Boekresensie: Van ongenooi tot ingenooi

Van ongenooi tot ingenooi deur Maretha Maartens word uitgegee deur Struik Christian Media.

Hierdie werklikheidsfiksie (wat ook ’n teer, geestelike liefdesverhaal is) deur een van ons voorste Afrikaanse geestelike skrywers het my aan die hart geruk. Dit is ’n baie eerlike en onthutsende verhaal wat met groot deernis vertel word – die verhaal van ene “Tanja” wat gediagnoseer word met ulseratiewe kolitis ná ’n ernstige gesondheidsinsinking. Die dokter tree nie met die nodige haas op nie, en sy sterf byna aan inwendige bloeding nadat haar kolon perforeer. Ná alles moet sy boonop vrede maak met die wete dat sy vir die res van haar lewe ’n stoma-sak moet dra. “Ek, Tanja, is die vrou uit wie ’n krities belangrike gedeelte van die dikderm, die gedeelte tussen die rektum en anus, chirurgies verwyder is. Die een wat derhalwe ’n uitskeidingsak aan die regterkant van my lyf vasgeplak moet hou” (15).

Die liggaamlike (“6 keer in die trauma-afdeling, 7 keer in die gastro-endokriene saal, 9 keer in teater, 10 dae in ’n mediese saal, 23 dae in hoë sorg, 25 dae in intensiewe sorg, 17 dae in ’n onkologiesaal en 34 dae in ’n chirurgiese saal”(129)), sowel as die geestelike en emosionele tol wat die siekte eis, het ’n geweldige uitwerking op haar en haar verhouding met haar lewensmaat, ander geliefdes en God. Nie net gaan sy deur uitmergelende liggaamlike trauma nie, maar sy is ook aanvanklik kwaad vir God, bitter teenoor die dokter wat nie spoedeisend opgetree het nie (“Deur een man se nalatigheid het ek alles verloor. My liggaam. My selfbeeld. My vryheid. My kans om nog kinders te hê. My siel. My verstand” (129)), en sy moet leer om nie aan haarself as naasbeste, veranderd en vermink te dink nie en met haar “nuwe normaal” vrede te maak.

Maretha skryf in die Voorwoord dat dit ’n boek is vir vroue op die eensame reis wat in die noodgevalle, intensiewe sorg of ’n onkologiekliniek begin het, en waarna jy dan met jouself, God en jou medemens verder moet gaan saamleef. Ek het met die lees van hierdie boek opnuut besef hoe dankbaar ons moet wees vir goeie gesondheid. Dit het ook my oë oopgemaak vir dít waardeur die draers van stoma-sakkies en hulle gesinne gaan. Ek het ook nuwe respek gekry vir die mediese personeel wat pasiënte bystaan in hulle strewe om weer gesond en so heel as moontlik te word. Van ongenooi tot ingenooi word tereg op die agterblad beskryf as ’n verhaal wat “hoop, innerlike genesing en die onfeilbare trou van die Drie-enige God verwoord”.

Uittreksel:Daar was geen insig in my toe ek God wou afskryf nie, sou ek vir Ramona wou sê. Ek weet nou dat die Heilige Gees mense kom soek waar hulle soos blinde vlermuise teen die wande van nagdonker grotte sit. Dat ek gesoek en gevind is. Dat God my vasgehou het asof ek ’n vlermuis in sy hand was. Dat dit Hy was wat in my vlermuisore gefluister het: ‘Dit is Ek wat die helpers, jou engel-dokter met die sagte stem, jou pa met die potjie room, hulle almal na jou gestuur en by jou laat bly het’.” (127).

Meer oor die outeur: Maretha Maartens, ’n internasionaal bekroonde skrywer, het al meer as 130 gepubliseerde titels agter haar naam. Sy het al verskeie toekennings vir haar skryfwerk ingepalm, waaronder die Sanlamprys vir jeuglektuur, die Credo, ATKV- en Andrew Murray toekennings vir skryfkuns sowel as die Oostenrykse Katholischer Kinderbuchpreis. Sy lei Bybelstudie- en gebedsgroepies, skryf vir LiG-tydskrif en bied ’n Skrifboodskap op Radio Kansel aan.

Kry jou kopie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.