Boek-uittreksel: Omdat ons saam is

Hiermee ʼn uittreksel uit die eerste hoofstuk van Omdat ons saam is deur Elsa Winckler. Dit is deel van Lapa Uitgewers se Romanza-versameling.

Net ná die lang draai in die pad trek Bella af en hou stil. Van hier af het ’n mens die mooiste uitsig op Greyton en die lieflike Riviersonderendberge wat hoog agter die klein dorpie uittroon.

Sy het pas deur kilometers van die Overberg se landerye gery wat goudgeel staan van die koring, reg om seker binne dae geoes te word. Hier en daar is daar reeds landerye waar bale strooi opgerol lê.

Reeds as student het sy verlief geraak op die dorpie se ouwêreldse sjarme. Tannie Peet, wat lank op Greyton gebly het, het dit toegeskryf aan die feit dat die destyds  beplande pad tussen Greyton en McGregor nooit gebou is nie. Wat ook al die rede, die dorpie het sy karakter van lank terug behou.

Die wêreld is skoon gewas; dit lyk of dit onlangs gereën het. Haar plan was om vroeër hier te wees, maar sy het haar so verkyk aan die wolkformasies teen die laslapkoringlande dat dit vinnig laat geword het, veral omdat sy ook foto’s geneem het. Dalk, iewers vorentoe, kan sy van die tonele skilder.

Vandat sy kan onthou, bekoor die natuur haar.

Seker omdat sy in die stad grootgeword het. Sy onthou die eerste keer toe hulle na die kleinhoewe is wat hulle pa langs die Vaalrivier gekoop het. Presies hoe oud sy was, weet sy nie, sy onthou net sy het dadelik haar kryt gaan soek en begin teken – die rivier, die bome en die diere.

Terug in die stad het sy geleer om op te kyk na die wolke, die weerkaatsings in die vensters van die hoë geboue, dit fassineer haar altyd.

Haar vingers tintel. Haar kwaste en verf is ingepak. Sy het baie lank laas iets geskilder, maar deesdae sukkel sy selfs om die kaartjies en etikette waarmee sy haar geld verdien klaar te maak. Hopelik is hierdie gevoel in haar vingers ’n goeie teken. Dalk inspireer Greyton se skoonheid haar weer opnuut, want o, aarde, sy het hope en hope nodig. Vinnig ook. Haar lewe is op die oomblik koersloos.

Sy voel-voel aan haar keel. Vanoggend het sy met ’n krapperigheid wakker geword en sy hoop regtig dis teen vanaand oor. Vir siek word, het sy nie nou tyd nie.

“Tannie Peet, seriously, ek wens ek het geweet hoekom jy ons dwing om vir ’n maand in jou huis te kom bly,” brom sy terwyl sy uitklim. Tannie Peet is maande gelede al oorlede en kan haar nie hoor nie, maar sy moet haar frustrasie lug oor die belaglike stipulasie in haar tante se testament.

Haar susters het elkeen reeds ’n maand in tannie Peet se huis kom bly en hulle het hul erfporsies gekry. Al twee is intussen getroud met mans wat hulle tydens hul verblyf op Greyton ontmoet het. Glo hul sielsgenote, het hulle vir almal vertel wat wou luister. By hulle is daar dus geen begrip vir haar frustrasie nie, want albei sweef nog êrens ver bo die werklikheid op ’n pienk hartjiewolkie.

Haar susters het ten minste goeie, opbouende, inspirerende redes gehad hoekom hulle wou seker maak hulle kry wel hul erfporsie van tannie Peet. Leen gebruik haar deel om haar aanlyn winkel te vergroot en Livie het ’n huis hier op Greyton gekoop wat sy gaan omskep in ’n plek van veiligheid vir vroue en kinders.

En sy wat Bella is? Sy wil net oorleef en nie heeltyd bekommerd wees of sy genoeg kaartjies gaan verkoop nie. Regtig pateties. Sy het geen hoër ideale nie geen sosiale gewete wat sy wil stil nie, sy wil net oorleef.

Dis November en heerlik warm, maar sy kry vreemd koud. Geïrriteerd vryf sy haar neus. Sy wil nie siek raak nie. Sy het bestellings vir kaartjies wat sy moet klaarmaak en hopelik inspireer iets haar om weer te skilder.

Aan mans en flippen sielsgenote wil sy nie dink nie. Sy deel nie sommer haar persoonlike dinge op sosiale media nie, maar toe sy uiteindelik sover gekom het om vir Leo Bruwer te sê sy wilhom nooit  weer  sien  nie,  het sy haar Facebook-status met ’n groot glimlag na “single” verander. Ellendige mansmens, hy maak nog steeds die lewe vir haar onsmaaklik alhoewel sy al maande gelede hul verhouding beëindig het.

Alle mans is nie soos hy nie. Haar pa en haar susters se mans is voorbeelde van hoe mans kan wees. Sy het ook besef sy moet met iemand praat oor wat tussen haar en Leo gebeur het. Die sessies by die sielkundige het haar baie gehelp, maar van ’n verhouding wil sy nie gou weer iets weet nie.

Haar foon lui. Dis Livie.

“Bella, is jy al by die huis? Sleutel gekry? Hoekom het jy jou nommer verander? Is dit oor Leo?”

Bella nies. “Skuus. Jy’s nog op jou wittebrood; ek het nie gedink ek gaan van jou hoor nie.” Hopelik vergeet Livie van haar laaste vraag.

“Oe, dis … wonderlik. Net wonderlik. Maar vertel eers – is jy al op Greyton? En hoekom nies jy? Is jy besig om siek te raak? En die nuwe nommer?”

“Ek moes ’n later vlug kry …”

“Laat ek raai. Jy het deur die nag gewerk en het verslaap?”

Bella lag. “So iets. Maar ek is net buite die dorp …”

“En jy moes net stilhou en uitklim en eers na die berge kyk, nè?” terg Livie. “Dis wat jy altyd wou doen toe ons naweke van Stellenbosch af vir tannie Peet gaan kuier het.”

“So ’n mooi prentjie vir my.”

“Ek hoop jy word geïnspireer om weer te begin skilder,” sê Livie. “Die skets in pastelle van die Pieke op Stellenbosch wat jy gemaak het toe jy nog ’n student was, bly een van my gunstelinge.”

Bella rol haar oë. Haar susters kan so aanhou en aanhou oor ’n ding. “Dalk iewers vorentoe, maar op die oomblik is ek besig om kaartjies te maak. Wanneer kom julle terug?”

“Ons is nog twee weke hier, seker teen die Saterdag, maar jy het nog nie my vraag oor Leo beantwoord nie.”

Bella sug gelate. Livie weet altyd wanneer daar fout is met een van hulle. “Ek was regtig nie verder lus vir Leo se mislike boodskappe nie.”

“Dan is ek bly oor jou nuwe nommer. Daai man is net bad news. Hoekom dit jou so lank geneem het om dit in te sien, kon ek nog nooit verstaan nie. Ek neem aan jy het ook vir Pa en Leen jou nuwe nommer gegee?”

“Natuurlik.”

“Ek sien op Instagram Karina vertel sy gaan vir jou op Greyton kuier?” vra Livie. “Ek’s bly julle jonges deel so alles op sosiale media. Op dié manier weet ek darem wat in jou lewe aangaan.”

“Asof jy so oud is. Jy weet in elk geval wat in my lewe aangaan, jy en Leen maak ’n punt daarvan om álles te weet.”

“Natuurlik. Jy is nog al een wat nie getroud is nie, onthou? Ek is bly jy en Karina kom so goed oor die weg. Vir haar en haar susters en natuurlik hulle ma het ek die grootste respek. Hulle is omtrent ’n gedugte span trou-organiseerders.”

“Julle twee se aanstaandes wou mos nie wag nie; die arme vroue het hulle elke keer doodgewerk.”

“Hopelik dalk weer binnekort,” lag Livie. “Greyton het ’n manier …”

“Nie jy ook nie, asseblief. Leen stuur al van gister af vir my boodskappe oor die Greyton-magic en hoe sy hoop ek kry ook my droomman hier. Ek stel op die oomblik in geen man belang nie, soos in glád nie.”

“As jy so sê. Hoor by Karina of haar susters nie ook wil kom kuier nie? En natuurlik hul ma. Ek is mal oor tannie Alice. Sal lekker wees om hulle weer te sien.”

“Ons het nie ’n vaste afspraak nie, maar ek sal by haar hoor.” Met ’n laaste kyk na die wolke wat nou van vorm verander het, klim Bella in die motor. “Nou

toe, gaan honeymoon jy nou verder, ek wil ry.”

“Wel, onthou net, nou sal jy die sleutel by Wian se huis moet gaan haal …”

“Maar ek kry dit mos by die apteek?” Bella is dadelik omgekrap. Net die noem van die man se naam maak haar binnegoed jellierig. Sy kyk in die truspieël, maar die pad agter haar is skoon.

“Dis Greyton, nie die stad nie. Jy sal dalk nog ’n kafee oopkry, maar die banke en die apteek maak Saterdae eenuur toe. Teen dié tyd is Wian heel waarskynlik op Genadendal. Hy het sommige Saterdae ’n kliniek daar vir die inwoners. Hy is ’n goeie vriend van ons en het ook gereël dat die huis skoongemaak word, so wees nice, oukei? Ek stuur vir jou sy nommer. Wat is dit in elk geval met julle twee? Hy kan ook sy kake so styf span wanneer ek van jou praat.”

“Ek het nie gedink ek hoef hom te sien nie.”

“Wel, hy is die apteker en as ek jou so luister, moet jy dalk medisyne kry, so probeer asseblief vriendelik wees.”

“Ja, ja. Oukei, ek gaan nou ry, groete vir jou bruidegom!” roep Bella en lui af. Sy glip weer op die pad. Haar foon blieb. Met ’n vinnige kyk in die pad voor haar, lig sy haar foon. Dis ’n boodskap van Karina, lekker.

Ek gaan nie die week by jou uitkom nie! #deurmekaarlewe

Ai, dis jammer, maar miskien ook beter so. Hopelik skud sy die krapperigheid in haar keel vinnig af, dit sal dan lekkerder wees om te kuier. Bella kyk weer vinnig in die pad voor sy blitsig ’n boodskap vir Karina tik.

Enige ander tyd. Ma en susters ook welkom. #onsgaankuier

Haar oë was net ’n breukdeel van ’n sekonde op haar foon, maar toe sy opkyk, is daar ’n skaap reg voor haar in die pad. Sy trap rem, die motortjie beur vanself regs, glip van die pad af, huiwer ’n wyle in die lug voor dit met die voorste wiele binne-in ’n vlak sloot beland.

Agter haar is ’n harde toet en remme wat skree.

Dêmmit. Die enjin vrek, sy probeer dit aan die gang kry, maar pure verniet. Sy probeer weer, maar haar motortjie maak nie ’n geluid nie. Bewerig laat sak Bella haar kop op die stuurwiel. ’n Skaap in die middel van ’n teerpad? Hoe is so iets moontlik? Sy het skaars weggekyk …

Daar is ’n harde klop teen haar ruit en sy lig haar kop … en kyk vas in Wian Visser. Sy moet hallusineer. Wat is die kans dat die eerste mens wat sy naby Greyton sien, juis die een is wat sy glad nie wil sien nie. Hy was toe seker wel op Genadendal soos wat Livie gesê het.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lapa Uitgewers verskaf.

Genre: Fiksie
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R95,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.