Christelike leesstof vir selfverryking

Die mens is meesterlik aanmekaargesit – liggaam, siel en gees. Die heel beste jy is ‘n alles-in-een-handleiding wat ‘n mens inspireer om die heel beste jy te word en Jy is kosbaar is ʼn Bybelstudie waarin jy in ses weke ontdek hoe om vry van skaamte te leef en jou selfvertroue in Christus te vind.

Die heel beste jy

(Deur Dirkie vd Spuy, Dalena Vogel en Esther vd Spuy is uitgegee deur Christelike Uitgewers Maatskappy)

Ek het heerlik gelees aan hierdie boek en het baie geleer. I Tessalonisense 5:23 lui: “Mag God julle geheel en al, na gees, siel en liggaam so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!”

Jy kan volkome menswees en vervulling ervaar deur werklik gesond te wees na liggaam, siel én gees. Wanneer hierdie drie elemente in balans is, kan jy bonatuurlike vreugde en vrede wat slegs God vir jou kan gee, verwag.

Dr. Esther van der Spuy, ’n dieetkundige, skryf oor die belangrikheid van ’n gesonde leefstyl “waar ons reg eet, fisiek aktief is en ons liggaam genoeg rus en slaap laat kry”. Sy wei uit oor die gevare van leefstylsiektes soos hartsiektes, hoë bloeddruk en diabetes mellitus, emosionele eet, oorgewig en obesiteit, en eetversteurings. Sy lei dan die leser om ’n opregte wilsbesluit te neem om sy of haar liggaam na behore te respekteer en te versorg. “Goeie gewoontes moet aangeleer word en swak gewoontes moet afgeleer word.”

Dr. Dalena Vogel, ’n sielkundige, beklemtoon hoe belangrik dit is “om in ons sielsdimensie met vrede in ons gemoed en met gesonde emosies te lewe”. Sy skryf oor die invloed wat mens se verlede op jou het, oor trauma en depressie en dat jy bewustelik moet lewe. “Die Skepper het ons só gemaak dat die son elke dag nuut opkom oor ons lewe en dat ons elke dag nuwe kanse het om nuwe verwagtings vir geluk en heelwees te ontwikkel.” Sy wys die leser daarop om reg te dink vir gesondwees en te waak teen negatiewe gedagtes sodat “gister se bagasie nie jou hede negatief beïnvloed nie”. Voorts gesels sy oor die rol wat emosies speel en die doel daarvan. Dan lei sy die leser om verantwoordelikheid te neem vir sy of haar gedrag en die beginsels van goeie kommunikasie na te streef.

Ds. Dirkie van der Spuy, assessor van die algemene sinode van die NG Kerk, skryf oor ’n heel en gesonde geestelike lewe “waar God die heel belangrikste prioriteit in jou lewe is”. Hy verduidelik hoe ons vry kan kom van die verlede en deur heiligmaking kan kies om te volhard in die stryd teen sonde. Hy wys daarop dat “die oorsprong van ons gedrag ten nouste saamhang met wat in ons gedagtes aangaan” en dat ons die leuens van die duiwel met God se waarhede moet vervang. Verder gee hy raad oor hoe om geestelik te groei en beklemtoon dat ons ’n Helper het in die Heilige Gees.

Skrifaanhalings in die boek is geneem uit die Bybel in Afikaans 1983-vertaling met herformulerings tot en met 1992.

Skaf Die heel beste jy hier aan.

Jy is kosbaar

(Deur Laura Dingman word uitgegee deur Christelike Uitgewersmaatskappy)

Hierdie ses weke lange Bybelstudie leer jou “hoe om God se liefde te vertrou en in ’n eerlike verhouding met Hom en ander mense te leef” en het ten doel om “jou op ’n reis van persoonlike transformasie deur die krag van God se Woord” te neem.

Laura Dingman, kreatiewe direkteur by The Creek – ’n kerk in Indianapolis – motiveer die leser só: “Breek weg uit die skadu’s en ervaar die lewe van vervulling wat God vir jou bied”. Sy skryf: “Ek bid vir jou, liewe leser, waar jy op hierdie reis vertrek, My diepste hoop vir jou is dat jy uit jou wegkruipplek sal kom en die wonderbaarlike vrye lewe sal begin leef wat God vir jou in gedagte het.”

Sy nooi jou uit om vas te hou aan die waarheid dat Jesus ons liefhet wanneer ons swak is, maar Hy los ons nie daar nie. Elkeen van die ses studies begin met oordenkings oor die Skrif en word gevolg deur vyf dae van begeleide nadenke.

Dit ondersoek “waarhede wat ons begrip kan help vorm van wat die Bybel oor werklike geestelike gemeenskap sê en hoe om daarbinne te leef”. Die weeklikse lesse word afgesluit met ’n afdeling getiteld “Waarheid, leuens en aksie” en “kyk na die waarhede wat in die week geleer is, na ’n primêre leuen wat ons vir die waarheid moet verruil en ’n geleentheid vir ’n aksiestap om elkeen van ons ’n klein bietjie nader daaraan te bring om te leef asof ons gevind is”.

Die ses hoofstukke is: Vyeblare steek niks weg nie (Waarom kruip ons weg?), Ken jou vyand (Hoe kan ons die stryd teen skaamte wen?), Jy kan nie meer wegkruip nie (Waarom kruip ons nou eintlik weg?), Jy is nie alleen nie (Waarom is geestelike vriendskappe nodig?), Jy is genoeg (Jy hoef nie meer weg te kruip nie) en Jy is gevind: God bly meedoënloos uitreik na jou. Daar is genoeg plek vir die leser om aantekeninge in die boek te maak.

Hierdie Bybelstudie het my daaraan herinner dat God die dinge wat bedoel was om my skade aan te doen, in iets goeds kan verander. Hy is getrou.

Skrifaanhalings is uit die Bybel Nuwe Lewende Vertaling © 2006, 2011 Christelike Uitgewersmaatskappy en ook uit die Bybel in Afrikaans 1933/1953-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1933, 1953. Jy is kosbaar is oorspronklik in Engels uitgegee as I Am Found deur Moody Publishers.

Skaf Jy is kosbaar hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.