Boekresensie: Dit proe soos huis

Dit proe soos huis deur Herman Lensing word uitgegee deur Human & Rousseau

Herman Lensing se vierde kookboek is tjokkenblok vol nostalgiese koesterkos en pragfoto’s. In dié besonderse publikasie eer Herman Lensing sy ma Susan, wat skielik in Januarie 2019 oorlede is, met sy uitsonderlike talent.

Lensing skryf die volgende oor sy ma: “Sy het my geleer wat dit beteken om eerlik te kook. Wat dit verg om mense om jou tafel bymekaar te bring en binne sekondes te laat versoen. My ma het my gewys dat as jy oor die mag van kos beskik, jy baie kan regkry.”

Hy deel Susan se gunstelingresepte en ook “die storie van sy grootwordjare en verhouding met sy ma – alles gewortel in egte kos wat almal kook”.

Saam met elke resep deel Lensing sy spesifieke herinnering daaromheen van sy moeder. Hy skryf: “Kom ek vertel jou so ’n bietjie van my ma: Sy was ’n stylvolle vrou wat op ’n groenteplaas in die Hardap-skema naby Mariental, Namibië, grootgeword het. Later jare het sy my pa ontmoet en hulle was byna 40 jaar getroud – ’n toonbeeld dat liefde bo alles sal seëvier. My ma was gewoon, maar sy was kreatief en sy kon planne maak, iets uit niets maak”.

Kokkedoor-beoordelaar, Sam Woulidge, reken tereg dat die uitsonderlike kosverhaal “’n liefdesbrief tussen ma en seun” is.

Lensing het mooi herinneringe oor sy ma. Hy onthou byvoorbeeld dat teetyd saam met haar altyd ’n heerlike bederf was. “Die yskas in my ma se huis was ’n fabelagtige plek. Jy kon dag en nag daardie yskas oopmaak en jou verlustig in hemelse, soet bederwe, hetsy tert of koek.” Hy onthou dan ook wat sy nagelaat het om op sy hart te druk. “Wat my ma my nooit vertel het nie: So lekker soos die saamstel van die spyskaart, die bereiding van die kos en al die mooimaak is, net so belangrik is dit om ook die skottelgoed te was …”

Lensing skryf: “Hierdie boek is nie ’n hartseer boek nie. Nee, dis ’n boek gevul met my ma se resepte soos sy hulle neergeskryf het. Die kos wat my gevorm het, koesterkos wat proe soos huis. Elke hoofstuk vertel haar storie. En dis ’n mooi storie”. Die onderskeie hoofstukke is “eenvoudige kos uit my ma se kombuis – wel met een of twee nuwe kinkels, maar in al sy DNS pure huiskos”.

Ek is baie bly oor my kopie en beveel die kookboek heelhartig aan vir enigeen wat graag ’n uitsonderlike kook-en bakervaring wil geniet.

Bykos op ’n feestafel: Gestoofde groenbone met witpeper; Beste blomkool met witsous ooit!; Gebakte kopkool
Die vleispotte van Egipte: Rysfrikkadelle; Einde-van-die-maand-hoenderpastei; Wildspastei met ’n slap kors
’n Karavaan, ’n tent & ’n braaivleisvuur: Hartenbos: Mieliebrood; Snoek & patats; Biltongbroodjies
Soel en koel: Kerriefrikkadelle; Gestolde wortelslaai; Gestoofde kwepers
Koue winters, warm poedings: Kastrol-gemmerpoeding; Sondagaand-appeltert; Kondensmelkpoeding
Koekieblikke vol liefde (& troos): Sjokoladedriehoeke; Hertzogkoekies; Florentines
Dis teetyd – kom in vir iets soets! Ouma Bettie se melktert; Cremoratert; Koeksisters
Jou huiskombuis, haar tuisbedryf: Rolkoek; Vlaskywe; Melktertkoek
My kombuis, haar verleiding: Macaroni-en-kaas; Vetkoek; Sampioenrisotto

Meer oor die skrywer:
Herman Lensing is in 2009 aangestel as kosredakteur van die glanstydskrif SARIE. Hy het sedertdien ook naam gemaak as “redakteur van SARIE KOS, op die Afrikaanse leefstylkanaal VIA (DStv 147), en in verskeie kookprogramme”. Hy is ’n gerespekteerde koskenner en sy gewildheid is vir seker toe te skryf aan sy “begrip vir die alledaagse uitdagings en flaters in ’n doodgewone kombuis”. Hy het hom voorgeneem dat hy “sal aanhou kook en die wêreld mooier maak – een bord op ’n slag”.

Dit proe soos huis word deur Human & Rousseau uitgegee. Skaf die boek gerus hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.