Boek-uittreksel: Bestanddele vir ʼn Wenvrou-resep

Hier volg ʼn uittreksel uit Koeke en terte deur Susan Coetzer.

Sponskoeke

Hoe identifiseer jy ’n plein, droë sponskoek in ’n saal vol vroue? Dis moeilik, want Sponskoeke het die neiging om ander vroue se eienskappe op te suig soos ’n spons eerder as om hulle uniekheid uit te leef. Gooi karamel oor ’n sponskoek en die sponskoek word ’n karamelkoek. Dieselfde gebeur wanneer jy sjokolade of vla gebruik.

Sponskoeke kruip graag agter ander meer baldadige en uitgesproke vroue weg. Hulle verkies om nie opvallend te wees in ’n groep nie en dra graag kamoefleerpakkies in skakerings van beige of bruin wat hulle maklik met die agtergrond laat saamsmelt. Selfs hulle skoene is gewoonlik beige of bruin en ryg meestal toe met veters, soos skoolskoene.

Hulle haarstyle is deel van die incognito-strategie. Dis prakties en verg min instandhouding en trek min aandag. Kuiwe is wel gewild, want dit steek al een derde van hulle gesigte weg. Sponskoeke het nooit uitspattig gekleurde of flambojante salonkapsels soos ander in die saal nie.

***

Sponskoeke glo nie in hulleself nie. Hulle bestaan feitlik net uit vrees, onsekerheid en senuwees. Dit maak my so hartseer, want ek self was ook ’n skaam, jammer-dat-ek- leef-vrou, iemand wat verkies het om in ander suksesvolle vroue se skadu te leef. Tot ek uit die boks geklim en my potensiaal begin ontwikkel het. Hoe? Deur ’n paar nuwe wenbestanddele by my resep te voeg soos die Meesterbakker dit aan my geopenbaar het.

***

Herinner hierdie oorbeskeie, skaam vrou, wat haarself gedurig in geselskap as die stert eerder as die kop posisioneer, jou dalk ’n bietjie aan jouself? Sponskoeke glo nie in hulle potensiaal om wenners te wees nie. Maar dit hoef nie so te wees nie. Met ’n paar kopskuiwe en nuwe gewoontes kan die meeste Sponskoeke hulle ware identiteit ontdek en met selfvertroue begin leef. Dit vra egter van ’n Sponskoek om bereid te wees om haar oop te stel vir die ongemak van vernuwing. No pain, no gain.

Jy sal jou ou denke oor jouself as ’n plein droë Sponskoek in die asblik moet gooi, jou kamoefleerdrag moet uittrek en dit moet waag om jou volle potensiaal as eiesoortige wenvrou aan te trek.

Hoe weet jy of jy ’n Sponskoek is, of ’n bietjie soos ’n Sponskoek? Is jy besonder skaam, geïnhibeerd en sonder selfvertroue? Beskou jy jouself as minderwaardig wanneer jy tussen uitblinkervroue is? Kyk jy met verwondering na ander vroue se gawes eerder as om jou sterkpunte te ontgin? Vorm jy jou menings volgens wat ander dink en sê? Is jy bang vir konflik? Is jy bang vir foute maak en om te misluk? Hou jy baie van jou talente en gawes en ’n groot deel van jou persoonlikheid onontgin onder die maatemmer weggesteek?

Die meeste van ons het ’n stukkie Sponskoek iewers in ons. Ek het beslis. Sponskoek is nie ’n slegte bestanddeel nie. Dit het baie pluspunte as dit nie die heel grootste deel van jou samestelling oorheers nie. ’n Sponskoek is sag, sensitief, oop en ontvanklik vir nuwe opinies en invloede, net soos ’n badsponsie wat die seepwater opslurp.

Ons almal het mekaar nodig om soms ontvanklike sponsies te wees vir nuwe en opbouende invloede op ons lewenspad sodat ons kan groei na emosionele en geestelike volwassenheid. In die Bybel lees ons dat Lidia ’n oop sponshart vir Paulus se boodskap gehad het. Dit het daartoe gelei dat sy ’n volgeling van Jesus geword het en gedoop is.

***

My raad aan Sponskoeke is: Wees oop en ontvanklik vir ander se aanbevelings, maar wees ook ’n waaksame hekwagter voor jou welstand. Stel gesonde grense. As jy twyfel oor iemand se raad of invloed, vra God vir meer onderskeidingsvermoë. Maak seker die mense wat jy by jou invloedsfeer inlaat, onderdruk nie jou natuurlike en egte eienskappe en jou unieke persoonlikheid, identiteit en styl nie. Jou missie moet wees om die beste weergawe van jouself te word – nie ’n afskrif van iemand anders nie.

Word wie jy veronderstel is om te wees. Jou eerste stap en verantwoordelikheid is egter om jou geskenkpakkie oop te maak en jou vermoëns en vaardighede wat die Here vir jou gegee het te ontwikkel. Ontdek en ontwikkel jou unieke kombinasieresep. Dit sal van jou vra om op jou selfbewussyn te fokus in plaas van die groepbewussyn, wat voorheen jou instinktiewe reaksie en gemaksone was.

Bemoediging en wenke vir Sponskoeke

Susan Coetzer (Foto: Susan Coetzer/Facebook)

Spons gerus die idees en menings van ander wyse mense op, maar leer ook om al die inligting te sif. Behou net wat jou gemaklik laat voel. Moenie ander se opinies of sienings uit gewoonte opslurp nie. Sponse raak soms lui om self te dink. Leer daarom om self-innoverend, kreatief en vernuwend te wees. Bring ook jou eie idees na die partytjie toe, hoe vreemd of simpel dit ook al vir jou klink. As jy bang is om hardop voor mense te praat, skryf dit net eers neer.

Waag dit om bewustelik uit jou sponsieboksdenke te ontsnap. Só sal jy word wie jy veronderstel is om te wees, in plaas van net ’n afskrif of ’n fan van iemand anders. Moenie ongeduldig wees met jouself nie. Jy sal nie oornag in ’n dapper mens met baie selfvertroue verander nie. Gee baba-treetjies vorentoe. Stel vir jou haalbare doelstellings. As jou idee afgeskiet word, staan op en gaan soek verder.

***

Wees dapper, wees sterk, wees vasberade en wees doelgerig om jóú volle potensiaal in God te verwesenlik.

Slypskool vir Sponskoeke

Dink nou mooi na oor hierdie vrae en skryf jou antwoorde in jou joernaal neer.

  • Is jy ’n Sponskoek? Motiveer jou antwoord.
  • Het jy sommige van die eienskappe van ’n Sponskoek?
  • Wat is jou sterkpunte?
  • Wat is jou swakhede?
  • Wat is jou natuurlike talente?
  • Wat is jou geestelike gawes, geïnspireer deur die Gees van die Here?
  • Wat is jou drome?
  • Wat is jou passies?
  • Hoe lyk die nuwe jy waarin jy wil verander?
  • Watter bestanddele wil jy uit jou huidige resep weglaat?
  • Watter nuwe bestanddele wil jy byvoeg om die beste jy te word?
  • Wat is vir jou haalbare doelwitte vir hierdie week, hierdie maand, hierdie jaar?
  • Wat is jou lewenstaak as jy dink aan die kombinasie van al jou geestelike gawes, natuurlike talente en sterkpunte wat die Here spesifiek in jou geskenkpakkie geplaas het om die wêreld mee te verryk?

Die Woord vir Sponskoeke

  • 2 Timoteus 1:7
  • Josua 1:9
  • Filippense 4:13
  • Jesaja 49:1-6

***

Oor die boek

Koeke en terte gee jou skreeusnaakse wenke oor die verskille tussen mans en vroue en verskillende tipe vroue. Dit is geskik vir almal wat ’n goeie humorsin het – en veral vir hulself kan lag. Susan Coetzer takel ernstige onderwerpe soos dat jy as vrou goed genoeg is, jy nie so hard op jouself moet wees nie en jy genoeg is vir God net soos jy is. Sy help jou om jouself te leer waardeer en jou eie gawes te ontwikkel en om by jouself en ander te leer.

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.