Boek-uittreksel: Navorsing werp lig op figure in Middeleeuse filosofie

‘n Kunswerk van Plato, Seneca en Aristoteles (ca.1325–1335) (Kunstenaar onbekend)

Hier volg ’n uittreksel uit die voorwoord van Middeleeuse Filosofie. Dit is deur Johann Beukes geskryf.

Die begrip ‘Middeleeuse filosofie’ is ’n paradoks. Dit sou moeilik wees om selfs een denker vanuit die Middeleeue te isoleer wat aan homself of haarself as ’n filosoof gedink het, of wat uitsluitlik filosofiese oogmerke en belange gehad het, of wat filosofie suiwer ter wille van filosofie beoefen het. Middeleeuse skrywers vanuit die Latynse Weste het aan hulleself as ‘teoloë’ gedink, was oorwegend met ‘teologiese’ vraagstukke besig en het selde suiwer ‘filosofiese’ werke geproduseer.

Vir Middeleeuse skrywers was ‘filosowe’ die antieke denkers van in besonder vanaf die 4de eeu BCE, dus vanaf Plato en Aristoteles, tot so laat as by die Neoplatoniese Plotinus in die 3de eeu. Middeleeuse skrywers het oorwegend teologiese werke geskryf waarin die hulp van antieke filosowe, veral op die trajekte van Plato en Aristoteles, ingeroep is om komplekse ‘teologiese’ vraagstukke te verhelder. Die integrasie van die dogmatiese en die sekulêre is juis wat Middeleeuse filosofie van antieke, Renaissance en moderne filosofie onderskei: vandaar Aquinas (1225-1274; 5.1) se beroemde beskrywing van filosofie (via Petrus Damianus, 1007-1072; 3.4) as philosophia ancilla theologiae, dienares van teologie.

Maar die paradoks (vergelyk ook Gracia 2006:1)2 gaan wyer: uiteraard het Middeleeuse skrywers nie aan hulleself as in ‘die middel’ van enige era gedink nie. Die woord Middeleeus is bloot ’n begrip wat deur humaniste vanuit die Italiaanse Renaissance geskep is om ’n sogenaamde ‘donker’, ‘onbeskaafde’ era tussen die twee ‘beskaafde’, ‘verligte’ eras van die antieke en vermelde Renaissance aan te dui – die begrip Donker Era is trouens eers vanaf die 19de eeu as ’n gewilde (uiteraard pejoratiewe) naam vir die Middeleeue gebruik (Hannam 2009:15).

Tog bly hierdie sogenaamde ‘Donker Era’, ten spyte van die skynbare afwesigheid van outentieke filosowe in die antieke sowel as in die moderne sin, die grootlikse afwesigheid van filosofiese werke pura et vera asook die latere humanistiese en modernistiese vooroordele, die langste en ook een van die rykste periodes van filosofiese ontwikkeling in die Weste. Trouens, in terme van volume, konseptuele uitsette, intensiteit en gesofistikeerdheid, staan die skolastiese hoogbloei van die 13de en 14de eeue nie terug vir die goue era van Griekse filosofie vanaf die 4de eeu BCE nie. In daardie sin was die Middeleeuse denkers ongetwyfeld ook filosowe.

Nog gaan die paradoks wyer: Middeleeuse filosofie is as ideehistoriese verskynsel net soveel aan die Arabiese en Joodse denkers en hulle erfenisse verskuldig, as aan die Latyns-Westerse denkers. Daar is ’n merkwaardige hoeveelheid Joodse en Arabiese filosowe wat in hierdie boek aan die woord gestel word, veral in die Karolingiese en post-Karolingiese periodes. Die beskikbaarstelling van die Hellenistiese erfenis, veral met betrekking tot die Aristoteliese tekste, is nie gedurende die Karolingiese Renaissance in Latyn ondervang nie, maar het via die Arabiese kringe en ‘Oosterse’ denkers soos Alkindi (2.3), Alfarabi (2.6), Ibn Sina (Avicenna, 3.3), Algazali (3.7) en talle ander vanaf die laat-9de eeu in Arabies na die Westerse denkers van die 10de eeu en later deurgesypel.

Latynse vertalings van die Griekse tekste was dus van meet af aan gebaseer op die Arabiese vertalings van die Griekse tekste. Die rehabilitasie van Aristoteles4 in die vroeg- en hoog-skolastiek is volledig toe te skryf aan die vertalings en kommentare van Arabiese denkers soos Alkindi, Alrazi, Alfarabi, Algazali, Ibn Sina en ook die latere Maimonides en Ibn Rushd (Averroes). Middeleeuse filosofie is daarom sowel Occidentaal as Oriëntaal; sowel Latyns as Arabies-Joods.

Waar begin Middeleeuse filosofie egter en watter denkers behoort in die Middeleeuse korpus ingesluit of daarvan uitgesluit te word?5 Die Middeleeuse periode bestryk meer as ’n duisend jaar en behoort genuanseerd in kleiner eenhede gedateer te word. Indien die periodiseringskeuse in hierdie werk, naamlik om die denkarbeid van Augustinus (354-430; 1.1) as die vroegste inleier tot Middeleeuse filosofie te ag en Nikolaus van Kusa (1401-1464; 6.37) as die “laaste Middeleeuse en eerste Renaissance filosoof ” (Moran (2007:143) of dalk tog as die “poortwag van die moderne” (Gilson 1940:404) aan te bied, sou hierdie diskursiewe keuse altyd eers verantwoord moet word.

Augustinus is die sleutelfiguur in hierdie vraag, want dit is sy posisie in die Middeleeuse ensiklopedie wat altyd in dispuut sal wees, synde óf die eerste Middeleeuse denker (indien die eerste geslaagde barbaarse inval in Rome in 4106 as die aanvang van die Middeleeue aanvaar word), óf die laaste denker van die Neoplatoniese (en Latyns-patristiese) periodes, óf selfs die laaste antieke denker, óf dalk wel die wesenlike deurgangsfilosoof tussen die antieke en die Middeleeue (sien Luscombe 1997:7). Die gevierde Middeleeuse navorser Fredrick Copleston (SJ; 1972:27–49) plaas Augustinus baie duidelik in die laat-patristiese en Neoplatoniese periodes, dus eksplisiet voorafgaande tot die Middeleeue, terwyl Kenny (2005:3–5) en Brown (1967:2) Augustinus om tematiese oorwegings as ’n Middeleeuse denker hanteer – en hierin my ondersteuning geniet.

Twee uitstaande Middeleeuse inleidingsnavorsers, Luscombe (1997:9) en Marenbon (1998:15), volstaan met die skarnieraanduiding en hanteer Augustinus dus as ’n oorgangsfiguur tussen die patristiese periode en die Middeleeue. Augustinus is, vanuit die gebrek aan konsensus vanuit juis hierdie kwaliteit navorsingsgeselskap, die denker wat die aanvangsvraag in Middeleeuse periodisering telkens weer die skerpste oproep. Hoewel ’n gestandaardiseerde periodisering van Middeleeuse filosofie altyd oop vir hersiening behoort te wees, kan daar vanuit hierdie keuse ‘vir Augustinus’ aanwysbaar en argumentatief met ses nuut-verantwoorde, institusiehistoriese periodes in hierdie millenniumlange epog gewerk word (sien ook Beukes 2011b:2; 2012a:2):

  1. Die post-Romeinse periode (5de tot 7de eeu [410 {Alaricus I en die eerste barbaarse inval in Rome} tot 668 {d.Konstans II}], met Augustinus [354-430] en Boethius [480-524] as die belangrikste filosofiese eksponente);
  2. Die Karolingiese periode (8ste tot 9de eeu [742 {g.Karel I} tot 877 {d.Eriugena}], met Alcuin [730-804] en Eriugena [815-877] as die belangrikste Latyns- Westerse geleiers van die Karolingiese Renaissance, met inbegrip van die opkoms van Arabiese filosofie in die Ooste en later in Andalusiese Spanje);
  3. Die post-Karolingiese periode (10de tot 12de eeu [877 {d.Eriugena} tot 1088 {aanvang van die kruistogte en die opkoms van die universiteitswese}], met Anselmus [1033-1109] en Abelardus [1079-1142] as die mees gevolgryke onder die Latyns-Westerse denkers wat sou baat by die rehabilitering van die antieke erfenis in die Karolingiese Renaissance);
  4. Die vroeg-skolastiese periode (11de tot 13de eeu [1088 {stigting van die Universiteit van Bologna, die eerste Europese universiteit} tot 1225 {g.Aquinas}]);
  5. Die hoog-skolastiese periode (13de tot 14de eeu [1225 {g.Aquinas} tot 1349 {d.Ockham}, met Aquinas, Duns Skotus en Ockham as die beroemdstes onder die hoog-skolastici]);
  6. Die post-skolastiese periode (14de tot 15de eeu [1349 {d.Ockham} tot 1464 {d.Kusa}]).

Ek kies dus, met inbegrip van die statuur van Copleston in die navorsing, om Augustinus saam met Kenny, Luscombe en Marenbon binne die Middeleeuse korpus te plaas, op sterkte van die datering van die post-Romeinse periode hierbo. Kusa (1401-1464; 6.37) sal in die laaste afdeling van die boek aangedui word as inderdaad die laaste ‘post-skolastikus’: Sonder om die kritiese verantwoording van die begrip in hierdie laaste afdeling van die boek vooruit te loop, sal aangedui word dat Kusa die kenmerkende post-skolastiese kritiek van die universiteitskolastiek en die afstandname van filosofie as institusionele aktiwiteit, gedeel het. Kusa het skoolgebondenheid volledig getransendeer: Hy was so min Skotiaans as wat hy Ockhamiaans was. Hy was nie langer ’n tipiese skolastikus wat, met gebruikmaak van uiters tegniese jargon, quaestiones of quodlibeta geskryf en die tradisie daarmee gekommentarieer het nie.

***

Middeleeuse Filosofie bestaan uit twee volumes wat aanlyn te koop is by Die Winkel en by Protea Boekwinkel se hooftak in Pretoria. Die uittreksel is goedgunstig deur Akademia Uitgewery verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.