Calitz maak musiek met skryfwerk

Wilken Calitz (Foto: Lindsey Appolis)

Was dit nie vir ʼn ondraaglike pyn in sy arm en skouer nie het Wilken Calitz waarskynlik nooit klankbane vir produksies geskep óf sy debuutroman, Swart swaan, geskryf nie.

Calitz vertel dat hy besig was met sy meestersgraad in musiek by die Universiteit van Stellenbosch toe dié pyn skielik opgeduik het.

“Ek kan nie onthou by hoeveel fisioterapeute, ortopediese en ander spesialiste ek vir raad gaan aanklop het nie,” vertel hy. “Na hoeveel toetse was die konsensus dat ek bloot te lank en te veel viool gespeel het.”

Calitz speel al 32 jaar viool en 20 jaar kitaar. Hy het ongeveer agt jaar gelede sy eerste musiekstuk gekomponeer en min of meer in dieselfde tyd begin skryf.

Nadat hy sy meestersgraad voltooi het, het Calitz besef dat hy op ander maniere uiting aan sy kreatiwiteit moet gee. Weens die onnatuurlike staanposisie wat violiste inneem moes Calitz nuwe moontlikhede ondersoek.

“Om vir jare dieselfde ding te doen kan enigiemand oor die afgrond dryf,” skerts hy. Calitz se pad het met die dramawêreld gekruis en later het hy ook televisiewerk gedoen.

“Ek het eers ʼn paar klankbane vir toneelstukke geskep en toe vir iemand gevra om ʼn teks te skryf wat die musiek komplementeer,” verduidelik hy. “Dit was hemels. Musiek en stories het mekaar uiteindelik in my brein ontmoet.”

Calitz het sedertdien die musiek vir teaterproduksies soos Vaselinetjie, Drif en Kristalvlakte gekomponeer. In 2012 het sy radiodrama Veertig dae ’n tweede plek in RSG se radiodramakompetisie verower en sy verhoogstuk 2092: God van klank het die 2013 Woordfees-Uitskieterprys gewen. Calitz is ook vir ses Fleur du Cap-teatertoekennings benoem.

Hy het ook ʼn paar klankbane vir kortprente en televisiereekse geskep, ʼn opera geskryf, en talle solostukke vir kitaarspelers en musiekgroepe gekomponeer.

Wilken Calitz (Foto: Lindsey Appolis)

Sy besluit om ʼn meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan te pak is deur stories gedryf, vertel Calitz.

“Toe ek vir die graad ingeskryf het, was ek reeds vasbeslote om ʼn roman te skryf,” sê hy. Die graad behels ʼn praktiese komponent wat Calitz gebruik het om sy idee te ontwikkel.

“Ek het wonder bo wonder onder die bekwame leiding van Etienne van Heerden beland. As dit nie vir hom was nie, sou Swart swaan nooit op die rakke gewees het nie.”

Calitz meen sy skryfwerk is ʼn uitloper van verskeie genres waarin hy al gewerk het.

“ʼn Woord is ʼn noot en ʼn sin is ʼn frase,” sê hy. Die algehele gevoel van ʼn komposisie is vir hom soortgelyk aan ʼn karakter of scenario. “Soms, tydens my skryfsessies, besef ek ek is besig om musiek te maak. As ek kitaar of viool speel, begin ek dikwels om stories te ‘skryf’,” sê Calitz.

Hoewel musiek ʼn kernrol in sy gedagtegang en lewe speel, word die skep van karakters nie daardeur beïnvloed nie. Hy luister wel graag na Bach se versameling preludes en fugas in Das wohltemperierte Klavier wanneer hy vir ʼn skryfsessie voorberei.

“Dit maak my kalm en haal my uit die alledaagse lewe, so dit is ʼn goeie vertrekpunt om net in ʼn ander mindset te kom,” vertel Calitz. Maar soms kan ʼn verkeerde snit die proses in ʼn ander rigting stuur.

“As ek toevallig na Metallica of Rage Against the Machine luister en dan gaan sit en skryf, sal die karakter nie iemand wees wat saam met sy ouma tee drink nie,” verklap hy.

Calitz meen agtergrondklanke is nie so steurend soos musiek nie, daarom kan hy op enige denkbare plek skryf. Swart swaan het in hotelkamers, in die ry by binnelandse sake en in koffiewinkels ontstaan.

Oor die skryfproses vertel Calitz dat hy onlangs ʼn nuwe tegniek probeer het.

“Dit word outomatisme genoem en behels ʼn proses wat die onderbewuste teiken en jou uit die alledaagse pluk.

“Ek gaan sit voor my skootrekenaar en begin tik vir ʼn uur of twee en lees glad nie wat ek geskryf het nie. Na tien sessies wat oor ʼn paar dae versprei is, is daar maklik 10 000 woorde. Alles is nie noodwendig bruikbaar nie, maar daar is altyd ʼn handvol goue sinne en idees wat ek nie geweet het ek in my kop het nie,” vertel hy.

Die uitvoerbaarheid van Swart swaan op die verhoog blyk dalk onmoontlik te weens, maar wanneer daar ʼn rolprent gemaak word, sal Calitz graag self die klankbaan wil komponeer.

“Ek dink daar moet ‘n groot geraas met trompette en keteldromme wees vir die toneel waar die swaan sy opwagting maak,” verklap Calitz.

Hy dink ook aan ʼn paar intieme en hartverskeurende oomblikke waar die karakter besef sy pogings om deur die samelewing aanvaar te word lê aan skerwe. Calitz hoor al ʼn strykkwartet wat lang huilnote speel en ʼn elektriese kitaar wat die kyker se ore straf wanneer dit die minste verwag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.