Carina Stander: ‘Karakters is eiewillig, verras my gedurig’

Carina, haar man, Gerrit, en hulle twee seuns, Aden en Ilan, woon in die Tsitsikammawoud. (Foto: Verskaf)

Carina Stander het in Maart vanjaar op Facebook met haar binnekring gedeel dat die slotboek in haar Bergengel-trilogie “uitgeswel het soos ʼn sampioen in ʼn bergwoud” en daarom het sy in oorleg met haar redakteurs besluit om dit in twee dele uit te gee.

Carina het die Afrikaanse literêre wêreld in 2017 verras met haar mistieke reisverhaal waarin sy ʼn fabelagtige sprokieswêreld, wat sy Gabriëllië noem, tot stand gebring het. Dié Bildungsroman gaan oor Eron Verberger, enigste kind van die klokmaker Gibor, en sy vrou, Alida.

Toe Carina in 2016 vir Protea Boekhuis ʼn manuskrip voorgelê het, was die verhaalbeplanning ook reeds voltooi en die trilogie sou uit Die Bergengel (2017), Die Wonderwese (2020) en Die Waterplek bestaan.

ʼn Trilogie wat gedy

Die eerste boek van die derde aflewering van Carina se Bergengel-trilogie het pas verskyn en dit heet Die Waterplek: Afrika. Die Waterplek: Gabriëllië is die slotboek in die reeks en dit sal na verwagting in 2023 volg.

In Die Waterplek: Afrika word lesers meegedeel dat drie herfse verloop het sedert die dag toe Gibor Verberger so half terloops die bestaan van die Waterplek, die skuilplek in Afrika wat Gibor vir die vlugtelinge van die Vuurstorm voorberei, aan sy seun, Eron, bekendgemaak het.

Intussen het baie water en bloed in die see geloop en nou verlaat die 17-jarige Eron uiteindelik sy geboorteland in die hoop om die laaste Geseënde en sy pa by die Waterplek te vind.

Tydens die skryfproses het Carina egter agtergekom dat een boek nie genoeg sal wees om Eron se Afrika-reis te vertel en die trilogie af te sluit nie.

“Ek het weggetrek met die skryf van Die Waterplek, maar in die helfte van my beplanning was dit reeds langer as die vorige twee boeke,” verduidelik sy aan Maroela Media.

Carina het besef as sy so sou voortgaan, sal die uiteinde ʼn boek van meer as 700 bladsye wees en dit sou nie deug nie. Daarbenewens was ʼn bykomende boek in die reeks ook absoluut geregverdig en trouens eintlik onontbeerlik.

Om konteks hieraan te gee verduidelik Carina dat Die Bergengel en Die Wonderwese aanvoorwerk doen vir die reis na Afrika wat in Die Waterplek onderneem word.

“Ek kan nie ʼn hele nuwe kontinent en karakters in die trilogie dompel sonder om behoorlike tyd aan die reis soontoe te bestee of om vir die landskap en sy karakters ʼn verhoog en ruimte te gun nie.

“Die wêreldbou van Afrika verdien ruimte in die verhaal en daarom het ek besluit om die derde boek daaraan te wy. In die slotboek van die trilogie sal die tweede helfte van dit wat ek in Gabriëllië beplan het, geskryf word.”

Die Afrika-kontinent wat Eron deurkruis, is ʼn herverbeelde landskap wat Carina uit haar eie belewings van sowat 15 Afrikalande tot stand bring. Die karakters wat Eron teëkom, is ook uniek en eie aan die land: ʼn flambojante heerseres en ʼn slangbesweerder, ʼn reusagtige seevaarder, ʼn meisietjie wat reënwind maak, ʼn olifantkalf en ʼn magiese ietermagog.

Ongeveer ʼn jaar gelede het Carina se verhaal ʼn verdere metamorfose ondergaan waarop sy self nie voorbereid was nie en wat tot nog ʼn keerpunt in die Bergengel-boekreeks gelei het.

“Ek het eendag gesit en skryf toe ek ʼn ‘Wat as’-oomblik ervaar en skielik het ʼn baie groot wending in die Waterplek-verhaal gebeur wat ek nie sien kom het nie.”

Hoewel die heldereis tot aan die einde uitgewerk is, is Carina oop vir afdraaipunte en oortuiging. “Partykeer is karakters baie eiewillig en hulle verras my gedurig,” verklap sy.

“Ek was regtig nogal verras met die slot van Die Waterplek: Afrika. Ek hoop van harte as ek dit nie van die begin af sien kom het nie, sal dit lesers ook verras.”

Woord, beeld ontwikkel parallel

Aanhangers wat Carina se werk ken, sal weet dat dit ʼn verskraling van haar kunstenaarskap sal wees om bloot na haar as ʼn skrywer te verwys.

Sy het ʼn honneursgraad in beeldende kunste aan die Universiteit van Pretoria verwerf, sy het vir ʼn paar jaar in Cambridge en die Skotse Hoogland vir afgetrede beeldhouers gaan werk en sy het later óók haar meestersgraad, met lof, in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad behaal. Sedertdien maak sy kuns in die vorm van beeldhouwerk, inksketse, poësie, kortverhale en rubrieke.

Een van Carina Stander se inksketse vir haar Bergengel-trilogie. (Grafika verskaf deur Carina Stander)

Carina beskou kuns as die visueelmaking van karakters en tonele, en met hierdie trilogie het sy grootliks uit haar eie belewings geput.

“Baie van die landskappe is goed wat op my eie reis en ervarings gebaseer is. Dit is gegrond op goed wat ek self gesien of ervaar het. Foto’s het woorde en later herverbeeldings in die vorm van sketse geword.”

Soos met haar skryfwerk is Carina se kuns deurgaans in ʼn proses van metamorfose en van wording. “In elke skets versteek ek prentjies. Net so is daar in elke kunswerk ander beelde weggesteek, en ek doen presies dieselfde met my boeke waarin daar karakters en tonele verdoesel word.”

Wat Carina se boeke van ander skrywers sʼn onderskei, is haar eie inksketse wat op die voorblad pronk. Carina vertel dat sy met al drie Bergengel-boeke eers die storie klaar geskryf het voor sy die voorbladsketse geteken het.

“Dit is omdat ek, nadat die verhaal voltooi is, presies weet watter versteekte figure, beelde of simbole ek op die voorblad wil hê,” verduidelik sy oor hierdie aspek van haar kreatiewe proses.

Die Waterplek: Afrika is in goue sierskrif op die voorblad geëts met ʼn ietermago, die Afrika-kontinent, ʼn kremetartboom en twee figure wat in ʼn vleiland stap (vermoedelik dalk Gibor en Eron Verberger) wat eerste die leser se aandag trek.

Benewens die voorbladskets gee Carina ook deur haar inksketse lewe aan tonele en karakters in die boek.

Die bekendstellings van Die Bergengel en Die Wonderwese is elkeen nogal met ʼn boekpartytjie en kunsuitstalling, met sketse uit die verhale, gevier. Aanhangers van Carina se kunswerke sal egter nog ʼn rukkie moet wag vir ʼn tentoonstelling van sketse uit Die Waterplek, omdat dit eers by die bekendstelling van Die Waterplek: Gabriëllië uitgestal gaan word.

Woud, see wat inspireer

Carina, haar man, Gerrit, en hulle twee seuns, Aden en Ilan, woon in die Tsitsikammawoud waar hulle ure in die berg wandel, saans in die maanlig op die strand stap en sorgeloos in die see swem.

Soos haar reisavonture is Carina se onmiddellike omgewing ook een van die bronne wat haar trilogie, en ander skeppingswerk, voed.

“Dit speel geweldig direk in op wat ek skryf, en ek dink dit is omdat ek so buite en in die natuur leef,” erken Carina.

Die Bergengel-trilogie is in ʼn tyd geskryf toe sy al hoe meer en gereeld begin reis het. “Ek het nou bykans 300 reisartikels geskryf en nagenoeg 30 lande besoek. Dit is uit daardie gegewe wat ek Gabriëllië, my denkbeeldige Afrika, en eilandgroep kon saamstel.”

Die kaart van ‘n herverbeelde Afrikalandskap wat Carina Stander geskets het. (Grafika verskaf deur Carina Stander)

Sou Carina dié trilogie kon skryf as sy op ʼn ander plek gewoon het? “Nee, definitief nie.

“In Gabriëllië is daar baie woude, seë en kuslyne. Ek het nooit ʼn behoefte gehad om die see enigsins by ʼn storie in te werk voor ek permanent by die see gewoon het nie. Ek is nou bewus van elemente soos die getye, siklusse van die maan, die invloed van mistigheid op klank en aan watter kant van die bome die mos groei.”

Benewens die invloed van ʼn bepaalde omgewing, is skrywers dikwels ook hulle karakters verskuldig aan mense, hetsy dit ʼn geliefde, vriend of vreemdeling is. Carina sê lesers vra gereeld vir haar dié vraag en dan verduidelik sy dat dit geensins van toepassing is op die Bergengel-trilogie nie.

“Mense wil baie keer weet of my eie seuns die inspirasie vir Eron is, maar ek het die trilogie begin skryf vyf jaar voor my oudste seun gebore is,” sê sy, en voeg dan by: “Ek het ʼn seun as hoofkarakter gekies omdat ek vir ʼn verandering weg van myself af wou skryf.”

Daar is verder ook geen ander karakters in die trilogie wat op ʼn persoon gegrond is nie. “Hulle is almal gebeg en geborrow uit hordes mense wat ek hier en daar raakgeloop en ontmoet het. Totale maaksels van my verbeelding, daarom kon ek met hulle maak wat ek wou, en nie verantwoordelik voel vir dit wat ek met hulle doen nie.”

  • Die Waterplek: Afrika word op 25 September by DEKAT-studio, Johannesburg, bekendgestel. Stuur ʼn e-pos aan Carina Stander na [email protected] om kaartjies te bespreek.
  • Op 27 September word die boek ook by Kleinkaap-boetiekhotel in Pretoria bekendgestel. Gaste wat die geleentheid bywoon kan onder meer uitsien na verversings wat deur die boek geïnspireer is, asook lewendige musiek deur ‘n djembe-tromspeler en ‘n harpspeler wat musiek gaan speel waarna Carina geluister het terwyl sy boek geskryf het. Kaartjies kos R100 en dit is by Plankton
  • Die boek het pas by Protea Boekhuis verskyn. Klik hier om Die Waterplek: Afrika aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.