Boekresensie: Onverskrokke vroue

Lux Verbi publiseer Onverskrokke vroue deur Bettina Wyngaard, ’n Overbergse skrywer en regsgeleerde. Dié boek is goed nagevors, omvattend en skroom nie om aktuele sake waar dit vroue aangaan aan die groot klok te hang nie.

Die subtitel op die voorblad van Onverskrokke vroue lui: “Uitdagings en oorwinnings van Bybelse tye tot vandag”. Die agterbladteks word ingelui met die volgende vrae: “Waar hoort vroue in die samelewing? Hul rol as versorgers word geredelik erken, maar wat van die openbare sfeer – waar hoort vroue in die kerk, die politiek, die sakewêreld, sport en wetenskap?” Meer vrae volg, soos byvoorbeeld “Het vroue in die Bybelse tye dinge dan anders beleef as ons vandag? En hoe staan dit vandag met vroue – as versorgers in die Covid-19-pandemie, as leiers in die kerk, as huiswerkers? En wat van seksuele teistering by die werk, transgenderregte en hutsmerk-aktivisme?”

Onverskrokke vrou, ’n sagtebandboek wat 224 bladsye beslaan, se vyf hoofstuktitels is: “Die vrou en die kerk”, “Die vrou en die arbeidsmark”, “Die vrou en veiligheid”, “Die vrou en familie” en “Die vrou en die openbare lewe”. Agter in die boek is ’n afdeling getiteld “Regsinstrumente om regte te beskerm” waar Wyngaard ook na wetgewing, konvensies en protokolle kyk wat daarop gemik is om vroue te beskerm, te verhoed dat daar onregverdig teen hulle gediskrimineer word en ook om deur sogenaamde glasplafonne te breek.

Wyngaard, wat in 2009 die Jan Rabie Rapport-prys vir haar roman Troos vir die gebrokenes ontvang het, noem Onverskrokke vroue ’n gesprek tussen toeka en nou, tussen Bybel en Grondwet, tussen my en jou. Sy reken dat die teks nie akademies in die tradisionele sin van die woord is nie en wys daarop dat daar ’n lys terme agter in die boek verskyn. Dan beveel sy ook bykomende leesstof aan vir diegene wat graag verder oor die onderwerp wil nalees.

Omdat ek ’n groot belangstelling in die teologie het, het ek veral die eerste hoofstuk wat oor die vrou en die kerk handel baie interessant gevind. Dit begin heel gepas deur sogenaamde “tekste van verskrikking” in die Bybel uit te lig. So leer die leser dat in die tyd toe Jesus op die aarde geleef het, Joodse mans daagliks gebid het: “Thank you, o Lord, that I am not a dog, a child or a woman.” “Vrou het geen regte gehad nie. Hulle kon nie aanspraak maak op opvoeding nie. Hulle het geen openbare verteenwoordiging of rol gehad buiten om ’n man se ma, dogter, suster of vrou te wees nie. Hulle was weinig meer as besittings, met geen outonomie as ’n groep nie” (11). Jesus het vroue egter as volwaardige mense beskou en behandel en dus die norme van sy tyd uitgedaag. Wyngaard noem byvoorbeeld dat een van die heel eerste voorbeelde van burgerlike ongehoorsaamheid en verset deur Bybelse vroue was toe Farao opdrag gegee het dat Joodse seuntjies by geboorte gedood moes word in Egipte, maar die vroedvroue was ongehoorsaam aan die bevel. As leser kon ek aan hand van die talle voorbeelde die gesprek en tema moeiteloos volg.

Wyngaard skryf op bl. 32: “In die hedendaagse samelewing word daar aanvaar dat vroue dieselfde as mans hanteer behoort te word. Hulle kan leierskapsrolle op enige vlak beklee. Vroue is dokters, regters, ministers in die land se kabinet, eerste ministers, presidente …” Sy noem dat die Grondwet bevestig dat daar nie op grond van geslag teen vroue gediskrimineer mag word nie, maar reken tog daar is geen weerspieëling hiervan in die leierskap van die kerk te sien nie, want leierskapsposisies vir vroue is in die minderheid, al bestaan die gemiddelde gemeente uit ongeveer 70% vroue. Dan wys sy daarop dat die proses om vroue as predikante te legitimeer relatief vreedsaam in Suid-Afrika verloop het en dat vroulike predikante in die meeste gemeentes verwelkom word.

Wyngaard pak die orige vier hoofstukke met dieselde ywer aan. In hoofstuk twee wat oor die vrou en die arbeidsmark handel, wei sy etlike bladsye aan ons huidige situasie met die pandemie en die invloed wat dit op die geslagsrolle het. Vroue en sekswerk, pornografie, skadelike kultuurpraktyke, gesinsgeweld, mensehandel, vlugtelinge, MIV en vigs is net ’n paar van die temas wat sy onder die loep neem. So ook vroue se erfreg, reproduktiewe regte, transgenderregte, politieke regte, die huwelik, gesinsbeplanning, onderhoud, ens. Dan skryf sy ook onder meer oor vroue en sosiale media, vermaak en sport en die stadige geweld van armoede en sosiale geregtigheid.

Ek het haar skryfstyl gemaklik, gesaghebbend en boeiend gevind. Die behendige wyse waarop sy die teks tussen gister en vandag rangeer, dui daarop dat sy haar navorsing deeglik onder die knie het en haar onderwerp(e) goed verstaan. Sy gee haar kennis weer op ’n lekkerlees wyse. Ek het die inhoud baie leersaam gevind. Trouens, ek het my voorgeneem om die boek vir ’n tweede keer te lees omdat Wyngaard so wyd vat en raak vat. Ons samelewing het ver gekom om vroue hulle regmatige plek te gun, maar “Ons ontwikkeling is ’n brose, breekbare erdekruik. Ons moet voortdurende waaksaam wees om seker te maak ons verloor nie die vordering wat ons al wel gemaak het nie” … “Ons dogters en hulle dogters en hulle dogters sal vir ons dankie sê” (219).

Amore Bekker, bekende RSG-omroeper, beskryf Onverskrokke vroue as “’n wekroep vir almal, en nou dat ons dit alles weet, wat gaan ons doen?”

Skaf jou kopie van Bettina Wyngaard se Onverskrokke vroue hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.