Boekresensie: Hoekom nie? 1 111 vrae en antwoorde

Hoekom nie? word uitgegee deur Tafelberg Uitgewers.

Hierdie lekker groot en dik hardebandboek is die ideale geskenk vir ’n weetgierige kind (en grootmens!) wat nuuskierig is oor alles en nog wat. Dit bevat mooitjies 1 111 goed nagevorste antwoorde en skerp verduidelikings op vrae wat menige al laat kop krap het. Die ekstra top-10-lyste, raar-maar-waar feite, profiele van ontdekkingsreisigers en allerhande wonderlike aktiwiteite sal enige nuuskierige agie vir baie lank besig hou. Boonop is die boek baie kleurvol en oorlopens toe vol mooi illustrasies en foto’s. Elizabeth Wasserman het die teks in Afrikaans vertaal.

Hoekom nie? bevat ’n vars versameling vrae en antwoorde – maar met ’n kinkel in die stert. … As jy ooit gewonder het waarom iets nie waar is of nie sin maak nie, is dit die boek wat jy soek!” (p. 6). Die boek is opgedeel in sewe baie interessante afdelings, nl. Diere, Ons Planeet, Die Heelal, Geskiedenis, Jou Liggaam, Tegnologie en Popkultuur. Elke afdeling is verder verdeel in fassinerende vrae, antwoorde, wenke en feite. Die manier waarop die vrae gestel word en die antwoorde weergegee word, gryp die leser se verbeelding aan. Dis prettig en leersaam.

Hier onder volg ’n paar voorbeeldvrae wat in die onderskeie afdelings gevind kan word.

– Diere (Gewilde Gediertes)
Hoekom kry ’n houtkapper nie hoofpyn nie? Hoekom val vlermuise dan nie af wanneer hulle onderstebo hang nie? Hoekom verdrink visse nie wanneer hulle slaap nie?

– Ons Planeet (Moeder Aarde)
Hoekom kan ek nie die aarde voel beweeg nie? Hoekom kan ons nie ’n gat deur die middel van die aarde grawe nie? Hoekom kan ek nie uit dryfsand klim nie?

– Die Heelal (Die Buitenste Ruimte)
Hoekom is die oppervlak van die aarde nie ook vol kraters soos die maan s’n nie? Hoekom is ruimtevaarders nie bekommerd dat hulle sal wegdryf as hulle in die ruimte wandel nie? Hoekom is dit so moeilik om kunsmatige swaartekrag te skep?

– Geskiedenis (Sê Wanneer)
Hoekom kan wetenskaplikes nie die uitgestorwe dinosourrusse weer terugbring nie? Hoekom het ons nog nie die goue stad Eldorado gevind nie? Hoekom het ontdekkingsreisigers se kos nie opgeraak nie?

– Jou Liggaam (Haai, jy!)
Hoekom hou my wenkbroue en my ooghare nie aan groei soos die hare op my kop nie? Hoekom kan ek nie my hartklop beheer nie? Hoekom kan ek nie hard oefen sonder om die volgende dag styf en seer te voel nie?

– Tegnologie (Misterieuse Masjiene)
Hoekom het ons nie trapvliegtuie nie? Hoekom kan ek ’n vliegtuig se nooddeure oopmaak, maar nie ’n venster nie? Hoekom kan ons nog nie rekenaars met ons gedagtes beheer nie?

– Popkultuur
Hoekom kan ek nie op ’n tsoenami met my branderplank ry nie? Hoekom is sumostoeiers nie maer nie? Hoekom slaap ’n vampier nie in ’n bed pleks van in ’n kis nie?

Meer oor die skrywer:
Crispin Boyer woon in Mexiko. Hy het al tien boeke en dosyne artikels vir NatGeo Kids-tydskrif geskryf. Hy weet waarvan kinders hou en kombineer graag humor met uitstekende navorsing.

Ek is baie bly oor my eksemplar van Hoekom nie? en beveel dit heelhartig aan. Skaf gerus ’n kopie vir jou gesin hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Magda ·

Ek het gister die boek bestel en The Bookkeeper shop het by my huis kom aflewer. Dankie vir fantastiese diens van die uitgewer en The Bookkeeper shop. Die geld is die moeite werd, baie oulike boek met inligting wat ek nie eers gewees het nie. Gaan die kinders baie help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.