Boekresensie: Hekel en word heel 2

Hekel en word heel 2 word deur Lapa Uitgewers uitgegee.

Dit is mos nou, met die winter se ysige asem wat in ons nekke blaas, die ideale geleentheid vir hekel-entoesiaste om hulle hekelnaalde en -gare uit te haal. Nadia de Kock, Hilda Steyn en Jessica Haasbroek se Hekel en word heel 2 bied ’n verdere 21 stories en patrone nadat die eerste boek in die reeks, Hekel en word heel 1, baie hekelaars bemoedig het en met hoop gevul het.

Nie net bied die patrone ’n kreatiewe en terapeutiese uitlaatklep nie, maar die aangrypende stories – wat wissel van verlies, werkverwante stres, depressie, siekte en dood tot mishandeling – vertel hoe hekel 21 mense gehelp het om deur moeilike omstandighede staande te bly. Die stories inspireer lesers om die positiewe in die lewe raak te sien en aan hoop vas te klou. Die agterbladteks beklemtoon: “Een-en-twintig mense maak hul harte oop en vertel hul aangrypende verhale van stryd en uiteindelike oorwinning. Hulle vind genesing in hekel en werk konstruktief en kreatief om verlies of hartseer te hanteer.”

De Kock, ’n skrywer van Johannesburg met drie romans en verskeie kortverhale en artikels op haar kerfstok, skryf op bl. 6 dat sy, nadat ’n vriendin ’n projek begin het waar sy mense nooi om artikels vir die werkers in die voorste linie teen die virus te maak, opnuut besef het hoe helend handwerk is. Sy het musse begin hekel en kalm geword. Voor dit was sy mismoedig, het ’n verhoogde stresvlak ervaar en het naarstiglik van aktiwiteit tot aktiwiteit gespring. Hekel het egter haar konsentrasievermoë verbeter en haar gehelp om te fokus. “My aandagafleibaarheid is hokgeslaan en my kop het stiller geword.”

Steyn, ’n ontwerper van Pretoria, vertel op bladsy 7 dat haar gekose terapeut doktor Hekel was nadat sy deur chaos in haar persoonlike lewe gegaan het en nie aanklank by ’n sielkundige kon vind nie. Volgens haar is doktor Hekel ’n wonderlike terapeut. “Sy vra nie moeilike vrae nie. Sy help jou net om te ontspan, rustiger asem te haal en jou kop uit te sorteer wanneer jy reg is daarvoor.”

Haasbroek, ’n vryskut hekelontwerper vir verskeie Suid-Afrikaanse jaarnhuise, deel op bladsy 8 dat sy leer hekel het toe sy baie klein was. Sy het ná skool ’n paar jaar saam met haar ma in dié se wolwinkel gewerk en toe ernstig begin hekel en ontwerp. Hekel het haar gehelp om fokus te behou in die moeilikste tye van haar lewe en het ook gesorg vir ’n ekstra inkomste. “Deur al my op- en afdraandes is ek nog steeds hier. Ek doen wat my gelukkig maak. En ek dank die Vader vir die gawe om kreatief te wees op soveel maniere. Moet nooit jou handwerk wegpak nie. Wanneer dit vir jou voel of die lewe druk, gryp hierdie boek en maak vir jouself iets moois.”

Die patrone wissel in moeilikheidsgraad van maklik tot meer gevorderd. Algemene inligting soos terme, afkortings en simbole sowel as omskrywings van jaarngewig, die neem van mates en ’n lys van hulpbronne en verskaffers is baie handig. Die heerlike verskeidenheid hekelprojekte sluit onder meer die patrone vir die volgende in, naamlik verskeie tjalies (’n asimmetriese tjalie, ’n herfsblaar-tjalie, ’n driehoektjalie en ’n Frafel-tjalie), jasse (’n jas vir ’n diva en ’n moulose jassie), poncho’s (’n tradisionele poncho en ’n ronde poncho), snoedels en hoede (’n baret en gedraaide snoedel, ’n snoedel met knope en ’n parmantige cloche-hoed) stewelkouse en vingerlose handskoene, truie, baadjies, serpe en valletjie-polsverwarmers.

Hoewel nie self ’n hekelaar nie (ek het maar nog net ’n halwe serp op my kerfstok), het die kleurryke patrone my aandag getrek en het ek die stories in Hekel en word heel 2 baie inspirerend en opbouend gevind. Die patrone is vir kledingstukke en bykomstighede wat ’n mens graag sal wil dra. Ek voorsien dat voltooide projekte aandag sal trek en aan die hekelaar vele komplimente sal besorg. En natuurlik is ’n ekstra paar rand in die sak ook nie te versmaai nie wanneer vriende en familie jou gaan vra om vir húlle ook te hekel.

Skaf gerus Hekel en word heel 2 hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VannieBaai ·

Sou baie graag so boekie wou aankoop – ek het rustigheid nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.