy gee raad aan jong kunstenaars en vertel ook van ʼn paar blapse waaruit hy lewenslesse geleer het.

“Elke teks is anders en benodig dus ʼn ander soort aandag,” verduidelik Venter. “Ek doen deeglike navorsing voordat ek enigiets illustreer.”

Soms teken hy uit sy kop uit, maar ander kere is dit nodig om eers ʼn foto te soek, sê hy. “Dit is gewoonlik van ’n dier, kleredrag, of iets spesifieks waarna daar in die teks verwys word. As ek nie weet nie, gaan soek ek dit op.”

Venter lees eers die teks en maak tussendeur notas. Sodoende kan hy bepaal waar elemente in die uitleg geplaas moet word en hoe sy styl by die teikenleser en storie moet aanpas. Daarna volg die afmetings van illustrasies en insameling van foto’s en ander materiaal. Hy meen dit is belangrik om die grootte van die bladsy in ag te neem en om vooraf eers die sketse rofweg te teken.

“Doen eers rowwe beplanning met ’n potlood op ’n ander bladsy. Gebruik dit dan as ’n bloudruk vir jou hoofillustrasie,” gee hy raad. Hy raai ook jong illustreerders aan om die aandag op hoofkarakters en gebeurtenisse te vestig deur middel van agtergrondinligting.

“Onthou dat fyner besonderhede in die agtergrond help om die storie se wêreld te vergroot. Dit prikkel kinders se verbeelding en trek hulle dieper in die geskepte wêreld in.”

Venter laat die illustrasieproses moeiteloos klink. Maar hy erken dat dit ʼn vaardigheid is wat daagliks aandag verg.

“Onthou, jy gaan nie goed word as jy nie oefen nie. Dit is so met enigiets in die lewe. Vind jou eie manier van teken en verf, maar kyk ook na ander kunstenaars se werk en leer daaruit. Leer ook uit jou eie ‘foute’ uit,” sê hy. “Probeer net om met elke tekening of probeerslag te verbeter. Al hou jy nie van jou kuns nie, is dit nog steeds ’n manier om jouself beter te leer ken en te groei.”

Venter het baie uit sy eie foute geleer. Een daarvan is om nie oor besonderhede te tob nie.

“Ek is ’n perfeksionis en het al sperdatums gemis omdat ek te veel tyd afgestaan het aan fyn detail wat niemand eens raaksien nie,” erken hy. “Ek het dus geleer om eerder te stop en aan te beweeg as om op onnodige detail te hamer”.

Hy het ook geleer om terugvoer en kommentaar beter te hanteer, te luister en ʼn balans tussen werk en ontspanning te handhaaf.

“Die grootste fout wat ek al gemaak het, was om nie te lewe nie en net te werk. Dis baie belangrik om ruskanse tussendeur die werk te neem, anders kan ʼn mens uitbrand. Ek moes dit op die harde manier leer.”

Meer oor die boek

Hierdie verbeeldingryke stories oor die ontstaan van mense, diere en dinge is gunstelingvoorleesstories van kinders en ouers. Hierdie versameling bevat 14 verhale, saamgestel deur uitgewer Michelle Cooper. Dit sluit die San se pragtige verhaal in oor waar die sterre en Melkweg vandaan kom, hoe Hiëna sy hinkstappie gekry het, waarom die son in die lug hang, waarom Hasie se stert kort is, waarom Jakkals ’n swart streep op sy rug het, en meer.

***

Lees hier die titelverhaal uit die boek Hasie, hoekom is jou stert so kort? wat deur Linda Rode oorvertel is:

Lank, lank gelede, en ver, ver terug het die diere vir Leeu koning gemaak. Op ’n dag het Leeu sy koninklike brul gebrul en gesê: “Die land is droog en die reën bly weg. Julle moet almal kom help om ’n groot dam te grawe, want diep onder die grond is nog baie vars water.”

Die diere het gegrawe dat die stowwe staan. Hyg-hyg, hegge-heg, dat die tonge uithang. Net Hasie Kalbassie het alte lekker pootjies oormekaar in die skaduwee van ’n ghwarrieboom gelê en lag. Hy lewe sommer van die dou op die plante, sê hy. Hy het nie die ou dam se modderwater nodig nie, dankie!

Maar Leeu kén Hasie se streke. Toe die dam vol vars syferwater staan, maak Leeu vir Bobbejaan sit op die wal.

“Bobbejaan,” sê Leeu, “hou daardie twee swart ogies van jou oop. Sorg dat Hasie nie by ons dam kom water steel nie, die luie lak!” Dit was ook nie lank nie, toe was dit so.

Die skemer begin nog maar oor die veld val, en daar kom Hasie al aangetrippel. Hy het sy twee goudgeel kalbassies by hom. Die een is leeg, die ander is vol ghwarrieheuning. Doem-sikke-doem-sikke-doem-doem-doem! slaan hy met ’n stokkie op die leë kalbas.

“Soontoe, soontoe, ou maat!” skree Bobbejaan. “Dis óns water dié.”

Hasie lag dat sy twee lang voortande wit in die skemerlig wys. “Ek het baie beter water. Soet soos suiker,” sê hy. “Wil jy proe?”

“Ja, ja,” sê Bobbejaan gretig en staan sommer nader.

“Maar wag eers, Bobbejaan,” sê Hasie.

“Jy’s altyd so gulsig. Ek maak net eers jou pote vas, anders drink jy al my water op.”

O aarde! Bobbejaan het nooit eens ’n lekseltjie van Hasie se soet water gekry nie!

Een van Chris Venter se illustrasies in “Hasie, hoekom is jou stert so kort?”

Hasie het hom eers knuppeldik aan die dam se water gedrink, toe het hy die leë kalbassie vol water geskep en sing-sing teen die damwal uitgeklouter.

Die volgende môre kry die diere vir Bobbejaan met sy vasgebinde pote by die dam.

Hasie is natuurlik skoonveld.

“Ek soek ’n ander wag by die dam,” brul Leeu kwaad. Maar al die diere ken Hasie Kalbassie se skelmstreke en niemand sien kans vir hom nie.

Nie Vlakvark nie.

Nie Luiperd nie.

Nie Jakkals nie.

Leeu is woedend. Hy brul dat die kranse antwoord gee.

Toe kruie ou Skilpad stadig nader en sê: “Gee my ’n kans.”

Die ander diere lag, maar Skilpad loer net so onder sy oogvelle deur. Hy stap daar weg en gaan smeer sy hele dop dik met taai doringboomgom. Toe gaan lê hy in die vlak water sodat net sy dop uitsteek – en dit lyk net soos ’n ronde swart klip.

Een van Chris Venter se illustrasies in “Hasie, hoekom is jou stert so kort?”

Nog voor donker is Hasie weer hier met sy twee kalbassies. Doemsikke-doem-sikke-doem-doem-doem!

Hasie lag in sy snorbaarde. “Die ou klomp is natuurlik te bang vir my,” sê hy. “Vanaand dra ek die dam leeg.” En hy loop in die vlak water in. Hy spring op ’n gladde swart klip. Sjoeps! En wat is dit dan nou? Sy poot sit vas! Ruk en pluk, sjoeps, sjaps, spartel hy in die water.

Maar dis mos Skilpad, sien hy.

“My henetjie, Skilpad,” sê Hasie, “vir wat klou jy aan my agterpoot? Los, of ek trap jou dop in stukkies.”

Maar Skilpad lê doodstil.

Wlap! trap Hasie vir Skilpad met sy ander agterpoot, en toe dié ook vassit, smyt Hasie sy twee kalbassies dat hulle doer trek. Hy klap Skilpad met sy een voorpoot en toe met sy ander voorpoot, maar dit help alles niks nie. Al vier pote sit vas!

“Wag maar,” praat hy groot. “Ek het nog my twee ore,” en woep! en wap! slaan hy Skilpad met sy twee lang ore.

Daar sit sy ore ook vas!

“Nou sal ek jou ’n ding wys,” sê Hasie. “Ek sal jou raps met my stert.”

Floep! En daar sit Hasie se stert ook vas!

Toe lig Skilpad hom so effens en hy begin stadig aankruie deur die vlak water met Hasie Kalbassie op sy rug. En Hasie ruk en pluk so om sy pote los te kry dat Skilpad se dop vol knoppies raak.

Skilpad krabbel met Hasie tot by koning Leeu, en al die diere skree tegelyk: “Swaar straf vir hom! Swaar straf! Die allerswaarste straf vir die skelm haas.”

Daar begin Hasie te kerm en te huil. “Doen enigiets,” sê hy, “enigiets, maar moet my net nie aan my stertjie rondswaai nie.”

Natuurlik wil almal toe juis dit doen!

“Kom, Bobbejaan,” brul Leeu. “Kom swaai jy vir Hasie. Maar vinnig, hoor, en behoorlik wild.”

Bobbejaan trek Hasie van Skilpad se dop af. Toe begin hy hom aan die stert rondswaai.

Ag wat, net met die tweede swaai breek Hasie se stertpunt af, en daar trek hy oor die veld dat net ’n vaal strepie wys.

Bobbejaan staan verstom en kyk na die stukkie haasstert in sy poot. Hasie Kalbassie was weer glad te slim vir hulle almal!

Van daardie tyd af sit Hasie graag op sy stomp kwasstertjie, want hy is tog ’n bietjie skaam omdat hy net so ’n klein stukkie stert het.

En by Leeu se dam het hy nooit weer gedrink nie!

***

Die uittreksel en illustrasies is goedgunstig deur Tafelberg, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf. Besoek NB-Uitgewers se Facebook-blad wat nuus oor kinderboeke in Afrikaans deel.  

Genre: Kinder- en jeugfiksie
Ouderdom: Nul tot ses jaar
Uitgewer: Tafelberg
Prys: R195,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.