Boek-uittreksel: Die verdriet van België

Hier volg ʼn uittreksel uit die eerste hoofstuk van Die verdriet van België deur Hugo Clauss. Dit is uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo.  

Die Besoeker

“Kom, Louis, ons gaan skep ʼn bietjie vars lug,” sê Oupa.

Op die speelterrein draai die rondomtalie met ʼn fyn piepende geluidjie. Vlieghe het dit ʼn woedende draai gegee toe hy wegloop.

Pappa hou sy hand bo sy yl wenkbroue asof hy na die see by Blankenberge kyk (verlede somer, honderde mense met kaal skouers wat in die branders joel) en nie na die kapel se klokgewel nie (waar Vlieghe nou kniel en die Heilige Maagd om vergiffenis vra vir sy wantroue en woede).

Oupa voel aan die laaghangende tak van die peerboom. By die kelderkombuis drentel ʼn paar kleintjies. Nie so lank gelede nie het Louis ook daar in die ry gestaan, in die kombuiswalms, tien sentimeter korter, met Vlieghe se nat hand in syne.

“Ons is baie tevrede met ons Louis,” sê suster Adam. “Hy staan eerste in gewyde geskiedenis en in aardrykskunde.”

“En in rekeningkunde?” vra Oupa.

“Dit is nog ʼn probleem,” antwoord die non.

“Dit het hy by sy pa gekry,” sê Oupa.

“Dis reg,” sê Pappa. “Ons kan nie almal so slim wees soos jy nie.”

Oupa haal ʼn wit sakdoek uit en druk dit teen sy voorkop en min hare. Dan frommel hy die sakdoek tussen sy effens geplooide nek en stywe boordjie in. Die pêrel op sy grys das weerkaats die lig.

“Louis,” sê hy, “ek is nie ontevrede nie, maar daardie rekeningkunde van jou, jy sal ernstig daaraan moet werk. En jou algemene gedrag is ook nie watwonders nie, het ek gehoor.”

“By goed ingeligte bronne,” sê Louis.

Oupa steek die punt van sy ringvinger in sy neus en wikkel dit venynig. Hy trek sy vinger weer uit sy rubberneus. “Jy met jou gladde bek,” sê hy.

Pappa is bekommerd. Hy trek sy oë op skrefies. Bysiende?

Nee, so het Wilhelm Tell gekyk toe hy sy kruisboog span en mik na sy seun onder die appelboom.

“Onthou,” sê Oupa en tik teen Louis se boarm, “ek gaan jou rapport bestudeer as jy vir die vakansie huis toe kom. En kêrel, jy moet dink aan ons Seynaeves se goeie naam.” Hy loop weg. Vir die eerste keer sien Louis dat sy bene krom is soos dié van ʼn ruiter.

“Terloops,” sê Pappa, “hier, dis vir jou.” Louis herken die reuk dadelik. Hy vat die bekende papiersakkie met die silwer kursiewe krulletters by hom. Dit is gevulde sjokolades van die bakkery om die hoek van die Instituut – die sakkie is verkreukel, Pappa het dus al daarvan geëet. Vir alle sekerheid kyk hy in die sakkie. Sommige donker- en ligbruin klonte is aanmekaargesmelt. Hy sit die sakkie in suster Adam se uitgestrekte hand.

“Vanaand kry jy twee,” sê die non. “Daar is seker nie sterk drank in nie, nè, meneer Seynaeves?”

Pappa gee ʼn tik. “Wat ʼn gedagte, Suster!” sê hy en dadelik word hy ingetoë, byna vroom. “Beslis geen sterk drank nie, Suster. Af en toe ʼn biertjie, omdat dit warm is of jy tussen mense is. Maar sterk drank?” Hy kyk reguit in Louis se gesig. “As ek moet weet dat hy later ʼn drinker gaan word, kap ek sommer nou sy twee hande af.”

“Ja,” sê de non. “Moederowerste het op ʼn keer per ongeluk op ʼn begrafnis twee sjokolades geëet waarin Elixir d’Anvers was. Dit het reguit na haar kop toe gegaan.”

Dit is ʼn leuen. Dit het háár, suster Adam, oorgekom. Ná vyf of ses sjokolades. Louis soek na tekens van die leuen in die onaantasbare ovaal gesig wat in die kappie vasgeknyp sit.

“Goed,” sê Pappa en kug.

“Moenie gaan nie,” sê Louis. “Nie nou al nie.”

“Nee,” sê Pappa en wag. “O, ja,” sê hy toe, “met Mamma gaan dit goed. Dit wil sê: goed en nie goed nie. Jy het seker gedink sy sal kom, maar dis vir haar nogal moeilik. Wat ek vir jou wou sê, Mamma stuur vreeslik baie groete.”

“Sy wil nie kom nie,” sê Louis. Teen sy sin klink dit vraend. (Een-en-veertig dae gelede toe sy die laaste keer hier was, het Mamma gesê: “Wat kom ek nou eintlik hier doen? Ek laat my hele huishouding in die steek en as ek hier is, sê jy niks vir my nie. As ek iets vra, is dit net ‘ja’ of ‘nee’ en verder staan jy na my en kyk soos ʼn domonnosel ding. As jy liewer wil hê dat ek nie meer moet kom nie, Louis, moet jy so sê. Dis mos waar, jy sê nooit iets uit jou eie nie.”)

“Natuurlik wil sy kom,” sê Pappa, “maar hoe kan ek dit verduidelik?” Hy draai sy Pienk, welige gesig hulpeloos na suster Adam en sê toe bitsig vir die peerboom: “As sy nie kan nie, dan kan sy nie, uit en gedaan.”

“Louis is ʼn bietjie ongedurig,” sê die non. “Dit is ook van die weer. Hierdie skielike hitte.”

“Ja, daar kom ʼn storm,” sê Pappa.

Sy self is ongedurig. Waarom? Jy mag niks bevraagteken nie. Jy mag ook nie vra waarom jy niks mag bevraagteken nie.

“Die sjokolades kom van die bakkery om die hoek,” sê Louis.

“Dis reg,” sê Pappa.

“En die hitte het dit laat smelt.”

“Wat maak dit nou saak?” sê die non. “Dis tog die smaak wat tel.”

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Protea Boekhuis verskaf.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R395,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by 
Protea Boekhuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.