Boekresensie: Identiteit: Wie God sê jy is

Identiteit: Wie God sê jy is deur Alex Kendrick & Stephen Kendrick word uitgegee deur CUM.

“Is jy gereed om te ontdek wie jy geskep is om te wees? Wat God van jou dink en deur jou kan doen, is baie wonderliker as wat jy jou ooit kan voorstel.” Hierdie aanhaling op die agterblad het my laat regop sit en aandag gee.

Wie van ons het dan nie al gewonder oor wie ons nou eintlik is nie? “Wie kan met meer insig en gesag praat oor wie jy is as God, die Een wat jou ontwerp het, jou die beste ken en jou die liefste het? Elkeen van ons is uniek geskep om God te ken en ’n betekenisvolle lewe te leef. Maar om dit te weet, is bloot die begin …”

Hierdie sagtebandboek, geïnspireer deur die fliek Overcomer en pragtig in Afrikaans vertaal  deur Hester Fourie, is daarop gemik om die leser te lei om sy of haar identiteit in God te ontdek. Jy ken dalk vir God, maar dit beteken nie jy weet wat jou geestelike identiteit in Hom is nie. Paulus het die brief aan die Efesiërs geskryf en “gebid dat God hulle oë sou oopmaak sodat hulle weklik sou kon insien wie hulle is en wat hulle ontvang het in Christus en hoe dit hulle hele lewe radikaal sou verander.” Die doel van hierdie boek is om lesers te help ontdek wie hulle is. Die skrywers nooi lesers én daag hulle uit om aan te sluit by “hierdie ontdekkingsreis deur een van die heel belangrikste gedeeltes in die Bybel oor die identiteit en erfporsie wat God vir sy kinders gee”.

Ek het die twee broers se skryfstyl interessant en boeiend gevind. Hulle skryf in ’n gemaklike verteltrant en verduidelik alles aan die hand van vertellinge en voorbeelde uit die Skrif waarmee die leser kan identifiseer. Die maklik leesbare skrifgrootte dra ook by tot ’n soomlose leeservaring. Die skrywers beveel aan dat die leser een hoofstuk op minstens vyf dae van die week moet lees vir die volgende sewe weke en ook om elke hoofstuk met gebed af te sluit. Hulle bede is dan ook: “Mag ons elkeen die diepte van die liefde en barmhartigheid van God ervaar, en mag ons lewende voorbeelde word van sy genade en veranderde krag om lig en hoop aan toekomstige geslagte te bring.” Hulle hoop ook dat “jy soveel meer oor God se hart sal ontdek terwyl jy jou hart oopmaak vir die geheimenis van wat Hy in jou en deur jou gedoen het en nog wil doen.”

Die hoofstukke is in vyf afdelings opgedeel, nl. Deel I – So bestem: Hoe jou storie begin;  Deel II – Identiteit: Wie jy in Christus is; Deel III – Erfdeel: Wat jy in Christus ontvang; Deel IV – Opdragte: Leef jou identiteit uit, en Deel V – Onwankelbaar: Staan rotsvas. Elke hoofstuk eindig met ’n treffende Bybelvers asook verwysings na waar in die Woord jy verder oor die hoofstuk se spesifieke tema kan gaan oplees. Die boek kan individueel gelees word, maar daar is ook vrae vir elke hoofstuk wat in ’n groepsverband tydens Bybelstudie behandel kan word.

Identiteit: Wie God sê jy is is ’n kosbare skrywe wat die leser nie onaangeraak laat nie, en jy kyk met nuwe oë na die lewe. Ek voel beslis verryk ná die lees hiervan. Dit was ook vir my baie lekker om net weer opnuut te besef dat ek uniek geskape is volgens God se wil. Ek neem die volgende kerngedagte met my saam. “Wie is God? God is liefde. Wie is jy? Jy is sy geliefde. En wat is die heel belangrikste ding wat jy elke dag kan doen? Om lief te hê.” (248)

Meer oor die outeurs: Stephen Kendrick en Alex Kendrick is broers en medeleraars by Sherwood Baptist Church in Albany, Georgia. Stephen skryf en vervaardig ook draaiboeke. Alex is die skrywer-regisseur van onder andere Facing the Giants. Hy speel ook toneel. Beide manne is getroud en het kinders – Stephen drie en Alex vyf.

Skaf gerus Identiteit: Wie God sê jy is hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.