Boekresensie: Offers vir die vlieë

Offers vir die vlieë is geskryf deur Fanie Viljoen en word deur LAPA Uitgewers uitgegee.

Hierdie grensverskuiwende jeugverhaal is aangewys as die waardige wenner van LAPA se 2019 jeugromankompetisie.

Op sewentienjarige ouderdom rapporteer Eliam en nog nege en twintig jong mense, wat saam met hom in die Residensie – waar dissipline van kleins af ’n voorvereiste was – grootgeword het vir weermagopleiding by Alfa Opleidingskamp. Hier dril sersant Torsten, ’n opperse tiran en boelie, hulle op onmenslike wyse totdat daar ná ’n jaar slegs ses van hulle oor is. Niemand durf vrae vra oor die twee wat dood is en die een wat verlam is nie. Nugter alleen weet wat van die ander een en twintig geword het. Dis hoe die Program werk. Jy vra nie vrae nie en jy praat nie uit nie. Jy is net ’n getatoeëerde nommer. “Elkeen se magsnommer is uniek, een syfer verwyderd van ’n ander ou s’n. Dit is die een ding wat aan jou alleen behoort. ’n Nommer” (p. 17).

Die aanvang van die verhaal herinner sterk aan die uiters strawwe weermagopleiding van die vorige bedeling wat baie Suid-Afrikaners nog nagmerries laat kry. “My spiere is nog seer van gister se oefening. ’n Strawwe ent se draf met volle wapenrusting op die rug, wapen in die hand. Later is ons op teen Verloorderskop, die plek waar ouens gebreek word. Klippe dra. Makkers dra. Staan. Val. Kruip. Klim. Sweet. Huil. Dis alles deel van man word” (p. 16).

Eliam-hulle het net die Boek “wat ons lewe rig en die grense stel. Van die Boek is die Mag die uitvoerende gesag, en van daardie gesag is die troepe net ’n onderdeel, so is ons geleer. Maar ’n belangrike deel. Ons is die verdedigers van die Nuwe Orde. Want teenoor die Mag, staan die AntiMag. […] Ons is deel van die Mag. Ons is Goed. Hulle – die gesiglose mense anderkant die Front – is die Antimag, die Kwaad” (p. 21). Opleidingskamp Alfa se kommandant druk dit op hulle harte dat die “basiese behoefte van die mens is oorlewing. Dis ’n gegewe. Maar om jou lewe vir jou land op te offer, is heilig” (p. 22). Indoktrinasie is aan die orde van die dag. Jy lewe en sterf vir die Mag.

“Deur die strawwe opleiding het ons oorblywende ses soos ’n organisme geword. ’n Ding. ’n Dier” (p. 23). Eliam en sy vyf medesoldate word na die Front ontplooi. Een van hulle steek hul wreedaardige seksieleier, sersant Torsten, dood agterin die trok wat hulle vervoer. Niemand is jammer dat hy dood is nie. Almal ontken hulle is skuldig. Wie van hulle lieg?

Dit het my aan die hart geruk dat een van die ses, húlle wat van kleins af geleer is om wapens te hanteer en gedurig saam met hulle te dra, ná ’n onderonsie met ’n ander troep in ’n stem wat soos dié van ’n kind s’n klink, wonder: “Sou ek hom kon doodmaak?” Die realiteit – ook in ons tyd – van kindersoldate wat aan onmenslike wreedhede blootgestel word, kom rus swaar op die leser se gemoed.

Die res van die distopiese verhaal ontvou soos ’n vinnige aksiefliek. Viljoen is uiters vaardig met die pen, en sy woordgebruik is ekonomies en in die kol. Ook die kru taalgebruik op plekke en die grafiese beskrywings is funksioneel tot die verloop van die storie. Hy weet van die begin van die storie af waarnatoe hy op pad is daarmee, en hy voer dit vaardig uit op ’n wyse wat die leser na asem laat snak. Ten spyte van die verontmensliking wat die karakters moet deurmaak om van hulle die perfekte soldate te maak, is dit juis menslikheid wat op die ou einde swaarder begin weeg. Dít, en hoop. Al speel die verhaal in ’n distopiese staat af, is daar meer as genoeg raakpunte tussen die hier en nou en dit wat moontlik kán wees dat tieners daarmee sal identifiseer. Vir my is Offers vir die vlieë nie net ’n boek oor ontnugtering nie, maar ook oor ontwaking.

Meer oor die skrywer

Fanie Viljoen is ’n geliefde skrywer. Daar het al dosyne boeke uit sy pen verskyn waarvan verskeie toekennings ingepalm het. Breinbliksem en Onderwêreld is albei onderskeidelik met die goue en silwer Sanlamprys vir Jeuglektuur bekroon. Betower en Afkop is elk voorheen as naaswenners in LAPA se jeugromankompetisie aangewys. Hy spog ook met ’n aantal ATKV-Woordveertjies.

Skaf gerus jou kopie van Offers vir die vlieë hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.