Boek: Vat 5!

Vat 5! is ʼn versamelbundel met vyf geïllustreerde stories wat geskik is vir kinders vyf jaar en ouer. Die bundel sluit die volgende stories in:

Haasmoles deur Jaco Jacobs en Maja Sereda
Simon is verveeld. Dit reën al die hele dag lank buite. Maar dan BONS, BONS, BONS iets teen die trappe op. Twee lang ore verskyn agter sy bed … en nog twee … en nog twee … Dis weer HAASMOLES!

Parmant deur Leon de Villiers en Alzette Prins
Parmant stap deur die bos, maar almal karring aan hom. Meerkat wil sy keel kielie, Vlakvark wil sy magie krap en Jakkals wil oor sy skubbe streel. “Nee!” sê Parmant elke keer: “Dit is my lyfie en ek sê: nee, nee, nee!” Sy ma is sommer baie trots op haar dapper seun wat al die diere so op hulle plek sit.

Die coolste ouma op aarde deur Marita van der Vyver en Zinelda McDonald.
Is jou ouma so cool soos myne? Ontmoet ʼn paar fantastiese oumas … Party oumas hou van rockmusiek of kan jou leer boomklim. Ander oumas laat jou die lepel aflek as hulle koek bak of kan seerplekke beter soen. Maar een ding is seker: ʼn Regte, egte ouma is altyd hope pret!

Karla Krullebol deur Theresa van Baalen en Chris Venter
Karla Kriel met haar krullebol hou glad nie van hare was nie. Sy kam nie graag haar haarbos nie en maak dit ook nooit vas nie. Karla se ma is moeg gepraat. Daarom besluit sy Karla hoef nooit weer haar hare te was of te kam nie. Karla is natuurlik baie in haar noppies! Maar dan gebeur iets vreesliks …

Prinses Mossienes deur Wendy Maartens en Alida Bothma
Vandat die mossies onder die stoepdak nesmaak, sit Dina elke dag vir hulle en kyk. Sy het die mossies nog nooit sien stry nie. Maar Mamma en Pappa stry deesdae aanmekaar. Daarom steek Dina vere in haar hare en sit ʼn kroon op haar kop. Dan is sy nie meer Dina nie. Sy is Prinses Mossienes. En sy vlieg na ʼn plek waar alles beter is … Prinses Mossienes is ʼn sensitiewe, verbeeldingryke verhaal oor wat gebeur wanneer ouers skei. Die boek bevat ook praktiese wenke vir kinders en ouers om die trauma van ʼn egskeiding te hanteer.

Prys: R290,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.