Boek-uittreksel: Carel Boshoff skryf oor tuiskoms, padwysers

Hier volg ʼn uittreksel uit die inleiding van Samehang en padwysers onderweg. Dit is deur Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting, geskryf.

***

Die verband tussen die begrippe tuiskoms en samehang kom helder aan die lig as mens hulle elkeen op sy logiese spanningslyn plaas, naamlik vervreemding-tuiskoms en verbrokkeling-samehang. Net soos Afrikaners se ervaringswerklikheid in die teken van vervreemding staan, staan dit ook in die teken van verbrokkeling; net soos ons ʼn sin vir tuiskoms nodig het om die vervreemding te oorkom, het ons ʼn sin vir samehang nodig om die verbrokkeling te oorkom. Maar wat word hier met verbrokkeling bedoel?

Daar is goeie rede om te aanvaar dat ʼn mens se persoonlike identiteit minder individueel van aard is as wat ons dikwels veronderstel. Binne verskillende lewensverbande is daar instellings en beskouings wat vir die individuele persoon betekenisgewend, selfs identiteitsbepalend is, byvoorbeeld gesin, kultuur-gemeenskap en werksverband, kerk, geloof en wetenskap, buurt, status, inkomste, besteding, ensovoorts. In ʼn moderne samelewing maak hierdie verbande en oortuigings dikwels verskillende en teenstrydige aansprake op mens se lojaliteit, en hoewel ʼn mate van spanning ʼn gegewe is, kan dit te veel word om in goeie ewewig te hou. Dan kan die persoon dit ervaar as dat hy of sy in verskillende, selfs botsende wêrelde woon.

Dink byvoorbeeld aan die wetenskaplike wêreldbeskouing waarvan die ingenieur in sy werk uitgaan, wat in spanning kan staan met die geloofsbeskouing van sy kerk, of sy gesin se bestedingspatrone wat in spanning kan staan met sy inkomste, veral as sy voldoening aan owerheidsvereistes vir openbare kontrakte in spanning staan met sy politieke voorkeure of sy sin vir regverdigheid, of as die informele voorwaardes vir die oorweging van tenders in stryd is met sy morele oortuigings of sy sin vir integriteit. Om aan al die eise tegelyk te probeer voldoen, is net moontlik as mens waterdigte skeidings tussen die lewensverbande aanbring en uiteindelik in ‘n verbrokkelde wêreld leef.

Dit is ons waarneming dat Afrikaners in besonder se wêreldbeeld en ervaring tans in die teken van verbrokkeling staan. Hoewel die gedagtes wat hier aangebied word, nie bedoel is of in staat is om op alle terreine samehang te verseker, of selfs net spanning te verlig nie, hoop ons dat dit wel op sekere terreine die geval sal wees. As ons daarin kan slaag om ʼn sin vir samehang tussen die verskillende wyses waarop ons mense vir hulle volk wil intree, te help bewerkstellig, is hierdie poging al die moeite werd.

*

Padwysers is goed wat ʼn verlede oproep én ʼn toekoms voorspel. Padwysers, soos die paaie self, kan net bestaan deurdat hulle êrens in die verlede daargestel is. Anders as die satellietgedrewe, virtuele navigators wat onlangs nog hulle eie toestelle kon regverdig, maar nou op elke selfoon in elke voertuig help om bestuurders se ruimtelike oriëntering in die war te stuur, maar betyds by hulle bestemming te besorg, is padwysers deel van die landskap. Mens moet hulle net raaksien en reg verstaan, maar dit kan niemand waarborg nie.

Die arme Hananja, byvoorbeeld, wou ook maar die Jode in die vreemde opbeur en het seker regtig verwag dat hulle Babiloniese ballingskap spoedig verby sou wees, maar hy het die tekens verkeerd gelees. Hy sê oor twee jaar is hulle terug in Jerusalem, en dit word sekerlik goed ontvang, maar dit is nie werklikheidsgetrou nie en Jeremia kasty hom daaroor. “Dit is groter as wat julle dink,” het Jeremia gesê, “maak julle reg vir drie of meer geslagte!” Hy het die Here se stem reg verstaan, want dit was inderdaad hoe sake verloop het.

orania-betonletters

Orania in die Noord-Kaap. (Foto: verskaf)

Die Orania-gedagte is gebore uit ʼn poging om die krisis waarin Afrikaners hulle aan die einde van die vorige eeu bevind het, nie gering te skat nie. Die veranderings gaan groot en blywend wees, het ons voorgangers aangevoer, en hulle was reg. Daar is ook redes vir die toestand waarin ons ons bevind, en as ons nie ons lewenspatrone gaan verander nie, as ons nie ʼn groter sin vir geregtigheid aan die dag gaan lê nie, as ons ons welvaart op ander se arbeid gaan bly bou, sal ons bestaanswyse nie volhoubaar wees nie.

Dit grens aan die godsdienstige, maar in hierdie boek bly ons aan die duskant van die teologie; diegene wat daarvoor toegerus is, moet maar daaroor praat. Waarvan ek as gelowige wel oortuig is, is dat mens God nie kan bestuur nie, by name nie deur goeie werke te gebruik om sy beloftes af te dwing nie. Op sy goeie tyd sal Hy, soos Jeremia sê, ons Hom laat vind – ʼn moeilike uitspraak, maar om ʼn goeie rede. Verootmoediging is nie ʼn meganisme nie.

Die praktiese wyse waarop die argumente wat in hierdie boek vervat is, poog om die padwysers van ons politieke landskap reg te verstaan, word dus nie teenoor geloofsinsigte gestel, asof die een nie ruimte vir die ander sou hê nie. Dit word soms selfs in geloofstaal uitgedruk, maar dit staan in die teken van te doen wat ons hand vind om te doen, hier en nou. Dit is die teenoorgestelde van te “bid en wag”, daardie seker resep vir vrome mislukking in die ondermaanse orde waaraan die politiek sy noodsaak ontleen.

Padwysers het dus ʼn geskiedenis. Dit ís dalk die geskiedenis, as mens nou digterlik wil raak. Maar die weg wat dit aanwys, is die weg na die toekoms. Sonder om op pad te wees êrens heen, sonder om ʼn bestemming wat bereik moet word, in gedagte te hê, is nóg die openlike, nóg die bedekte padwysers van enige belang. Daarom is die padwysers waarom dit hier gaan, net soveel met die toekoms as met die verlede gemoeid.

Om die afgelope tien jaar se ontledings van omstandighede en gebeure wat ons ten nouste raak, weer onder oë te neem, is dus nie dieselfde as om in die verlede vas te val of daarna terug te verlang nie. Inteendeel, om van ons onlangse verlede te verstaan wat ons tóé belangrik gevind het en wat ons daar van die toekoms verwag het, en waarom, is ook nóú belangrik as ons gereed wil wees vir wat die toekoms kan inhou.

Daarom voeg ons nou die tien jaarlikse ontledings wat van 2014 tot 2023 aan die begin van elke jaar gepubliseer is, plus twee tussentydse ontledings saam, om as geheel gelees te word. Soms is dit bloot interessant om herinner te word aan wat die afgelope tyd groot gewig gedra het, en om op ʼn groter afstand te oorweeg of dit reg of verkeerd beoordeel is. Min van die kragte wat oor die afgelope dekade aangewys kon word, het sedertdien hulle momentum heeltemal verloor, en baie daarvan het nog net voelbaarder geword. Die verlede is, as ons weet waarvoor om op te let, nooit verby nie, en bepaal nog deurentyd die vorm wat die toekoms besig is om aan te neem.

*

Die formate waarin die “strategiese ontledings” sedert 2014 aangebied is, vertel ʼn verhaal van hulle eie. Dit word hieronder behou soos dit telkens gepubliseer is, al het daar mettertyd veranderings ingetree. Die eerste ses ontledings is in my hoedanigheid as president van die Orania Beweging gedoen op ʼn tydstip toe die organisasie se grondwet nog bepaal het dat sy lede (sy “burgers”) aan sy bestuursorgane “staatstigtende gesag” verleen, saam met die opdrag om staatstigting na te streef.

Dit dateer terug na die era, sowat twintig jaar tevore, toe die Beweging se voorganger, AVSTIG, oortuig was dat dit moontlik moes wees om by wyse van onderhandeling met die toepaslike rolspelers, ʼn volkstaat tot stand te bring. Suid-Afrika se staatkundige orde was die vloeibaarste ooit sedert 1910, maar as die moontlikhede wat dit ingehou het, benut moes word, sou iemand met ʼn mandaat daartoe na vore moes tree.

Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting.

Aangesien die volkstaatgedagte (wat tereg ook as “opofferende partisie” beskryf is) vir te veel Afrikaners na die prysgawe van ’n baie groter aanspraak gelyk het, was politieke partye nie bereid om met ʼn tang daaraan te vat nie. Voorstanders, soos diegene wat mettertyd hulle energie op Orania gekonsentreer het, het intussen die fondamente gelê vir toepaslike optrede as die geleentheid hom sou voordoen. Terugskouend was dit nie ʼn vrugbare poging nie en soms dink mens maar met deernis aan ons eie optimisme. Maar: eerder gereed as om onverhoeds betrap te word, was die benadering.

Vandaar die ongewone aanspraak op ʼn  “volk-staat betoog”, ʼn soort alternatiewe “state of the nation address” – behalwe dat dit hier oor die volk en nie die nasie nie, sou gaan, en oor die stand eerder as die staat van die volk. (Om die “stand van ons mense” na die “staat van die volk” te vertaal en dit dan as “volk-staat” te verwoord, was ʼn grootliks verlore toespeling op die woord “volkstaat”, wat in die eerste dekades van die huidige eeu nie algemene byval gevind het nie – niemand het skynbaar die verskil tussen “volk-staat” en “volkstaat” raakgesien nie.)

Daarby is ook nie voorgegee dat die “president van Orania” op meer kon aanspraak maak as waartoe hy ʼn mandaat gehad het nie. Dit was eerder ʼn poging om ʼn gewigtige verantwoordelikheid na te kom en ʼn platform te skep waarop die denkbeelde wat die Orania-gedagte onderlê het, ook onder ander Afrikaners se aandag te bring. Ons het immers uit die staanspoor van ʼn diepe lotsverbondenheid onder Afrikaners uitgegaan, of hulle reeds die gedagte ondersteun het of nie.

Sedertdien het ek, na twaalf jaar, die bepaalde posisie ontruim om aan die hoof van die nuwe Vryheidstigting te staan – ʼn instelling wat ʼn nuwe vryheidsidioom onder Afrikaners moes help vestig. (Die Vryheidstigting is, interessant genoeg, nie die opvolger van AVSTIG [die Afrikanervryheidstigting] nie, maar van SABRA, wat inderdaad vaderskap van AVSTIG, soos van die Oranjewerkers wat hom voorafgegaan het, én die Orania Beweging wat hom opgevolg het, aanvaar.) Dit was dus wenslik om met dieselfde soort ontledings voort te gaan, hoewel ietwat anders verpak. Die doel was deurgaans om ʼn toepaslike woordeskat vir ons omstandighede en eise te probeer ontwikkel en vestig.

Oorsigtelik beskou was die inrigting telkens dieselfde: ʼn oorsig oor die voorafgaande jaar, gevolg deur vooruitsigte vir die daaropvolgende jaar, met ten slotte strategiese sleutelpunte waarop in die komende jaar gefokus moes word. Die ontledings was egter struktureel eerder as aktueel – hopelik ook aktueel – en het selde indien ooit met eenjaar-, of selfs driejaar- of vyfjaar‑doelwitte gewerk. Dit is ook nie vanuit ʼn posisie met veel uitvoerende vermoë gedoen nie, met die gevolg dat die implementeringswaarde beperk was tot die mate waarin ander besluitnemers se denke daardeur beïnvloed kon word.

Dit is natuurlik bykans onmoontlik om vas te stel hoe groot die invloed van die ontledings was. Soms het mens gevoel dat dit geen inslag vind nie, maar dit het jou later verras met die uitwerking wat jy tog kon bespeur. Soms het dit tot lewendige bespreking gelei, wat waarskynlik wel ʼn uitwerking op besluite gehad het. Om die twaalf hoofstukke wat volg nou saam aan te bied, berus op die verwagting dat daar ʼn onderliggende samehang van denke is wat, saam gelees, beter aan die lig kom as wat met die aparte uitgawes die geval was.

Die Vryheidstigting vertrou dat, soos dit telkens gestel is, hierdie werk meningsvormers en besluitnemers sal toerus om vir die Afrikaner ʼn volhoubare bestaan en ʼn bloeiende toekoms te help skep.

***

Hierdie uittreksel uit Samehang en padwysers onderweg is goedgunstig deur die Vryheidstigting verskaf. Dit volg op Tuiskoms: Waar ons vandaan kom en waar ons heen gaan wat in 2022 verskyn het.

Samehang en padwysers onderweg kos R250 (prys onderworpe aan verandering). Om die boek te bestel, stuur ʼn e-pos na [email protected] of skakel 079 514 4901.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.