Boek van die maand: ‘Die versoeking van Thomas Maas’ deur Chris Karsten

As jy nog nie voorheen kennis gemaak het met Ella Neser nie, is dié jongste misdaadroman van Chris Karsten die ideale geleentheid. Sy is die jong speurder wat ná ʼn blaaskans in die Karibiese Eilande nou terug is in Johannesburg as private speurder by Pepler, Neser & Makgaleng, Investigators & Security Consultants.

Sy is pas in dié posisie aangestel en sy raai haar kliënte aan om haar eers te gaan google – net om ʼn idee te kry van haar vernuf en deursettingsvermoë as speurder. As jy – soos haar kliënte – niks van haar weet nie, kan jy meer oor me. Neser se doen en late te wete kom in Karsten se Abel Lotz-reeks en daarna ook die romans Die verdwyning van Billy Katz, Die dood van ‘n goeie vrou, Koms van die motman en Man uit die dode.

Al dié voorafkennis is egter nie nodig om jou te verkneukel aan die versoeking waarvoor ene Thomas Maas in die jongste roman te staan kom nie – én die (private) speurwerk wat Neser in die proses moet doen nie.

Thomas Maas is getroud, het drie jong kinders en is ʼn middeljarige sielkundige met ʼn gevestigde praktyk. Sy praktyk lewer niks op waarvoor hy nie raad en antwoorde het nie. Sy vrou het hom ondersteun ná ʼn vinnige affair wat hy tevore met ʼn kollega gehad het, en sy drie kinders is toonbeelde van ʼn middelklasbestaan in Northcliff. Patty speel klarinet, Antonie is in ʼn rystoel ná ʼn ongeluk – dié suster en broer is ʼn tweeling – en die laatlam Florie is versot op perde.

Dit is waar Amalia Rojas, ʼn Latyns-Amerikaanse vrou wat so smeulend soos haar van is, in die prentjie kom. Sy besit die perdeplaas waar Florie perdry.

En dit is tegelyk ook waar Ella Neser in die prentjie kom, want Donna het sterk snuf dat die versoeking Thomas weer beet het.

Daarby word die vroeë tekens van Alzheimer se siekte gediagnoseer by Rolf, Donna se pa, en op dié manier word die aftakeling van die middelklasbestaan van gesin Maas ook gesuggereer.

Die roman val uiteen in twee hoofdele. Die eerste is ʼn chronologie van die ondersoek, gerekonstrueer aan die hand van onderskeidelik Thomas en Donna se weergawes, en voorsien van kantaantekeninge wat Ella byhou. In die tweede deel, teen die helfte van die boek, word die ondersoek uitgebrei en kry die verhaal, wat tot hier taamlik op die binnewêreld van emosies gefokus het, ʼn loop teen ʼn aansienlik sneller pas en kry versoeking ook die tint van misdaad.

Dié aanpak sorg vir meer as variasie in struktuur: Karsten bied die leser die geleentheid om as’t ware eers emosioneel onder die vel van die karakters te kom – soos wat ʼn mens van ʼn sielkundige sou verwag. Net om te besef ons ken immer ten dele.

Karsten vertel sy verhaal met Fatal Attraction, die 1987-fliek met Michael Douglas en Glenn Close in die hoofrolle in gedagte, én met verwysings na dié rolprent wat die begrip erotomanie populêre blootstelling gegee het – die gedragsafwyking wat inhou dat een persoon daarvan oortuig is dat iemand anders op hom of haar verlief is. Fiksasie is dikwels deel van die prentjie.

Die verwysing na Butterfly in Puccini se Madama Butterfly kom uit die fliek, en word in die Karsten-roman aangevul deur die Ophelia, soos Butterfly, ʼn jong vrou wat verraai word deur die geliefde.

Die inbring van Ophelia (ʼn eksemplaar van Hamlet lê op die bedkassie van een van die karakters en Ella Neser haal sonder meer aan uit dié Shakespeare) en veral die verhaal van Stratonike van Sirië uit die klassieke is intertekste wat dalk nie deurgaans so organies gevleg raak in die Thomas Maas-storie nie.

Benewens versigtig geplante leidrade wat die leser kan lei én mislei, skryf Karsten, ʼn skrywer wat sy storie kén, klein, onopvallende verwysings in die teks in (wat die leser kan opvolg of kies om bloot bo-oor dit te lees). So speel Patty byvoorbeeld klarinetmusiek van Gerald Finzi, die Britse komponis vir wie die onskuld van jeug (verwoes deur volwasse ervaring) ʼn herhalende tema was, en in die verbygaan word verwys na ʼn roman van Pola Oloixarac, vertaal as Savage Theories.

Die versoeking van Thomas Maas lei die leser in talle versoekings. Een daarvan is om die boek in een sitting te wil lees.

Die versoeking van Thomas Maas, Chris Karsten, word uitgegee deur Human & Rousseau. Die boek kos R300.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.