Boek: Wegkomkans (hersiene uitgawe)

Marita van der Vyver

Yvette, Paul, Mila, Emma, Adriaan, Liane, Max, Bobby, Ralph, Philip: Tien karakters wie se verhouding in Wegkomkans oor ʼn tydperk van tien jaar eb en vloei soos die getye van die see wat telkens die agtergrond vir hulle “wegkomkanse” vorm.

Vanaf die politieke noodtoestand in die jare tagtig tot die demokratiese bevryding in 1994: Dié vriendekring se samesyn bly die konstante in ʼn andersins veranderende wêreld waarin die ontnugterings en teleurstellings van die werklikheid soms met niks anders as goeie kos, goeie wyn en ʼn stewige skeut selfspot getemper kan word nie.

Soos hulle jeugdrome vervorm en hulle naïewe optimisme oor die lewe verdof, groei en verander die vriendskap. Verhoudings kom en gaan, ouerskap word ʼn al hoe prominenter onderwerp van bespreking, die jeugdige passie oor ʼn “nuwe” Suid-Afrika word ‘n neutraler, meer besadigde gelatenheid oor wat nié verander kan word nie. “Verlore liefde tussen twee mense,” verklaar een van die karakters, “kan so tragies wees soos verlore menseregte vir miljoene.” Uiteindelik is dit vriendskap wat die aanslag van tyd en trauma deurstaan; wat ʼn skans teen verlies vorm.

In die nuwe slotwoord tot hierdie roman, skryf Marita van der Vyver: “Hierdie roman, so vertel hulle my, kan ʼn nuwe geslag lesers help begryp hoe Afrikaanse stedelinge in die laat jare tagtig en vroeë jare negentig, tussen die laaste stuiptrekkings van die Ou Suid-Afrika en die skrikwekkende geboortepyne van die Nuwe Suid-Afrika, dit reggekry het om op die rand van ʼn afgrond te bly dans.”

Wegkomkans bied op hoogs vermaaklike dog erg simpatieke wyse insig in Suid-Afrikaners se versugtinge en ontnugterings – wat byna 20 jaar nadat die teks oorspronklik verskyn het nog net so relevant is soos destyds.

Oor die outeur

Marita van der Vyver is vir dekades reeds ʼn huishoudelike naam in Suid-Afrika en word internasionaal erken as een van Suid-Afrika se heel beste skrywers. Die heruitgawe van Wegkomkans is die resultaat van herhaaldelike versoeke deur haar volgelinge om dié gewilde teks vir ʼn nuwe generasie beskikbaar te stel. Sy woon in Frankryk saam met haar man, drie seuns en ʼn dogter.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R300,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.