Boek van die maand: ‘Weerlose meganika’ deur Anton Roodt

Kerneels Breytenbach het weer my vertroue in aanprysings op agterplatte van boeke herstel. Die afgelope ruk het ek ʼn paar teëgekom wat gewoon net te dik vir ʼn daalder was.

Breytenbach skryf oor Anton Roodt se debuut, Weerlose meganika: “Dit is net een keer elke tien skrikkeljare dat ʼn manuskrip soos hierdie op ʼn uitgewer se lessenaar land. Dis onverdunde plesier, ʼn reis in ʼn verbeeldingswêreld wat iewers tussen die pikareske en die satiriese roman gesitueer is, ʼn dik dosis wetenskapfiksie dra en uiteindelik so in die verbygaan baie sê oor die wêreld waarin ons ons bevind.”

Van dié onverdunde plesier en aweregse verbeeldingswêreld is ʼn mens binne die eerste twee kort hoofstukke, met ander woorde hier by bladsy 20 se koers, reeds oortuig. Ook van ʼn leeservaring wat herinner aan dié van Sewe dae by die Silbersteins.

Kwalik kan sewe dae, tussen ʼn kleedrepetisie en die openingsaand van die Versoeningsfees op ʼn mynhoop net buite Welkom, meer bisar wees as dié waarin kolonel Rooipiet Moolman, soos Etienne Leroux se Henry van Eeden in genoemde roman, ʼn inisiasieproses ondergaan en terselfdertyd afdaal na die onderwêreld waar hy en Doc “Tryhard” Ndlovu, soos Dante en Vergilius van ouds, dié domein deurkruis.

Iewers in die nabye toekoms, soos op die agterplat aangedui word, lei Roodt die leser buurte van Welkom in wat ʼn mens nie sou verwag bestaan nie. Welkom, die Vrystaatse dorp wat lank bekend was as die plek sonder robotte (verkeersligte), wemel nou van slimbotte en kloonbotte, en daarmee saam zama-zamas en Chinese konsortiums, konkelaars en korrupte amptenare. Ten opsigte van kunsmatige intelligensie het die mens sy vernuf gedy, selfs weergaloos, maar hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Soos Doc tenoor Piet opmerk: “Maar jy weet, korrupsie is oral, kolonel” (182).

Die plesier wat Roodt die leser bied, is geskakeerd. Ja, daar is die dele wat jou hardop laat proes en as jy skaam is dele wat jou laat snak. Die plesier lê gewis in die onwaarskynlike dog nie onmoontlike gebeure; in die ongelooflike dog nie ongeloofwaardige karakters; en in Piet Moolman se onuitgesproke gewaarwordings en momentele introspeksies (25) wat dikwels die heerlikste weggooisinne is. As ʼn gasborrel byvoorbeeld paniek saai in sy kolon ontsnap dié eiesinnig as “ʼn sewe of ʼn agt op die haptiese skaal” (173).

Met sy rooi Crocs is Piet “wat darem ʼn duim of twee langer wou wees en dertig sentimeter smaller” (43), met sy bokbaardjie en grys hare wat in volle krulle agtertoe val, dalk ook nie die prentjie van ʼn offisier en direkteur van die Kulturama wat ʼn mens in gedagte sou hê nie. Hy weier om aan Doc te verduidelik hoe hy aan sy rang gekom het (hy is waarskynlik kolonel soos wat Flash Marinkowitz “kaptein Gordon” was in Leroux se Onse Hymie – omdat hy kaptein van ʼn tweede rugbyspan was).

Piet Moolman is, soos wat Breytenbach ten opsigte van die pikareske roman aandui, “die saligmaker van die gebrokenes, die vertraptes en die vervloektes” (24), wat benewens ʼn preokkupasie met sy kolon en sy erektiele funksie asook disfunksie  ʼn geslaagde kultuurfees in gedagte het. Vasgevang in departementele rompslomp (waarvan kultuur self in die toekoms ook net nie kan loskom nie), het die kolonel nietemin ʼn visie om met sy tablo op die mynhoop nie net versoening vanuit ʼn historiese perspektief te vier nie, maar ook ʼn nuwe soort versoening – tussen mens en robot – te bewerkstellig.

Die ongelykheid tussen mens en robot kry onder meer gestalte in die verwysing na die “dombots [wat] … hulle Kerspersente kom teruggee het omdat hulle gesê het hulle soek nie … die gemors wat vlees-en-bloed-mense nie meer wil hê nie”.

Die plesier lê dus ook in Roodt se toespelings en kommentaar (weliswaar in die verbygaan) op die wêreld waarin ons bevind, en die plek wat die wêreld nog altyd was … en sal wees.

Roodt se verrassende debuut is minder wetenskapfiksie as wat ʼn mens op die oog af sou vermoed. Of dalk net soveel as wat Dante se digbevolkte engelesfeer was – met engele met net so min vleis en bloed as robotte.

Anton Roodt se Weerlose meganika word uitgegee deur Tafelberg. Die boek kos R320.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.