Boek van die maand: ‘Die boek van gelukkige eindes’

Met Split, haar debuut van 2015 wat met die ATKV-prys vir prosa bekroon is, het Debbie Loots soos die titel suggereer die verbrokkelende aard van verhoudings verken, dié buite maar ook binne die eg. Dié ervarings het sy geplaas binne die wêreld van veral drie vroue oor drie geslagte. Die mans binne die tweepasse wat beskryf word, het gewoon nie die stamina óf durf wat die vroue het nie.

Verlaat ʼn mens jou op die gegewe op die agterblad van Loots se jongste roman, Die boek van gelukkige eindes, wil dit voorkom asof haar fokus geskuif het. Asof dit nie meer vroue in die kollig is nie, maar ene Chris, ʼn bekende Kaapse sielkundige wie se lewe skielik van alle kante bedreig word. Hy mag die spilpunt (en katalisator) wees, maar dit is nietemin die vroue met wie hy in verhoudings is wat aan hom substansie gee, én dit is vroue wat vir dié geslepe allesweter eindelik ore aansit.

Die naam van Willemien word nie eens op die agterblad genoem nie, hoewel sy ʼn volronder karakter in die roman word as Chris (van wie die leser weliswaar veel te wete kom). Willemien is dalk uit dieselfde soort lap geknip as Lien in Split. Nie net ten opsigte van daadkrag nie, maar ook in die manier waarop ʼn sin vir die estetiese (kuns, modeontwerp) in dié karakters geaktiveer word.

Om van hul lewens te probeer uitpluis, soos karakters in romans doen, word aan die een kant ʼn (power) vorm van psigoterapie, met Chris as kwaksalwer in die stoel, toegepas, en aan die ander kant, veel meer dinamies, verskillende kunspraktyke: van klere maak en skilder tot installasie- en performance-kuns.

Op die oog af dek die roman die hele spektrum ten opsigte van geslag, klas, ras en seksuele oriëntasie. Maar net wanneer die leser meen alles loop klopdisselboom, kom Loots vernuftig vorendag met talle wendinge, verrassings en ontknopings.

Soos in Split is dit die skrywer se fyn waarnemingsvermoë en skeut sinisme wat Die boek van gelukkige eindes so ʼn aweregse boek maak. Heelwat van die dilemmas waaraan die karakters hulle blootstel of waarin hulle bevind is niks meer nie as sosiale konstruksies.

So word die huwelik byvoorbeeld beskryf as “archaic, oprressive institution” (62), as bestaande uit “ononderhandelbare, vasgestelde rolle” (86) en as “ʼn primitiewe en argaïese instansie, vasgestel deur kerk en kultuur. Almal doen dit” (86).

En rolle binne die huwelik as: “Sy ma het hom eenkeer gesê ʼn vrou is soos ʼn blom. Dis die man se plig om haar water te gee. Sonder water verwelk sy, en vrek” (88).

“Liefde bestaan nie,” sê die een karakter by geleentheid. “Dis ʼn woord wat mense opgemaak het om ander te mislei, te onderdruk, te manipuleer, sodat ʼn patriargale sisteem in stand gehou kan word” (241).

Soos wat mense vroeër van die kerk antwoorde verwag het om die warboel wat hul lewens is te help ontrafel, blyk dit uit dié roman dat die sielkunde ook nie daarin kon slaag nie. Dis nou die beurt van kuns om die haas uit die hoed te trek. Die ateljee (of motorhuis waar kuns gemaak word) en uiteindelik die performance het die plek vervang van die spreekkamer.

Loots weef ʼn verhaal wat heg en pas; sy hou koers met ʼn magdom karakters op tou en sy bou en behou spanning reg deur haar verhale. So bly die leser byvoorbeeld nuuskierig leidrade volg om meer te wete te kom oor ʼn newekarakter soos Mike, Willemien se app-genererende seun. Tog moet ek sê ek is spyt Mike word nie gewoon net ontmasker as ʼn goth nie. Dit kon ʼn groter verrassing gewees het.

Debbie Loots se Die boek van gelukkige eindes word uitgegee deur Queillerie en kos R265.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.