Boekresensie: ’n Ster in haar sak en ander kortverhale

’n Ster in haar sak en ander kortverhale word deur LAPA Uitgewers uitgegee.

Hierdie lekkerlees-sagtebandbundel van 260 bladsye bevat een en twintig kortverhale vir tieners (13 jaar en ouer) wat hou van lees maar nie altyd tyd het om lang stories kaf te draf nie. Gooi hierdie boek in jou oefensak en lees dit langs die hokkieveld terwyl jy wag vir jou span om te begin speel. Gunstelingskrywers soos Martie Preller, E.K.M. Dido, Fanie Viljoen, Anzil Kulsen, Christo Davids, Wendy Maartens, Erns Grundling, P.J. Haasbroek, Vincent Oliphant en Christine Barkhuizen-le Roux se stories pryk trots langs mekaar. Die bundel is goedgekeur as voorgeskrewe werk vir Afrikaans Tweede Addisionele Taal Graad 11.

Indien jy belangstel in die verhaalkuns en dalk self jou hand aan skryfwerk waag, sal jy ook baie waarde uit hierdie bundel put. Die inleiding skop weg met die vraag “Wat is ’n kortverhaal?” Daar word uitgebrei oor die tipe vertellers, die intrige of plot, karakterisering, ruimte of plek, agtergrond, atmosfeer of stemming, tema en boodskap, persoonlike respons, beeldspraak en taalgebruik.

Elke kortverhaal word voorafgegaan deur inligting oor die skrywer, ’n kort inleiding tot die verhaal, die uitlig van literêre aspekte om na op te let, en pre-lees vrae en aktiwiteite. Nadat jy die verhaal gelees het, kan jy aandag skenk aan die woordelys asook post-lees vrae en aktiwiteite. Weldeurdagte kontekstuele vrae help jou ook om die verhaal verder te ontleed en seker te maak dat jy met die nodige begrip gelees het. Daar is ook ’n verrykingsaktiwiteit wat jou aanmoedig om ook self iets te skryf. Ek het ook baie gehou van die oorhoofse woordelys en die verduideliking van literêre terme soos eufemisme, metonimia en onomatopee agter in die bundel. Die antwoorde op die vrae is agterin die boek sodat jy jouself kan toets.

Ek het as volwassene ook heelwat geleer wat ek weer in my eie skryfwerk gaan toepas. Ek het elke kortverhaal aandagtig gelees en dan aan die vrae en aktiwiteite aandag geskenk. Natuurlik hoef jy nie tyd daaraan te spandeer deur die vrae en aktiwiteite te voltooi nie, jy kan net die kortverhale op hulle eie lees en geniet. Ek het egter die oefeninge baie insiggewend en leersaam gevind. Dit het my opnuut na die kuns van kortverhaalskryf laat kyk. Ek leer altyd geweldig baie wanneer ek ander skrywers se werk bestudeer. ’n Ster in haar sak en ander kortverhale maak dié stokperdjie van my heelwat makliker.

Wendy Maartens se “Nomsa en die reënbul” op bladsy 44 is ’n Afrika-volksverhaal, maar ook ’n sprokie. Die eienskappe van ’n sprokie word kortliks genoem. Die simboliek agter die reënbul word ook verduidelik. Die tema onderstreep die belangrikheid van water vir die mens, en die boodskap is “dat die reën wel weer ná die droogte sal kom, en daarmee saam die reënboog”. Kyk net hoe mooi speel die outeur hier met personifikasie, en hoe openbaar die sin meer van Nomsa se karakter: “Sodra die donderweer en blitse oor die vlaktes begin baljaar het, het Nomsa nie soos die ander meisies weggekruip nie, maar vrolik gedans en die reëndruppels in haar mond probeer vang.” En later: “Al waaraan sy kan dink, is haar hart wat soos ’n warrelwind voor ’n reënbui aan die dans gaan. Oor haar lippe dartel die eerste note van ’n nuwe lied wat Nomsa nog nooit vantevore gesing het nie.” Mooi, nè?

’n Ster in haar sak en ander kortverhale beloof om ’n wonderwêreld van ou en nuwe stories te bied “wat jou anders na die wêreld sal laat kyk”. “Stories wat jy soos ’n ster in jou sak met jou kan saamdra.” Ek dink die bundel slaag volkome daarin.

Skaf ’n Ster in haar sak en ander verhale gerus hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.