Boekoorsig: Spreekwoorde en ander segswyses

Pharos publiseer die derde hersiene en bygewerkte uitgawe van Spreekwoorde en ander segswyses deur Anton F. Prinsloo, Leon de Stadler en Amanda de Stadler.

Dit is vir my as skrywer en taalpraktisyn voorwaar heerlik om deur my kopie van Spreekwoorde en ander segswyses te blaai. Ek is sommer baie opgewonde oor hierdie jongste publikasie uit Pharos se stal en glo dat ek dit vir my tot baie hulp sal wees in my geskrewe én mondelinge kommunikasie. Daar is geen rede om ons woordeskat te laat verarm nie. Deur keurig met Afrikaans om te gaan, doen ons ons deel om te sorg dat die taal voortbestaan.

Die lokteks op die agterblad beskryf die waardevolle spreekwoordeboek só: “Spreekwoorde en ander segswyses is ’n fassinerende gids tot die eiesoortige, ryke geskiedenis van figuurlike Afrikaans met nagenoeg 11 000 idiome, spreekwoorde en vergelykings – oud én nuut.” Nie net is daar 1 400 nuutskeppinge nie, maar ’n Afrikaanse en Engelse verklaring of ekwivalent word vir elke inskrywing gegee. Inligting oor die ontstaan van Afrikaans se bekendste én minder bekendste uitdrukkings word aangedui.

Die gebruiker word in die voorwoord daarop gewys dat spreekwoorde en uitdrukkings die siel van ’n taalgemeenskap openbaar. “Ons spreekwoordeskat verraai ’n rykdom van kennis oor ons geskiedenis, waar ons vandaan kom, wat vir ons belangrik was en steeds is, en dit verraai hoe kompleks en verweef die menslike leefwêreld is.”

Spreekwoorde kikker verbeeldinglose, vaal taalgebruik op en verleen luister, nuanse en diepte aan kommunikasie. Dit laat ons toe om ons op ’n meer effektiewe en kreatiewe manier uit te druk om sodoende ons luisteraars se aandag te behou, hulle dalk te vermaak of op te voed. Dit verleen ook ’n speelsheid en ’n formaliteit aan ons taal, afhangende van hoe ons dit aanwend.

Die organisasie van die spreekwoordafdeling word deeglik verduidelik aan die hand van die trefwoord “gans”. Die spreekwoorde met die Afrikaanse en Engelse verklarings/ekwivalente word gegee tesame met die verklarende aantekeninge, begrippe/konsepte, etikette, besondere konvensies en Bybelverwysings waar nodig. Daar is ook ’n verduideliking oor hoe die indekse werk.

Ek vind die aantreklike spreekwoordeboek, met sy kenmerkende helderoranje kleur wat sinoniem met Pharosboeke is, heel maklik en voor die hand liggend om te gebruik.  Taalwerkers, skrywers, joernaliste, dosente, onderwysers, hoërskoolleerders en universiteitstudente sal hierdie bondige publikasie sommer baie waardeer. Eintlik sal enigiemand wat graag hulle taal- en kommunikasievaardigheid wil opskerp, hierdie boek geniet en gereeld daarna verwys. Dit is immers ’n gesaghebbende, gerekende, betroubare en handige naslaanbron. Ek beveel dit heelhartig aan.

Hier is net enkele van die kleurryke spreekwoorde wat ek raakgelees het: Dis nie almal apostels wat wandelstokke dra nie, so fris soos ’n vis in die water, die herkoutjie spring in iemand se keel, op iemand se liddorings trap, vanjaar moet babers geslag word, die eerste hoepel om die vaatjie, so kommin soos grond, so kalm soos ’n daggawalm en die hond moet net kan lees en skryf.

Meer oor die skrywers:

Dr. Anton Prinsloo het verskeie boeke oor onder meer die herkoms van woorde, spreekwoorde en bygelowe geskryf. Sy nalatenskap sluit die gewilde “Taalkruie”-rubriek in Volksblad in. Hy dien op verskeie taal- en adviesrade soos die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Nasionale Taalkommissie vir Afrikaans.

Leon de Stadler het in 1977 sy M.A.-graad en in 1983 sy D.Litt.-graad verwerf.  Hy is aan die Departement Afrikaans en Nederlands (US) verbonde as professor, met dokumentanalise en -ontwerp as sy spesialisterrein.

Amanda de Stadler studeer van 1972 tot 1976 aan die US en spesialiseer in onderwys vir kinders met leeruitdagings. In 1981 verwerf sy ‘n vertalersdiploma en in 2009 ‘n M.Phil in Dokumentontwerp.

Skaf gerus jou kopie van Pharos se Spreekwoorde en ander segswyses by deelnemende boekhandelaars aan of bestel dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.