Boekresensie: Die husse en die klein jakkalsies

Die husse en die klein jakkalsies deur Milan Murray, Charmaine Nolte en Marisa du Toit word uitgegee deur Murray & Me.

As jy al ooit gewonder het wat vir ’n ding ’n hus is, sal jy bly wees om te verneem dat daar pas ’n kinderboek op die rakke verskyn het wat vir jou álles omtrent husse sal vertel. Ek wed jou jy het nie geweet dat daar verskillende soorte husse is nie. “Elke trop lyk anders, maar alle husse het lang ore” (p. 6).

Die vierde prenteboek in Murray & Me se gewilde idioomreeks, Die husse en die klein jakkalsies, sal soos sy voorgangers (Pieter Kokkewieter en die hart op sy mou, Hetta Elizabetta en die wêreld op haar skouers en Kop in die wolke in Kromkieriefontein) kinderharte steel. Die sprankelende en verbeeldingryke teks deur Milan Murray, ’n bekende aktrise en TV-persoonlikheid, en die besonderse illustrasies deur die talentvolle Marisa du Toit, ’n kunstenaar met ’n unieke styl wat goed daarin slaag om die bekoring van kinderliteratuur uit te beeld, dra daartoe by dat hierdie prettige boek ’n fees is om te lees. Charmaine Nolte was saam verantwoordelik vir die produksie van die boek. Die husse en die klein jakkalsies word opgedra aan “al die oupas en oumas wat die husse se naam hoog hou”.

Wipper is ’n berghus wat per ongeluk tussen die plaashusse beland het op Goedemoed Landgoed, die mooiste druiweplaas in die Boland. As inkommer is dit maar moeilik om aan te pas en aanvaar te word, want “almal het anders gelyk as hy en anders gewip as hy” (p. 10). Hy speel egter baie lekker wegkruipertjie saam met Dapper, die enigste hus wat vir sy grappe lag. Maar o wee, dan gebeur daar iets wat die wynboer én die plaashusse vreeslik ontstel, soveel so dat die werfhond losgemaak word om die skuldige te vang. Meer kan ek nie vertel nie, want die storie is heeltemal te oulik om weg te gee. Nie net leer kinders om nie te gou te oordeel nie, maar om ook om verskoning te vra wanneer hulle foute begaan. Dis ’n lieflike storie oor vriendskap en aanvaarding.

Milan Murray en Charmaine Nolte se maatskappy wat kinderliteratuur uitgee, Murray & Me, bestaan al sedert 2015 en het ook die gewilde Poenankies, ’n versameling kinderstories deur bekendes, uitgegee. Hulle poog om deur kinderboeke kinders te help om tussen konkrete en abstrakte denke te onderskei. Hulle span idiome kreatief in om kinders tussen ses en nege jaar oud met broodnodige lewensvaardighede en waardes toe te rus.

Ek hou van die boek se groot formaat. Die lettertipe en -grootte is ook kindervriendelik. Alhoewel ek heerlik aan Wipper die hus se storie gelees het, sou ek graag wou sien dat die klein jakkalsies meer prominent in die teks uitgelig word. Ek sou hulle ook graag in die illustrasies wou sien. Maar dalk lê die boek se bekoring reeds in misterie en omdat nie ál die geheime ontbloot word nie. Dalk moet die kind se verbeelding juis die klein jakkalsies self inkleur en lewe gegee.

Besoek Murray & Me se webtuiste vir meer inligting en om Die husse en die klein jakkalsies aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.