Boekresensie: 17 maal moord

17 maal moord deur Daniël Lötter word deur Protea Boekhuis uitgegee.

Daniël Lötter se debuutkortverhaalbundel, Die grootpad is ’n grondpad, wat in 2020 deur Protea Boekhuis uitgegee is, het die pad gebaan vir sy pas gepubliseerde titel in die misdaadgenre.

Lesers wat ’n aptyt het vir die makabere en geïnteresseerd is in ware moordverhale, speurverhale en grilverhale sal sommer baie lekker lees aan 17 maal moord. Hierdie sagtebandboek van 316 bladsye sluit ’n 24-bladsy-fotoseksie in en beloof op die agterblad ’n grieselrige reis na die plekke waar van Suid-Afrika se bekendste moorde gepleeg is asook ’n hele aantal minder bekende maar ewe fassinerende gevalle. Dit nooi die leser om kennis te maak met die moordenaars en die doodgewone gemeenskappe waar slagoffers van die vroegste tye tot die onlangse verlede wreed aan hulle einde gekom het.

Lötter se skryfstyl is vloeiend en onderhoudend, en ek moes myself kort-kort herinner dat ek nie spanningsfiksie lees nie maar wel die grusame agtergrond van ware verhale. Die teks is egter nie grafies van aard nie en ouer tieners sal ook die boek wil lees. Daar is selfs ’n konfyttertjieresep (sonder arseen as bestanddeel, natuurlik!) van die berugte gifmoordenares, Daisy de Melker, op bl. 31. “Julle hang ’n onskuldige vrou,” was glo haar laaste woorde voordat sy aan die galg in die Sentrale Gevangenis in Pretoria gehang is. Sy het haar waslap aan repe geskeur om krullers vir haar hare te maak sodat sy die dood netjies tegemoet kan gaan.

Dis juis die menslike aspek wat hierdie 17 verhale so uiters fassinerend maak. Lötter gee nie maar net bloot die kliniese feite van die gevalle weer nie. Hy kry dit reg om die situasies wat daartoe bygedra het dat mense hulle tot moord gewend het te skets dat dit soos ’n tafereel voor die leser afspeel. Hy vertel byvoorbeeld dat kantoorspioene agtergekom het dat die jong Marlene Lehnberg en haar baas, Christiaan van der Linde, die kat in die donker knyp. “Een van hulle besluit om ’n lekker dik stok in die byenes te steek, een wat baie rook as dit kan, en te kyk wat gebeur. So gebeur dit dat Susanna van der Linde ’n anonieme foonoproep ontvang wat haar inlig van die vuurwarm vryery tussen haar man en sy ontvangsdame. Susanna is ’n Magaliesbergse nooi. Sy laat nie koekoeke toe om eiers in haar nes te lê nie; daarom loop sy Christiaan tromop en lig hom in dat sy nie belang stel in verskonings en stories nie – hy stop die twak of sy loop. Finish en klaar!” (35-36)

Lötter dra as teenvoeter vir die skokkende werklikheid op ’n tong-in-die-kies en selfs humoristiese wyse inligting oor sonder dat hy in die strik trap om ligsinnig met sy onderwerp om te gaan. Hy gebruik slim woordspeling (byna soos kleindorpse skinder) en beskrywings waarmee sy lesers maklik identifiseer en wat hulle te midde van die onderskeie scenarios plaas. So is Josefien Matyela byvoorbeeld op bl. 174 op pad huis toe nadat sy by een van die ander huishulpe in die straat gekuier het, toe sy ’n lig sien en stemme hoor. Sy vermoed dat dit hoenderdiewe is en stel ondersoek in. “Nog nader kruip Josefien totdat sy met haar een oog kan loer deur ’n spykergat in die sinkplaat van die hoenderhok. Dis mos ’n mens se liggaam wat hulle in die gat gooi! Josefien skrik haar twee tandelose kake lam!” Hier is die leser saam met Matyela ooggetuie van hoe Pierre Basson en Tobias Louw ontslae geraak het van die ou Duitser Wilhem Schaefer se liggaam nadat hulle hom om die lewe gebring het.

Daar is enkele klein foute waar datums of gebeure in die teks en dié by die fotobyskrifte nie ooreenstem nie of waar ’n naam nie elke keer dieselfde gespel word nie. Hoewel dit ’n jammerte is, sal dit nie sommer die gemiddelde leser pla wat die boek slegs lees vir interessantheidshalwe nie. Diegene wat dalk op die teks wil staatmaak vir navorsingsdoeleindes, moet liefs bykomende bronne pleeg om feite te staaf.

Wees gereed vir ’n eiesoortige leeservaring. Skaf 17 maal moord hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.