Luister: Gehalteleierskap kan verpleging na ’n volgende vlak neem

Prof. Siedine Coetzee, beklee tans die departement van wetenskap en tegnologie en die Nasionale Navorsingstigting se navorsingsleerstoel in verpleegkunde aan die Noordwes-Universiteit. (Foto: NWU se fakulteit gesondheidwetenskappe/Facebook)

Suid-Afrika se gesondheidsorg word deur verskeie uitdagings in die gestaar – van ʼn tekort aan personeel, ʼn ongelyke verdeling tussen private en staatshospitale, te min hulpbronne en gebrekkige infrastruktuur, tot swak bestuur en leierskap by hospitale en ook op provinsiale en nasionale vlak.

Daar is waarskynlik geen wonderkuur vir Suid-Afrika se sukkelende gesondheidsorg nie, maar gehalteleierskap kan ʼn daadwerklike verskil maak om van die probleme in dié bedryf op te los.

Dit is die mening van prof. Siedine Coetzee, wat tans die departement van wetenskap en tegnologie en die Nasionale Navorsingstigting (NRF) se navorsingsleerstoel in verpleegkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) beklee.

Sy het reeds talle artikels in die veld van verpleegkunde op nasionale en internasionale vlak gepubliseer en is nou besig om ʼn leierskapsinstituut vir verpleegkundiges te vestig.

Coetzee sê daar is wêreldwyd ʼn ernstige tekort aan verpleegpersoneel. Tog benadruk sy telkens die mense wat hierdie beroep volg, is steeds passievol en roepingsgedrewe.

“Ons gesondheidsorg, plaaslik en internasionaal, was klaar in moeilikheid voor die pandemie, maar verpleegpersoneel ervaar tans verhoogde vlakke van uitbranding.”

Coetzee sê tydens die pandemie het verpleegpersoneel ingespring en gedoen wat hulle moes om deur die krisis te bowe te kom, maar hulle is soos iemand wat ʼn motorongeluk oorleef het en nou na afloop van alles berading benodig.

“Ek verduidelik die krisis so: Ons het 100 soldate gehad, maar net 50 kon aanmeld, en vir die 50 het ons net 25 wapens gehad, en toe stuur ons hulle in die pandemie in om in die voorste linies te veg. Ná dit alles sit ons met 40 soldate en 20 wapens, en boonop is al ons soldate gewond en besig om te bloei.

“Die pandemie het gewys verpleegpersoneel kan. Hulle het aangemeld en hulle is lief vir hul werk, maar is hulle is getraumatiseerd en sukkel voort sonder die nodige personeel en hulpbronne.”

Coetzee is egter oortuig as gesonde en gelukkige verpleegsters ontwikkel word, sal daar ook soveel meer gesonder en gelukkiger pasiënte wees.

Maroela Media het by Coetzee uitgevind wat van die grootste uitdagings vir plaaslike verpleegsters en vroedvroue is en hoe haar navorsingsleerstoel hierdie kwessies wil probeer oplos.

  • Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.
  • Besoek die NWU se webwerf om op hoogte te bly van Coetzee en haar navorsingleerstoel se werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.