Boek van die maand: ‘Gebeente’

In 1984 het Salman Rushdie in die essay “Outside the Whale” die behoefte verwoord vir politieke fiksie, vir boeke wat die werklikheid helderder en beter karteer, en vorendag kom met nuwe tale wat ons kan help om die wêreld te verstaan. Dit is die skrywer se verantwoordelikheid om die kwessies waarmee ons sit te takel, het hy aangevoer: “It seems to me imperative that literature enter such arguments, because what is being disputed is nothing less than what is the case, what is truth and what untruth, and the battleground is our imagination. If writers leave the business of making pictures of the world to politicians, it will be one of history’s great and most abject abdications.”

Om meer as een rede het Gebeente, Etienne van Heerden se jongste roman, my aan Rushdie se skryfwerk laat dink. In die eerste plek omdat Van Heerden die verbeelding so knap inspan as die slagveld waar waarheid en onwaarheid (of dalk waarhede en onwaarhede) teenoor mekaar te staan kom, omdat hy in dié roman weer die werklikheid helderder karteer en bowenal met taal vorendag kom wat ons kan help om die wêreld beter te verstaan.

Maar verder ook omdat magiese realisme soos Van Heerden daaraan gestalte gee iets oproep van die aanpak en die soort problematiek waarmee Rushdie ook stoei.

Die verhaal plaas Van Heerden in en om Gebeente, ʼn fiktiewe nedersetting in die Groot-Karoo, ʼn verbeelde dorp wat dryf op lig en nêrens is nie (soos in die “Nota” voor in die boek aangedui word). Van die betekenis van lig, die sterrehemel en die klipperpad onder die Melkweg (soos vasgevang in die foto’s van Obie Oberholzer op die voor- en agterblad van die boek) en die belang wat onder en bó in die boek het, raak ʼn mens in die openingsin reeds bewus. Altydoopvygie, ʼn enkelma, woon onder die Tjank van die Oog, in Opkyk, ʼn klein huisie teen die bult. “Die Oog is die reuseteleskoop wat daar ver op die plat vlakte lê. Dit lyk nes die uitgeslagte oog van ʼn dooie bees op ʼn geroeste sinkplaat. Roomwit met ʼn swart iris wat boontoe staar” (my kursivering) (11).

Haar seuntjie, Jisses Losper, is gebore in die tyd toe Statistiek SA almal kom tel het tydens die Groot Sensus (na die pa word verwys as “Verbygaande”). En so kom die religieuse raakvlakke vroeg in die verhaal reeds aan die orde. Van kruiptyd af is daar iets magies aan die kleintjie, soos dat hy pal aan die brand slaan. As Altydoopvygie as skoonmaker by die Oog gaan werk en die lens begin huil “weet sy dis omdat hy die skaamteloosheid van God inkyk” (17).

Jare later word twee “leeglêers” vir ʼn verskeidenheid misdade gearresteer: plaasmoord, godslastering, verkondiging van ʼn vals evangelie en “Die Diefstal van die Melkweg”. Die een is die einste Jisses Losper en die ander een sy vriend Wolraad Woltemade. Dié twee is die oorblywende lede van die Klipkou Vier.

Imker Goedeman, ʼn Kaapse landdros, en Div de Villiers, ʼn Kaapse staatsaanklaer, word na Gebeente gestuur om die saak aan te hoor. Die twee amptenare van justisie kom as buitestanders op die dorp aan en hulle verantwoordelikheid is om te sorg dat reg geskied en orde herstel word. Die gemeenskap is in oproer: aan die een kant is daar die ondersteuners wat Jisses met sy Kwarrie-predikasies as Verlosser beskou, en aan die ander kant diegene wat hom aankla as die vals Christus, as dief van die Melkweg, en wat selfs daarop aandring dat hy gekruisig moet word.

Gegrond op dié gegewe sou die roman kon lyk na ʼn speurverhaal of geregtelike drama. Maar die roman is ook die slagveld van die verbeelding waar tyd soos ʼn bladsy omgeblaai het en ons ons bevind in ʼn ander wêreld (242), in ʼn “gemengde boerdery”, soos ook daarna verwys word (247).

Dit is Goedeman wat veral in briewe aan sy seun in die buiteland begin twyfel aan die rol wat die Hollands-Romeinse reg te speel het in ʼn veranderde wêreld. En op sy manier snap De Villiers dat die klagte wat ingedien word, berus op hoorsê en dat konkrete bewyse ontbreek. “Nuwe tale, dink Div. Nie Astrofisika nie, maar Koeterwaals. Nie Regstaal nie, maar Leeks. Nie Teologie nie, maar Dwaals. Dis die tale wat ek hier hoor” (108).

In dié tale word nagedink oor die aard van misdaad en straf. Oor justisie. En oor alles wat met die teleskoop begin het (325).

Die “nuwe tale” waarna Rushdie verwys het wat die moontlik bied om die wêreld beter te verstaan hanteer Van Heerden met die vernuf van ʼn gesoute skrywer en ware kunstenaar. Nie net vermaaklik en verrassend nie, maar bowenal verruimend. Met dié taal karteer hy ʼn werklikheid, binne ʼn hedendaagse Suid-Afrikaanse politieke konteks, wat nie antwoorde bied nie, maar jou laat nadink. Wat die rol van die skrywer is.

Etienne van Heerden se Gebeente, uitgegee deur Tafelberg, kos R393. Koop die boek hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.