Boekresensie: Knip, verf, plak – 50 prettige kunsprojekte

Knip, verf, plak – 50 prettige kunsprojekte is geskryf deur Susie Brooks en word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Vlytige kunstenaars van vyf jaar en ouer sal hierdie 112 bladsy-handwerkboek vreeslik geniet. Nie net bevorder die 50 prettige en ekovriendelike kunsprojekte hergebruik en herwinning nie, dit is boonop uiters ekonomies om te maak.

Die verbeeldingryke dog eenvoudige projekte is pragtig geïllustreer en die instruksies maklik om te volg. Kinders (én grootmense!) kan na hartelus knip, stempel, plak, verf, skep en sommer baie pret hê wanneer hulle die fassinerende aktiwiteite aanpak en kuns maak uit weggooigoed.

Die boek bevat ’n lys van basiese kunsbenodigdhede, patrone en nuttige wenke wat ywerige kunstenaars sal help om die kunswerke suksesvol aan te pak en te voltooi. Kuns kan uit byna enige iets gemaak word – kyk net om jou rond en gebruik jou verbeelding! Jy kan selfs jou hande en voete inspan om kuns te maak!

Hierdie boek is propvol opwindende idees en gaan die jongspan ure lank kreatief besig hou. Dis ook perfek vir skole met beperkte begrotings aangesien die goedkoop, alledaagse materiaal maklik verkrygbaar is.

Leer hoe om ’n olifantboekmerk, robotte wat rock, dansende drake, vrolike slakke en dolle dino’s te maak. Miskien wil jy eerder jou hand aan swemmende skillies, prettige papegaaie, nuushonde, vinnige vuurpyle en pronkende poue waag? Die aktiwiteite is opvoedkundig en omdat dit so maklik is om te maak, gee dit sommer die kunstenaar se selfbeeld ’n goeie hupstoot. Tegnieke soos stempelwerk, drukwerk en collages word slim ingespan en het opwindende en kleurvolle resultate tot volg.

Meer oor die outeur:
Susie Brooks is ’n bekende en bekroonde outeur en redakteur van kinderboeke. Sy pak graag kunsprojekte in haar vrye tyd aan. Haar Get Into Art-reeks het in 2014 die English Association Picture Book Award, British Book Design and Production Award en die LA Information Book Award gewen.

Knip Verf Plak, 50 prettige kunsprojekte is by toonaangewende handelaars beskikbaar en kan ook direk by LAPA Uitgewers bestel word by www.lapa.co.za. Die oorspronklike titel is Paper Print Stamp. Jaco Jacobs het die boek in Afrikaans vertaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.