Boek-uittreksel: Mevrou Smit bemeester fyn kuns van ‘tannie-wees’

Hier volg ʼn uittreksel uit Elizabeth Wasserman se boek, Die fantastiese mevrou Smit. WAARSKUWING: Die uittreksel bevat krutaal wat nie geskik is vir kinders of sensitiewe lesers nie.

“Verdomp.”

Mevrou Smit slaan hard rem aan en die bakkie kom met ʼn ge­skree van rubber op teer tot stilstand.

Die enjin ruk dood.

“Halsstarrige donkie,” brom sy en sukkel met die aansitter. Agter haar lê iemand op ʼn toeter. Sy draai die ruit af, druk ʼn stewige boarm na buite en volg met die kop. “Kan jy nie sien ek probeer om daai ou feeks en haar brak nie dood te ry nie?”

Die vroutjie wat amper die ongeluk veroorsaak het, het die wolhondjie wat sy onder haar arm vasgeknyp het intussen op die sypaadjie aan die linkerkant neergesit. Sy leun op haar kierie, reg om die bekgeveg te aanskou. Die brak blaf histeries.

“Jy!” gil mevrou Smit wat die ou tante uit die hoek van haar oog raakgesien het. “Dis alles jou skuld. Vir wat loop jy sommer so oor die pad?”

Die tante beduie met haar kierie na die sebrastrepe, reg voor die bakkie se neus.

Die man agter leun weer op sy toeter.

Mevrou Smit is lus om iemand te lyf te gaan. Dis net moeilik om te besluit wie: die ou sening met haar kierie of die swerkater agter haar? Sy gluur briesend in haar spieëltjie. ʼn Man met ʼn hoed, in ʼn Mercedes, nogal.

Vrotsel.

Sy onthou wat haar terapeut voorgestel het. Voorstel is miskien die verkeerde woord. “Luister nou mooi vir my,” het hy gesê, “as jy aanhou om jou humeur so te verloor, is my geld op ʼn beroerte. Vraag is net of jy die tronk sal haal voor jou bloeddruk jou deksel afblaas.”

Haar neusvleuels sper en sy haal diep asem. Tel tot twaalf. Tien is nie genoeg vir haar nie.

Dan besoek sy haar plek van rus en vrede, ook volgens die terapeut se raad. Sy maak haar oë toe en leun terug teen die sitplek. Sy roep ʼn bergspits op, mis wat onder haar kolk. ʼn Arend skree in vlug. Sy steur haar nie aan die Mercedes wat met skreeuende bande aan haar regterkant versnel nie. Sy hoor nie die laaste woedende blaas van die toeter nie.

Die tante verloor belangstelling en skuifel aan.

Iemand klop aan die passasierskant se ruit en stap om na die oop venster aan die bestuurskant.

“Is u orraait, dame?” vra ʼn stem, saaklik, maar besorg.

Mevrou Smit se oë vlieg oop, dadelik weer reg vir baklei: “Kan julle my nie verdomp net uitlos nie? Ek mediteer. Mag ʼn vrou dan nie onversteurd die uiters stresvolle reis na innerlike vrede onderneem nie?”

“Dame, het u gedrink?”

Met skrefiesoë beskou sy die man in die blou uniform. Sy het ʼn nuwe rol om te vertolk en sy kan net so wel nou begin. Bowendien het alkohol nog altyd beter vir haar gewerk as tel tot tien, of bergspitse probeer oproep.

“Boetman, dis hoog tyd.” Sy vroetel in die groot pienk handsak by die voetruimte van die passasiersitplek en bring ʼn halfbottel brande­wyn te voorskyn.

Sy het brandewyn begin drink in die Krugerwildtuin. Dis een van die gewoontes wat saam met haar nuwe identiteit gekom het. Sy weet hoe om ʼn prop met ʼn vinnige beweging af te draai. Voor die verbaas­de oë van Aronspoort se enigste konstabel neem sy ʼn teug so diep dat haar wange hol trek.

Tevrede breek sy ʼn wind op wat konstabel Pieterse in sy gepoleerde stewels laat steier.

***

“Ongehoord,” sê sy die volgende oggend toe konstabel Pieterse haar uiteindelik uit die dorp se enigste sel vrylaat. Sy plak haar handsak hard op die toonbank in die klagtekantoor neer.

“Ongehoord, sê ek jou, om ʼn vrou so in ʼn sel toe te sluit sonder ʼn duidelike aanklag. Jy kan niks bewys nie, konstabel, behalwe dat ek ʼn ongeluk voorkom het. Volgende keer ry ek die ou teef mors­dood. Sê vir haar: as sy ooit weer voor my voertuig inloop – ”

“U het die openbare rus versteur, mevrou … Smit. En boonop het u onder die invloed bestuur. Dis net jammer dokter Tomas was iewers op plaasbesoek en kon nie u bloed betyds trek vir ontleding nie.”

“Ek was onder geen invloed nie, jong man, behalwe my geson­de verstand. As ek nie so skerp gerem het nie … Werklik, watter mentaliteit het hierdie dorp se bestuurders? Daardie man met die Mercedes, waar is hy? Hoekom is hy nie ook agter tralies nie?”

“Toeter blaas is nie teen die wet nie, mevrou. Maar die gebruik van alkohol in die openbaar – ”

“Dit was in die privaatheid van my eie bakkie!”

“Bestuur onder die invloed – ”

“Bewys dit.” Mevrou Smit gluur hom aan. Sy weet goed hoe hel­der nugter sy was tot sy daardie prop afgedraai het. En sy is nie die kans gegun om weer te bestuur ná daardie sluk brandewyn nie.

“Toemaar, hierdie keer laat ek u wegkom met ʼn waarskuwing, maar in hierdie dorp tree mense beskaaf op. Dit sal goed wees as u dit onthou, as u ooit weer hierlangs kom. Die pad terug Kaap toe is daarlangs.” Pieterse beduie na die hoofstraat se kant toe. “Voorspoedige reis.”

Mevrou Smit gee ʼn snork. Die kêreltjie het sowaar die kat aan die stert beet. Maar sy is nie nou lus om sy dag te bederf nie. Daarvoor sal sy wel nog oorgenoeg kans kry.

***

Haar bakkie staan voor die polisiekantoor geparkeer. Sy sluit dit oop en klim in. Die ruim is bedompig, reeds warm gebak in die oggendson.

Hoe kon sy gedink het dis ʼn goeie idee om ʼn bakkie aan te skaf? Sy verlang na die blinkrooi Porche Boxter wat Jerry vir haar gekoop het, ʼn leeftyd gelede. Rooi soos die lipstiffie wat sy so graag gedra het. Deesdae gebruik sy kleurlose lipsalf en die bakkie lyk walglik. Stamperig, beknop, en die reuk van die vorige eienaar klou steeds aan die bekleedsel vas.

Wat het haar besiel om Aronspoort toe te kom?

Die plek is duidelik vol mal mense.

Maar die besluit om hierheen te kom, het sy noukeurig oorweeg. Sy het ʼn plan en sy moet daarby hou.

Die waarheid is dat sy ʼn heerlike nagrus gehad het. Sy is in haar skik. Die lorrie met haar besittings kom eers vandag en sy het voor­sien dat sy die eerste nag op haar nuwe tuisdorp in een of ander muwwerige gastehuis sou mos slaap, dalk selfs in die bakkie. As die polisiesel ʼn aanduiding was van die algemene lewenstandaard op die dorp, het sy die jackpot geslaan.

Die vaal kombers wat netjies op die voetenent van die ysterkatel opgevou was, het na waspoeier geruik. Die sel was kraakskoon en daar was ʼn wasbak met lopende water en ʼn toilet met water wat blou skuim met elke trek. Daai plastiekgedoentes met ʼn blokkie ontsmettingsmiddel wat jy aan die binnekant van die bak ophang. Nou nie die tipe fieterjasie wat gepas het in die soort huishouding wat sy met Jerry gedeel het nie, maar nietemin, sy waardeer die aan­dag aan detail.

Nogtans het sy glad nie uitgesien na die eerste nag in haar nuwe huis nie. Dit is so finaal. Sy wou nog vaskleef aan haar herinneringe en aan die limbo van die afgelope maande waarin sy haar transfor­masie na tannie voltooi het.

Om ʼn tannie te wees is ʼn fyn kuns en dit het toewyding gekos om dit te bemeester. Dis belangrik om aan haarself as ʼn tannie te dink: om polisiemanne “jong man” te noem in plaas daarvan om met hulle te flankeer om uit die moeilikheid te kom.

Nou grinnik sy vir haarself in die truspieël van die bakkie en stoot haar vingers deur haar kortgeknipte sout-en-peper hare. Gelukkig het sy vroeg begin grys word, soos haar pa. En nou, met die laaste blonde slierte uitgegroei, is dit asof haar hare nuwe lewe gekry het: Dit staan regop in alle rigtings, asof elektrisiteit uit haar brein vloei. Die goueraambril stoot sy terug op haar neus. Die bril is blote vermomming. Daar is niks fout met haar oë nie, maar die glas weerkaats die lig sodat haar oë bykans altyd onsigbaar is. Boonop raak die lense donker in direkte sonlig.

Eintlik ʼn aaklige bril.

Skielik oorval ʼn doodse moegheid haar, want sy het die einde van haar reis bereik. Hier sal sy veilig wees.

Haar maag grom. Sy het gewoond geraak aan ʼn goeie ontbyt en die plattelandse lug stimuleer haar aptyt. Sy kan ʼn beer opeet.

***

Elizabeth Wasserman, skrywer van ‘Die fantastiese mevrou Smit’. (Foto: Peter van Noord)

ʼn Klop aan die bakkie se ruit bring haar terug na die hede. Dis die tante wat die oorsaak was van al die ellende van gister.

Mevrou Smit sug. Sy rol die venster af.

“Jy!” skree die vrou en wys met die punt van haar kierie na mevrou Smit. “Hulle sê vir my jy het Apie se huis gekoop?”

Hoe weet sy dit miskien? Maar op ʼn dorp soos dié is daar seker min hoop om enigiets geheim te hou. Haar maag gee ʼn onrustige draai.

“En wie is u, mevrou?” Dalk moet sy probeer om vriendeliker te wees. Voor haar is ʼn dun streep waarop sy sal moet loop om afstand tussen haar en die dorpenaars te hou.

Onsigbaar wees kom nie natuurlik nie.

Sy sal moet leer.

“Nee, ek is gʼn mevrou nie.” Die vrou skuif die kierie na haar linkerhand, leun haar gewig daarop en steek haar regterhand uit. “Jy dink aan my dogter, sy’s mevrou. Ek’s tannie Annatjie.”

Mevrou Smit skud die hand en voel die tingerige been vlak onder die vel.

“Aangename kennis, tannie. Ek is mevrou Smit.”

Die “tannie” val effens swaar van haar tong af. Maar sy sal haar bes doen.

Tannie Annatjie kyk haar deur: van die kroon van haar halsstarrige hare, oor die geblomde hemp en los broek wat haar liggaamsvorm doeltreffend verbloem. Dan rek sy haar dun nek om deur die oop venster te kan loer, verby mevrou Smit se vol borste tot by die aaklige paar Birkenstock-sandale wat op die bakkie se pedale rus. Dan sê sy: “Daar is net een ‘mevrou’ op die dorp en dit is my Elsa. Sy is mevrou Dominee.”

Sy het probeer, maar tot hier toe en nie verder nie. “Nou maar sê dan maar vir haar daar is nou nog ʼn mevrou op die dorp. Mevrou Smit.” Sy draai die aansitter en trek weg met ʼn moedswillige gedraai van die wiele.

In haar truspieël sien sy hoe tannie Annatjie haar kierie vies in die lug agter haar aan waai. Sy grinnik.

Aronspoort.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Penguin Random House verskaf. Klik hier om Die fantastiese mevrou Smit aanlyn op Penguin Random House se webwerf te bestel. Die boek kos R290 (prys onderworpe aan verandering).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.